Totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte

Gestel jy weet jy gaan binnekort sterf en jy het die geleentheid om nog een, dalk twee, briewe vir jou geliefdes te skryf, wat sal jy vir hulle wil sê? Sal jy hartseer wees of dankie sê, sal jy skryf oor jou liefde vir hulle en weer oor die Here getuig? Gestel verder dat jy weet die pad vorentoe gaan moeiliker en moeiliker raak, sal jy dan nog iets wil byvoeg? Wat dit ook al is wat jy vir oulaas vir jou geliefdes wil skryf, moet hulle jou boodskap ernstig opneem?

Die Bybel bevat ten minste drie voorbeelde van sulke laaste briewe

In die doodsnikke van sy tweede Romeinse gevangenskap in 67-68 n.C. skryf die apostel vir die onbesnedenes as iemand wat weet dat hy binnekort gaan sterf (‘reeds as ʼn drankoffer uitgegiet’). Paulus het die goeie stryd gestry, die wedloop voltooi en die geloof behou (2 Tim 4:6-7), maar wat skryf hy onder inspirasie van die Heilige Gees vir mede-gelowiges? Hy skryf: elke Christen moet toeneem in godsaligheid (vgl. 1 Tim 3:16; 6:3-6, 11), in goeie werke (Tit 1:8, 16; 2:7, 14; 3:1, 8, 14) en hul bediening vervul al beteken dit om verdrukking te ly (2 Tim 4:5). Die dood is nie die einde nie, want vir Paulus is weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here vir hom in dié dag sal gee — en nie aan hom alleen nie, maar aan elkeen wat die Here se verskyning liefgehad het (2 Tim 4:8).

Die boek Openbaring is die laaste boek, sewe briewe ingesluit, in die Bybel

Aan die woord is God die Vader (Open 1:1), die Here Jesus Christus (1:11-13) en ook die Heilige Gees (vgl. 1:10) wat die apostel Johannes inspireer om te skryf. Johannes moet neerskryf wat hy sien en ook die Here Jesus Christus se sewe briewe aan sewe gemeentes neerpen. Al bevat Openbaring verskeie profesieë is Jesus beslis die hooffokus van hierdie laaste boek in die Bybel. Openbaring getuig van die heerlikheid van die Here Jesus Christus. Dit is Jesus wat sy engel gestuur het om hierdie dinge voor die gemeentes te betuig: ‘Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester’ (Open 22:16). Dit is Jesus wat gelowiges bemoedig om vas te hou wat ons het en te oorwin, om Jesus se werke tot die einde toe te bewaar — en vir dié wat dit doen, belowe die Seun van God dit: ‘En Ek sal hom die môrester gee’ (Open 2:28).

Sien u ʼn patroon in hierdie briewe raak?

Hier is ’n derde voorbeeld. Petrus weet dat die aflegging van sy tentwoning ophande is en in sy voorlaaste brief skryf hy oor die genade van God waarin gelowiges staan om lyding vir hul geloof in Christus te verdra (1 Pet 5:12). In die apostel vir die besnedenes se tweede en laaste brief waarsku hy dat die komende gevaar nie ʼn ooglopende aanval van die wêreld daarbuite gaan wees nie, maar dat gelowiges ʼn subtiele aanslag van valse leraars te wagte moet wees — selfs van binne die kerk af. ʼn Goeie titel vir 2 Petrus is ‘die gelowige se konflik in die laaste dae’ en die tema van die brief is dat gelowiges moet groei in die genade en kennis van onse Here Jesus Christus te midde van toenemende afvalligheid (vgl. 1 Pet 1:3; 5:12; 2 Pet 1:3-11; 3:18). Al is sy tyd kort, wek Petrus gelowiges deur ‘herinnering’ op (2 Pet 1:12-13; 3:1-2) en gebruik die woorde ‘kennis’ of om te ‘ken’ 16 keer in sy laaste brief — maar kennis van wie of wat? Hierdie kennis van gelowiges is nie net ʼn intellektuele begrip van waarheid nie (dit sluit dit wel in), maar die ‘kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug’ (2 Pet 1:3; vgl. 1:4-8; Joh 17:3; 2 Joh 2:25).

Wat sou u sê is die inhoud en patroon in die laaste briewe van Paulus, Petrus en in die boek Openbaring?

Skrifgedeeltes

Lees uit Genesis 32:22-32 voordat daar op 2 Petrus 1:16-21 gefokus word.

Genesis 32:22-32

22En hy het dieselfde nag opgestaan en sy twee vroue en sy twee slavinne en sy elf kinders geneem en deur die drif van die Jabbok getrek: 23hy het hulle geneem en hulle deur die rivier laat trek, ook laat deurtrek wat aan hom behoort het. 24Maar Jakob het alleen agtergebly, en ʼn Man het met hom geworstel tot dagbreek. 25En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom. 26Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën. 27En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob. 28Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin. 29Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën. 30Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered. 31En die son het vir hom opgegaan net toe hy Pniël verby was; en hy was mank aan sy heup. 32Daarom eet die kinders van Israel die heupsening, wat aan die heupbeen is, tot vandag toe nie, omdat Hy Jakob op die heupbeen, aan die heupsening, geslaan het.

2 Petrus 1:16-21

16Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit; 17want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ʼn welbehae het. 18En hierdie stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was. 19En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; 20terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ʼn saak van eie uitlegging is nie; 21want geen profesie is ooit deur die wil van ʼn mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.

Behandeling van 2 Petrus 1:16-21

Valse leraars vertel nouliks meer as ‘kunstig verdigte fabels’ (v. 16). Miskien is dit stories, ervarings of oulike verhale, maar wat hierdie fabels ook al is, dit het geen goddelike krag om ons enigiets te skenk wat tot die lewe in die Here en tot godsvrug kan dien nie (vgl. 2 Pet 1:3). In teenstelling hiermee getuig Petrus van die groot krag en koms van onse Here Jesus Christus (v. 17). Petrus was op die heilige berg van verheerliking (ek glo dit is die berg Hermon) toe God die Vader van die Here Jesus getuig het: ‘Dit is my geliefde Seun in wie Ek ʼn welbehae het. Luister na Hom!’ (Mat 17:5; vgl. 2 Pet 1:17). Petrus beklemtoon die eer, heerlikheid en majesteit van die Here Jesus Christus (vv. 16-17). Dit is hoe die Here Jesus Christus sal lyk wanneer Hy die koninkryk van God op die aarde gaan vestig en daaroor gaan regeer. Die Seun van die Mens sal met dieselfde groot krag en heerlikheid na die aarde toe kom as wat Hy by die Vader gehad het voordat die wêreld was (vgl. Mat 24:30b; Joh 17:5).

Na die verheerliking op die berg het die Here Jesus weer sy heerlikheid versluier en 40 dae na sy dood en opstanding het Jesus na die hemel opgevaar. Wat gelowiges nou reeds het is Christus in ons, die hoop van die heerlikheid (Kol 1:27) asook die inwonende Heilige Gees. In Sy goddelikheid is Christus alomteenwoordig en ín gelowiges, maar in sy menslikheid is hy in die hemel aan die regterhand van die Vader. Wat gelowiges óók het is God se algemene openbaring in die skepping en Sy spesiale openbaring in die Skrif. Dit is nie op sy ervaring op die berg waarop Petrus nou die aandag fokus nie, maar op die profetiese woord wat baie vas is.

Dit is op Bybelse profesie, op die profetiese woord, waarop ons ag moet gee soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn. Wat is die analogie tussen die profetiese woord en ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn? As Johannes die Doper ʼn lamp was wat gebrand en geskyn het en waarin mense hulle verbly het in die lig (vgl. Joh 5:35), hoeveel te meer moet ons ons verbly in die lig van die verheerlikte Here Jesus Christus waarvan die profetiese woord getuig? Wat is die hoofsaak van profesie? Die getuienis van Jesus is die gees van profesie (Open 19:10). God se Woord is ʼn lamp vir my voet en ʼn lig vir my pad (vgl. Ps 119:105) en so skyn die profetiese woord in die Bybel want dit getuig van die Here Jesus Christus se heerlikheid.

Sonder twyfel is die wêreld-sisteem onder Satan ʼn donker plek en word al die afgelope 2 000 jaar net donkerder. Die nag kom wanneer niemand kan werk nie (vgl. Joh 9:4b). Sonder twyfel raak sommige van die geloof afvallig en hang verleidende geeste en leringe van duiwels aan — presies soos wat die Heilige Gees uitdruklik in een van Paulus se laaste briewe gesê het in die laaste tye sal gebeur (vgl. 1 Tim 4:1-5). Dit word nag want regerings word beheer deur skurke; nasies laat wetteloosheid toe en meer mense raak die pad byster. As dit dan al so donker is, tot wanneer moet ons op God se profetiese woord ag gee soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn?

ʼn Terugflits na Jakob se worsteling

God het die verbond met Abraham aan Jakob bevestig voordat Jakob die land verlaat het (Genesis 28:13-15), maar Jakob wou God se volle rus en seën op sy eie stoom verkry. Jakob moes eers alleen deur die nag worstel voordat hy seën ontvang het, voordat die son vir hom opgegaan het. Jakob het nie vir God in ʼn worsteling in die nag verslaan nie — God het immers Jakob se heupbeen uit lit geslaan — maar Jakob het paradoksaal oorwin omdat hy hom aan God se wil ondergeskik gestel het. En toe, vreemd genoeg, vra Jakob: Maak tog U Naam bekend! (Gen 32:29). Die worsteling het tot dagbreek geduur en die Man met wie geworstel is, die tweede Persoon van die Drie-eenheid wat Jakob van aangesig tot aangesig gesien het (Gen 32:24, 30), het gesê: ‘Laat My gaan, want die dag het gebreek’. Net soos wat Jakob — wie se naam verander is en wie die vader van die twaalf stamme van Israel is — dwarsdeur die nag met God geworstel het, net so sal Israel deur die nag van die Verdrukkingstydperk gaan totdat hulle erken en uitroep: ‘Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die HERE!’ (Mat 23:39; vgl. Hos 5:15-6:1; Sag 12:10). Vir daardie Jode wat die Naam vrees sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en hulle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal (vgl. Mal 4:2) — want die Dag van die HERE is nie net ʼn tyd van verdrukking naby die einde van die nag nie, maar ook van seën in die dag van die Messiaanse koninkryk.

Die môrester

Die Kerk is egter nie die nasie Israel nie, maar bestaan uit gelowiges uit alle nasies, beide Jode en nie-Jode. Petrus skryf dat ons op die profetiese woord moet ag gee soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte. Fisies verskyn die môrester as die nag al byna verby is, kort vóórdat die nuwe dag aanbreek. Hoe moet hierdie simboliese taal verstaan word? Die nag is al byna 2 000 jaar lank en die aarde word ʼn donkerder plek. Kort voordat die dag aanbreek sal die Kerk weggeraap word om vir altyd by haar Here te wees. Soos genoem, die Dag van die HERE bestaan uit beide die 7-jaar verdrukkingstydperk en die seën van die Messiaanse koninkryk wat kort ná die Here se weerkoms aarde toe sal begin.

Wat die môrester betref, Jesus sê in Openbaring 22:16: ‘Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester’. Hierdie simboliese verwysing na Jesus as die wortel en die geslag van Dawid (vgl. Jes 11:1) beklemtoon nie net dat Jesus Christus alle verbondsbeloftes en profesieë aangaande die huis van Dawid sal vervul nie, maar ook dat Hy in die herstelde Dawidiese koninkryk as die blink môrester die helderste sal skyn, want Hy is die God-mens wat as Koning sal heers. Die Koning se volgelinge sal ook skyn: ‘En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos’ (Daniël 12:3). Die Seun van die Mens het ook hierna in Matteus 13:43 verwys: ‘Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.’

Wat van Jesus se belofte dat ‘Ek sal hom die môrester gee’ (Openbaring 2:28)? Gelowiges het reeds Christus in ons, Hy is die hoop van die heerlikheid (Kol 1:27), so die môrester is óf gesag in die Messiaanse koninkryk óf ʼn groter intimiteit met die Here Jesus.

Praktiese toepassing

Wat was die konteks toe Paulus en Petrus hulle laaste briewe geskryf het? In daardie tye moes Romeinse keisers as gode aanbid word; een van die slegste keisers, Nero, het in Junie 68 n.C. gesterf. Beide Paulus en Petrus het ongeveer in die jare 65-68 n.C. gesterf. Reeds tóé was dit al donker in die wêreld.

Noudat ons al bogenoemde weet, en met verwysing na veral die briewe van Petrus, hoe sal ons vandag en môre leef?

  1. Negatief beskou: ontvlug die verdorwenheid wat deur begeerlikheid in die wêreld is en voeg met alle ywer by ons geloof ook nog deug, kennis, selfbeheersing, lydsaamheid, godsvrug, broederliefde en naasteliefde (2 Pet 1:4-7; vgl. Tit 2:11-14).
  2. Dra vrug vir die Here Jesus en moenie die reiniging van ons vorige sondes vergeet nie (vgl. 2 Pet 1:8-9).
  3. Wees bereid om lyding te verduur vir jou geloof in Christus (1 Pet 5:12).
  4. Groei in heiligmaking, staan in Christus en moenie struikel nie (2 Pet 1:10).
  5. Beywer jou om vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind te mag word in vrede (2 Pet 3:14).
  6. Spotters bespot die belofte van die Here se wederkoms, maar moenie die fabels en verderflikhede van valse leraars volg nie (2 Pet 2; 3:3-4).
  7. Neem toe in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus — aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid (2 Pet 3:18).

Slot

Hou die oog gevestig op Jesus wat in heerlikheid ons gaan kom haal (Joh 14:1-3; 1 Kor 15:51-52; 1 Thes 4:13-18). Ons moet ag slaan op die profetiese woord want dit is soos ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte. Dan sal ons die Here van aangesig tot aangesig sien en altyd by Hom wees (2 Pet 1:19; vgl. Gen 32:30; 1 Thes 4:18).

————————-

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']