Númeri

Die vyfde woord in die Hebreeuse teks van die vierde boek van die Pentateug is bemidbār, wat ‘in die woestyn’ beteken. Die Afrikaanse titel, Númeri (‘boek van die getalle’), verwys na die twee volkstellings in hierdie boek (hoofstukke 1-4 en 26) en kan met die Latynse naam van die boek vergelyk word, naamlik numero/numerus. Die menslike skrywer wat deur God geïnspireer is om die teks van Númeri te skryf, is Moses (Númeri 1:1; 33:2). Dit blyk dat Moses Númeri teen die einde van sy lewe geskryf het, in omtrent 1406 vC, oos van die Jordaan op die Vlakte van Moab (Constable 2016:1). Teen daardie tyd was Israel reeds amper 40 jaar lank in die woestyn (vergelyk Númeri 1:1 en Deuteronómium 1:3) en baie Israeliete wat die tog begin het, het gesterf as gevolg van ongehoorsaamheid aan die HERE.

. . .

Die struktuur van Númeri

Ongeag of die uitgangspunt geografies of chronologies is, stem omtrent almal saam dat daar ʼn strukturele verandering plaasvind tussen Númeri 10:10 en 10:11, omdat dit hier is waar Israel van die berg Sinai af wegtrek. Condren (2013:450) stel die volgende struktuur voor vir die eerste afdeling van Númeri, d.i. Númeri 1:1-10:10:

A Nie-Levitiese Stamme rondom die tabernakel georganiseer 1:1-2:34
B Leviete georganiseer vir diens in die tabernakel 3:14-4:49
C Gemeenskapsvoorskrifte 5:1-6:27
A’ Nie-Levitiese Stamme bring offers na die tabernakel 7:1-89
B’ Leviete ingehuldig vir tabernakeldiens 8:1-26
C’ Gemeenskapsvoorskrifte 9:1-10:10

Hoe lyk die res van Númeri se struktuur? Olson (1997) is bekend vir sy siening dat die twee volkstellings strukturele merkers is wat die boek verdeel tussen die eerste, ouer geslag wat onder Moses gerebelleer het en toe in die woestyn gesterf het, en die tweede, jonger geslag wat onder Josua sou voortgaan om die Beloofde Land in te gaan. Dit lei tot twee hoofafdelings, naamlik Númeri hoofstukke 1-25 en dan Númeri 26-36. As dit korrek is, kan Númeri soos volg ingedeel word (vgl. Merrill, Rooker & Grisanti 2011:235-236; Constable 2016:4):

Afdeling 1: Ouer geslag (hoofstukke 1-25)
Voorbereidings om die Beloofde Land in te gaan 1:1-10:10
Verskeie opstande, straf van ʼn ongelowige geslag 10:11-25
Afdeling 2: Jonger geslag (hoofstukke 26-36)
Voorbereidings om die Beloofde Land in te gaan 26-32
Verskeie waarskuwings en bemoedigings 33-36

Die doel en hooftemas van Númeri

Bogenoemde struktuur wys reeds op die hooftemas van Númeri, naamlik geloof en gehoorsaamheid. Nadat God Egipte met tien plae getref het, het God Jakob se nakomelinge uit Egipte gebring, deur die Rooisee vir hulle ʼn pad gemaak en hulle tot by die berg Sinai gebring. Daar het God met die volk Israel ʼn verbond aangegaan. In die boek Levítikus het God verdere opdragte vir Israel gegee oor hoe om tot God te nader en Hom te aanbid. Wat nou nodig is, wanneer die volk voorberei om die land in te gaan wat aan Abraham, Isak en Jakob belowe is, is geloof en gehoorsaamheid.

Tragies toon Númeri verskeie opstande ten spyte van God se getrouheid. Eers was daar ʼn algemene opstand (hoofstuk 11), toe het Aäron en Mirjam teen Moses in opstand gekom (hoofstuk 12) en toe het die opstand by Kades-Barnéa gevolg toe net twee verkenners (Josua en Kaleb) ʼn gunstige verslag gebring en God vertrou het om Israel die Beloofde Land in te lei (hoofstukke 13-14). Later het verdere opstande gevolg, byvoorbeeld dié van Korag, Datan en Abíram (hoofstuk 16). Die ouer geslag het gesondig, wat gelei het tot God se oordeel: hulle sal die Beloofde Land nie ingaan nie, en al die Israeliete ouer as 20 jaar het gedurende die volgende (ongeveer) 38 jaar in die woestyn gesterf – met uitsondering van Josua, Kaleb en hul families.

Eindig Númeri egter op so ʼn hartseer noot? Inteendeel, soos Baxter (aangehaal in Constable 2016:7-8) opmerk, moet daar nie net gelet word op God se gestrengheid nie, maar ook op sy goedertierenheid (vgl. Romeine 11:22):

In Númeri sien ons God se gestrengheid, in die ou geslag wat in die woestyn gesterf en nooit Kanaän ingegaan het nie. Ons sien God se goedertierenheid, in die nuwe geslag wat beskerm en bewaar is en vir wie daar voorsien is, totdat Kanaän ingeneem is. In die een geval sien ons die skrikwekkende onbuigsaamheid van die Goddelike oordeel. In die ander geval sien ons die onfeilbare getrouheid van God in sy beloftes, sy doelwit, sy volk.

God het Israel nooit verwerp nie en Hy sal dit nooit doen nie. So te sê die hele geslag wat uit Egipte gekom het, het in die woestyn gesterf, maar God het ʼn nuwe begin gemaak met die jonger geslag, hulle beskerm, bewaar, en vir hulle voorsien totdat hulle die Beloofde Land ingeneem het.

Toepassing

Missler (2002:60) sê tereg dat elkeen van die gebeurtenisse in Númeri vir ons ʼn les inhou. Dit wat met beide die Israelitiese geslagte in die woestyn gebeur het, is geskryf as ʼn voorbeeld, ʼn tipe, vir ons (vgl. 1 Korinthiërs 10). Ons moet op hierdie waarskuwings, afsonderlik en gesamentlik, ag slaan. Waarvan was die manna ʼn tipe (Númeri 11:6; vgl. ook Johannes 6:32-35)? Hoekom het God vir Moses opdrag gegee om ʼn koperslang op ʼn paal te sit as teenmiddel vir slangbyt (Númeri 21:1-35) – ʼn tipologiese beeld waarvan die vervulling gelees word in die heel bekendste verse in die Bybel (Johannes 3:14-16)? Wat kan ons leer uit die pragtige voorbeeld van geloof wat die dogters van Selófhad getoon het (Númeri 27, 36; vgl. ook Ulrich 1998; Claassens 2013)? As ons nie ag slaan op hierdie lesse nie, sal ons nie staan nie, maar val. Want as Moses nie die Beloofde Land ingegaan het nie omdat hy die rots geslaan het in plaas van om daarmee te praat soos wat God hom beveel het – en daardeur die tipologiese lesse aangaande Christus se eerste en tweede komste verbreek het – moet óns daarteen waak dat ons nie deur ʼn ongelowige hart oorkom word nie. Maar God is nie net streng nie, Hy is ook goed. Inderdaad leer Númeri ons op so baie maniere dat die God van Israel genadig en lankmoedig, getrou om sy beloftes na te kom, liefdevol, beskermend, heilig en – kortom – volmaak in karakter is.

———————————

Bronne geraadpleeg:

Claassens, L.J.M., 2013, ‘Give us a portion among our father’s brothers’: The daughters of Zelophehad, land, and the quest for human dignity’, Journal for the Study of the Old Testament 37(3), 319-337.

Coakley, J., 2014, ‘Numbers’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 215-262, Moody Publishers, Chicago.

Condren, J. C., 2013, ‘Is the account of the organization of the camp devoid of organization?: A proposal for the literary structure of Numbers 1:1-10:10’, Journal for the Study of the Old Testament 37(4), 423-452.

Constable, T.L., 2016, Notes on Numbers.

Merrill, E.H., Rooker, M.F. & Grisanti, M.A., 2011, The World and the Word, B&H Publishing Group, Nashville.

Missler, C., 2002, Learn the Bible in 24 hours, Thomas Nelson, Nashville.

Olson, D.T., 1997, ‘Negotiating Boundaries: The Old and New Generations and the Theology of Numbers’, Interpretation 51(3), 229-240.

Ulrich, D.R., 1998, ‘The framing function of the narratives about Zelophehad’s daughters’, Journal of the Evangelical Theological Society 41(4), 529-538.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']