Obádja

Obádja is die kortste boek in die Ou Testament. Selfs die inleiding is kort – “Die gesig van Obádja” – met geen melding van die naam van die profeet se stam, waar hy gewoon het, of wie se seun hy was nie. Die naam Obádja beteken die ‘dienskneg van die HERE’. Miskien is dit al wat ons oor hom hoef te weet, want ʼn dienskneg wil God se wil doen en trek nie graag aandag na hom – of haarself nie. Wat die boek Obádja ʼn uitdaging maak, is nie net om die boek te dateer nie, maar ook om vas te stel wanneer die profesieë daarvan vervul is of nog vervul sal word.

. . .

Tema

Die openingsverse van die boek belig die tema: ʼn doemprofesie teen Edom (vv. 1-4; Feinberg 2003:125). Die land Edom is waar Jakob se tweelingbroer, Esau, se afstammelinge woon. Hierdie land kom ooreen met die suidelike deel van die hedendaagse Jordanië waar indrukwekkende rooikleurige berge aangetref word. Hoog op in die klowe van hierdie rotsgebergtes, het Esau se afstammelinge stede gebou soos Sela, Teman, Dedan en Bosra (ook bekend as Petra). Wanneer die profesieë van Obádja vervul is, sal daar geen oorblyfsel van die huis van Esau wees nie (v. 18).

Vervulling van Obádja se profesieë

Wanneer sal die profesieë wat in Obádja beskryf word in vervulling gaan? Party mense meen dat die gebeurtenisse wat in Obádja beskryf word, vervul is kort nadat die Suidelike Koninkryk (Juda) in ballingskap na Babel geneem is. Nog ʼn mening is dat hierdie gebeurtenisse in die toekoms tydens die Verdrukkingstydperk vervul sal word. Hoe weet ʼn mens watter siening oor hierdie profesieë die regte een is?

Die HERE sê dat, wanneer al die profesieë van Obádja vervul is, daar “geen oorblyfsel vir die huis van Esau sal wees nie” (v. 18), en Esau sal so geplunder wees dat daar niks van sy besittings sal oorbly nie (vv. 5-6). Aangesien koning Herodes ʼn afstammeling van Esau was (in die Grieks: ʼn Iduméër), is hierdie profesieë nie vervul voor die geboorte van Christus nie. As daar vandag nog net een afstammeling van Esau in die wêreld is, het Obádja se profesieë nog nie in vervulling gegaan nie, want Obádja 18 sê duidelik dat daar geen oorblyfsel vir die huis van Esau sal wees nie. Die profesieë van Obádja sal dus eers vervul word in die komende sewe jaar Verdrukkingstydperk (Fruchtenbaum n.d.:9; Hassler 2016:246-254). Gelowiges wat die Verdrukkingstydperk fisies gaan oorleef sal met hul fisiese liggame in die Messiaanse koninkryk ingaan en die aarde herbevolk tydens die millennium (vgl. v. 21). Hoewel daar afstammelinge van Esau kan wees wat in die geskiedenis gelowiges was, sal nie een só ʼn gelowige die Verdrukkingstydperk fisies oorleef en die koninkryk ingaan met hul fisiese liggame nie. Esau se nageslag sal dus nie voortgaan in die Messiaanse koninkryk nie.

Vir ʼn siening wat in besonderhede redeneer dat die profesieë van Obádja in die toekoms vervul sal word tydens die Dag van die HERE (vgl. v. 15), sien Hassler (2016).

Datum

Dit is een ding om te sê dat hierdie profesieë in die eskatologiese toekoms vervul sal word; dit is ʼn ander ding om te bepaal wanneer Obádja geskryf is. Ons neig na die vroeër datum van omtrent 845 vC toe Edom bystand verleen het met die omverwerping van Jerusalem tydens die regering van koning Joram (2 Konings 8:20-22; Constable 2017:4; McCord 2014:1357). Goeie verklaarders, egter, huldig die mening dat Obádja geskryf is kort voor die Babiloniese ballingskap plaasgevind het, d.i. kort na 586 vC (Rooker 2011:440). Ongeag die presiese datum wanneer Obádja geskryf is, verander dit nie die vervulling van die profesieë teen Edom nie, want die HERE het gespreek.

Doel

Die doel van Obádja is tweeledig: om Edom te waarsku omtrent sy toekomstige verdoemenis (vv. 1-4), maar ook om die oorblyfsel van Israel te bemoedig dat die Messiaanse koninkryk gevestig sal word (v. 21). Dit is egter nie net Edom wat gewaarsku word nie, maar alle nasies word gewaarsku, want “soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom” (v. 15). Nasies wat teen Jerusalem optrek sal nie God se oordeel ontvlug nie (v. 16; vgl. Sagaría 12:2-3) – iets wat so baie hedendaagse nasies skynbaar vergeet. Soos verklaar ooreenkomstig die Abrahamitiese verbond, sal jy, as jy die Joodse afstammelinge van Abraham vervloek, ook vervloek word (Génesis 12:3). Dit is interessant om die redes vir God se oordeel van Edom (en al die nasies wat soos Edom optree) in Obádja 1-14 te vergelyk met die redes vir God se oordeel van die nasies in Matthéüs 25:31-46.

Obádja se struktuur

Ons hou van ʼn effens aangepaste weergawe van die chiastiese struktuur wat Dorsey (1999:289) geïdentifiseer het:

A Vermetele Edom sal deur die nasies verslaan word vv. 1-4
B Edom sal geplunder word vv. 5-6
    C Edom se bevolking sal uitgeroei word vv. 7-9
      D Aanklag teen Edom vv. 10-14
    C’ Edom & die nasies sal geoordeel word vv. 15-16
B’ Israel sal sy besittings herwin en Edom plunder vv. 17-18
A’ Vernederde Israel sal seëvier oor die omringende nasies vv. 19-21

Slotboodskap

Die probleem en verdoemenis van Edom is dieselfde probleem wat elkeen van ons het: trots (v. 3). As God ons oordeel op grond van wat ons gedoen het (v. 15), sal ons almal dit verdien om in die poel van vuur gegooi te word. God het vir die mensdom een weg van verlossing gebied en dit is om te vertrou en te glo in die Here Jesus Christus se volmaakte bloedoffer aan die kruis (vgl. Johannes 14:6). ʼn Regverdige God kan ons dan oordeel nie op grond van ons sondige natuur en vleeslike trots nie, maar ons geregtig verklaar op grond van die volbragte werk van Jesus Christus, wat gesterf het, begrawe is en op die derde dag opgestaan het. Die toets vir nasies is hoe hulle Israel behandel en, soos Obádja aantoon (vv. 10-14), het Edom as ʼn nasie klaar die toets gefaal en sal dienooreenkomstig as ʼn nasie geoordeel word (Génesis 12:3; Obádja 1-21; Sagaría 12:2-3; vgl. Matthéüs 25:31-46).

———————————

Bronne:

Constable, T.L., 2017, Notes on Obadiah, 2017 edition.

Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A Commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.

McCord, W., 2014, ‘Obadiah’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 1357-1360, Moody Publishers, Chicago.

Fruchtenbaum, A.G., n.d., The Book of Obadiah, Ariel Ministries, San Antonio.

Hassler, M.A., 2016, ‘The setting of Obadiah: When does the oracle concerning Edom transpire?’, Journal of the Evangelical Theological Society 59(2), 241-254.

Rooker, M.F., 2011, ‘The Book of Obadiah’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 439-444, B&H Publishing Group, Nashville.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']