’n Ondersoek na die martelare van Openbaring 6-20

Baie mense glo nie dat Christus vir ’n duisend jaar op aarde gaan regeer voordat die ewige bestel gaan aanbreek nie. Openbaring 20 se ses verwysings na “duisend jaar” beteken dan net ‘n “simboliese tyd” wat basies die hele interadventtydperk dek. Gegewe hierdie siening impliseer twee van die drie eskatologiese sienswyses (naamlik amillennialisme en postmillennialisme) onteenseglik dat Christen-martelare tydens die hele simboliese duisend jaar (i.e. die interadventtydperk) vermoor word, ʼn geestelike eerste opstanding ervaar, en tydens die interadventtydperk geestelik saam met Christus regeer. Is dit egter so?

Een manier om bogenoemde siening te toets, is om te vra: Wanneer sterf die martelare waarna Openbaring 6-20 verwys? Wie vermoor hierdie martelare – en wanneer gaan die martelare se moordenaars op aarde leef? In meegaande artikel word die “aardbewoners” (of “bewoners van die aarde”) geïdentifiseer om te bepaal wanneer hulle die bloed van sekere martelare gaan stort (vgl. Op 3:10; 6:9–11). Dit gaan tydens die “uur van beproewing” plaasvind. Verder, omdat sommige martelare uit die “groot verdrukking” gaan kom, word hierdie tydperk ook nader ontleed (Op 7:14). Daarna word die tydperk wanneer gelowiges onthoof gaan word – spesifiek omdat hulle nie die dier en sy beeld wil aanbid of die merk van die dier wil neem nie – ondersoek (Op 20:4).

Die martelare van Openbaring 6-20 gaan tydens die (eskatologiese) uur van beproewing sterf, nie regdeur die simboliese duisend jaar nie. Daar is wel talle martelare vir Christus tydens die interadventtydperk, maar hulle word nie om dieselfde redes vermoor nie; hulle sterf byvoorbeeld nie omdat hulle die merk van die dier weier of die aanbidding van die dier en sy beeld verwerp nie. Die martelare waarna Openbaring 6–20 verwys sal dus nie regdeur die hele interadventtydperk doodgemaak word nie, maar slegs tydens die eskatologiese uur van beproewing, welke tydperk die groot verdrukking insluit.

Die aardbewoners sal tydens die uur van beproewing in aanraking kom met die twee getuies, die dier uit die see, die dier uit die aarde, die groot prostituut, asook die beeld van die dier. Indien my argument korrek is, is dit anachronisties om verwysings na hierdie rolspelers buite die uur van beproewing te soek. Byvoorbeeld, ongeag wie of wat die twee getuies is (met wie die aardbewoners kontak gaan hê), hulle sal nie regdeur die simboliese 1000 jaar op die toneel wees nie, maar slegs gedurende die eerste deel van die uur van beproewing. Net so sal die vals profeet die aanbidding van die dier verpligtend maak en met die dood afdwing, maar slegs tydens die groot verdrukking en nie regdeur die interadventtydperk nie. Hierdie argument weerlê m.i. amillennialiste en postmillennialiste se siening van die “duisend jaar”. Christus gaan op ’n stadium na die aarde terugkeer, dan vir ’n duisend jaar op aarde regeer, waarna sy koninkryk in die ewige bestel op die nuwe aarde sal voortgaan.

Om die artikel (gratis) te lees, kliek op die skakel (en wag ’n paar sekondes terwyl die pdf by die teologiese tydskrif In die Skriflig / In Luce Verbi  se webwerf afgelaai word): https://indieskriflig.org.za/index.php/skriflig/article/view/3243/9135

Foto-erkenning: David Brown: https://www.pexels.com/photo/abundance-of-gravestones-18493484/

error: Content is protected !!