Onsterflikheid

Wat is ‘die dood’ vanuit ʼn Bybelse perspektief en wat word met ‘onsterflikheid’ bedoel? Watter Bybelse bewyse is daar wat van onsterflikheid getuig? Watter nut bied hierdie leer van onsterflikheid vir gelowiges?

. . .

Omskrywing van terminologie

Onsterflikheid kan gedefinieer word as die ‘ewige, volgehoue, en bewustelike bestaan van die siel ná die dood van die liggaam’ (Fruchtenbaum 2005:3). Onsterflikheid beteken ‘volgehoue bewustheid’. Bybels gesproke verwys die dood na ʼn skeiding. Wanneer ʼn mens fisies sterf, vind daar skeiding plaas tussen die stoflike deel van daardie mens en die nie-stoflike deel (siel/gees) van daardie mens.

Bewyse van onsterflikheid

Wat is die Bybelse bewys dat die leer van onsterflikheid waar is? 17 spesifieke bewyse kan genoem word.

  1. Die bewussyn van die siele in die doderyk (Hebreeus: sheol): Dit word bewys in Jesaja 14:9-11 waar die koning van Babel die hel gedeelte van die doderyk binnegaan en die siele wat hom soontoe vooruit gegaan het meteens in verbasing opstaan toe hulle hierdie eertydse koning die gebied van die hel sien betree. Hulle kon vir hom vrae vra en met hom gesprek voer. Soortgelyk, in Lukas 16:19-31, het die ryk man ook na die hel gedeelte van die doderyk gegaan toe hy gesterf het; maar Lasarus het na die gedeelte van die doderyk gegaan waarheen die nie-stoflike dele van Ou-Testamentiese gelowiges gegaan het, naamlik die boesem van Abraham (of die paradys. In ʼn volgende artikel sal ons sien dat Christus, toe Hy opgevaar het hemel toe, die paradys saam met Hom geneem het, dit is, die nie-stoflike dele van Ou-Testamentiese gelowiges is saam met Christus hemel toe geneem). Let weer daarop dat al drie persone (ryk man, Lasarus, Abraham) by hul bewussyn is en gesprek kan voer.
  2. God is die God van die lewendes: Hoewel Abraham, Isak en Jakob fisies gesterf het, bevestig Jesus in die teenswoordige tyd dat God nie ʼn God van dooies is nie, maar van lewendes (Matthéüs 22:29-32). Die punt is dat God ʼn voortgaande, lewende verhouding het met die patriarge, wat nog ʼn rede is hoekom God nie hul liggame dood sal laat bly nie. Op ʼn sekere stadium sal die liggame van alle Ou-Testamentiese heiliges uit die dood opgewek word maar totdat dit gebeur, het God ʼn verhouding met die bewuste, nie-stoflike dele van Ou-Testamentiese heiliges.
  3. By sy volksgenote versamel: Hierdie uitdrukking kom in Génesis voor (25:8, 17; 35:29a; 49:29, 33) waar dit genoem word dat iemand gesterf het en “by sy volksgenote versamel” is. Dit word gesê dat die afgestorwe persoon aangesluit het by ʼn groep wat hom of haar vooruit gegaan het. Daar is ʼn mening dat hierdie frase niks meer beteken nie as dat die persoon in die familiebegraafplaas ter ruste gelê is, maar dit kan nie waar wees van Abraham nie (vgl. Génesis 25:8), want sy familie of volksgenote het in Haran agtergebly.
  4. Henog se volgehoue bestaan: Nog ʼn bewys vir die leer van onsterflikheid is die volgehoue bestaan van Henog wat weggeneem is om elders aan te hou bestaan (Génesis 5:24; Hebreërs 11:5).
  5. Na die vaders gegaan: Soortgelyk aan ʼn vorige bewys vir die leer van onsterflikheid (sien punt 3 bo), het die afgestorwene met sy of haar dood by die vaders aangesluit. In Génesis 15:15 (vgl. 47:30) lees ons, “… jy sal na jou vaders gaan in vrede”.
  6. Job se sekerheid: Volgens Job 14:14 en 19:25-26 is dit baie duidelik dat Job verwag het om God te sien nadat sy liggaam fisies gesterf het, want hy sê, “… nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou” (v. 26).
  7. Die leer van die opstanding: Die daad van opwekking uit die dood impliseer in wese onsterflikheid, want hoekom anders die moeite doen om die dooies op te wek, of hulle nou regverdig of onregverdig is? Opstanding uit die dood word vermeld in Jesaja 26:19; Daniël 12:2-3; Hoséa 13:14; Johannes 5:25-29 en Openbaring 20:4-6, 11-15.
  8. Die bewustheid van die siel: Dit word gesê dat die nie-stoflike deel van ʼn mens wat fisies gesterf het bewussyn het en, as daardie mens ʼn gelowige was, dit by God is. Dit word geleer deur Dawid in Psalm 17:15 en ook deur Asaf in Psalm 73:23-25. Sien ook Prediker 12:7; Lukas 23:43; Johannes 14:3; 2 Korinthiërs 5:1-8; en Filippense 1:22-24.
  9. Vereniging met die dooies: Dawid het verwag om ná sy eie dood met sy gestorwe seun verenig te word en om bewustelik by sy gestorwe seun te wees (2 Samuel 12:23).
  10. Ewigheid in die hart: God het die ewigheid in die mensehart gelê (Prediker 3:11). Die hart is een van die fasette van die nie-stoflike deel van ʼn mens. Die element van onsterflikheid is dus inbegrepe in die nie-stoflike deel van elke mens.
  11. Samuel se verskyning aan Saul: Hierdie eienaardige insident toon dat Samuel by sy volle bewussyn was ná sy fisiese dood (1 Samuel 28:8-19).
  12. Deur die dood is die lewe: In Johannes 11:25-26 sê Jesus van Lasarus dat hy “sal lewe al sterwe hy ook” (NAV). Jesus het die teenwoordige tyd gebruik, wat aandui dat hoewel Lasarus nou fisies dood is, hy ook nou lewe. Lasarus was definitief fisies dood, maar sy nie-stoflike deel lewe en het bewussyn.
  13. Die belofte van die toekomstige heerlikheid: In Romeine 8:18 word toekomstige heerlikheid aan gelowiges belowe. Die feit dat hierdie belofte aan gelowiges gegee is, impliseer onsterflikheid omdat verheerliking in wese volgehoue ewige bestaan inhou.
  14. Die belofte van ʼn toekomstige lewe: In 1 Korinthiërs 15:19 word dit verklaar dat die gelowige “die ellendigste van alle mense” sou wees as daar nie ʼn toekomstige lewe was nie. Hierdie hoofstuk beskryf egter in oorvloedige besonderhede dat gelowiges verheerlikte liggame sal ontvang en ons word dus ʼn toekomstige lewe belowe.
  15. Die siel word vernuwe: Hoewel ons liggame vergaan, word die siele van gelowiges “dag ná dag vernuwe” (2 Korinthiërs 4:16-18). Die rede vir die vernuwing van gelowiges se siele is die onsterflikheid van die siel.
  16. Onsterflikheid deur die evangelie: In 2 Timótheüs 1:10 verklaar Paulus dat beide “die lewe en die onverderflikheid [onverganklikheid, onsterflikheid] aan die lig gebring [word] deur die evangelie”. Een van die redes vir die evangelie is die redding van die siel in die volgehoue bestaan daarvan.
  17. Toekomstige loon en straf: Die feit dat daar toekomstige loon en straf sal wees, impliseer onsterflikheid. Dié dinge sou ná die dood betekenisloos gewees het tensy onsterflikheid die waarheid is. Hierdie feit word gestel in Matthéüs 11:20-24; 13:49-50; 25:34, 41, 46; Romeine 2:5-11; en 2 Timótheüs 4:7-8.

Die voordele van die leer van onsterflikheid

Die leer van onsterflikheid verleen aan gelowiges drie voordele. Een, ons het die hoop op toekomsvreugde (Filippense 1:23-24). Twee, ons besef dat ons in hierdie wêreld net tydelike burgers is omdat ons burgerskap in die hemel is (Filippense 3:20). Wanneer beproewings en vervolging oor ons kom, hoef ons nie moedverlore te wees nie, want ons weet dit is net tydelik. Drie, hierdie leer van onsterflikheid motiveer ons om ʼn Godvrugtige lewe te lei.

———————————

ʼn Volledige weerlegging van vals leringe omtrent onsterflikheid – naamlik die vals leringe van (1) die einde van bestaan, (2) sielsverhuising of reïnkarnasie, (3) voorwaardelike onsterflikheid en (4) uitwissing – kan gelees word in dr. Fruchtenbaum se artikel, ‘Onsterflikheid’ (2005:7-13).

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']