Oorsig van die Nuwe Testament

Watter titel sou u vir die Evangelie van Matteus of vir 2 Petrus gee? As u gevra word om byvoorbeeld Kolossense op te som, wat sou u skryf? Waarom en wanneer is die boeke van die Nuwe Testament geskryf? Wat is kenmerkend van 2 Korintiërs of, gesien vanuit ʼn ander hoek, as ons nie [voeg die naam van u gunsteling Nuwe-Testamentiese boek hier in] gehad het nie, wat sou ons mis? Hoe sou u die boek van Openbaring of die boek Handelinge uiteensit? Ons gaan voort met ons reis deur die Bybel vanuit ʼn konserwatiewe, evangeliese perspektief. Ons doel is om hierdie vrae vir elke boek in die Nuwe Testament te beantwoord en om so ʼn oorsig van die Nuwe Testament te bied.

Volgens Tenney (1985:130; eie vertaling) is die Nuwe Testament ‘die rekord van die karakter en vestiging van ʼn nuwe manier hoe God met die mense deur Jesus Christus werk. … Die inhoud van die Nuwe Testament bestaan uit die openbaring van die nuwe verbond deur die woorde van Jesus Christus en sy volgelinge wat neergepen is’.

Die Nuwe Testament bevat 27 boeke en is deur ʼn maksimum van nege menslike skrywers oor ʼn tydperk van omtrent 50 jaar geskryf. Hierdie boeke kan geklassifiseer word in terme van hul literêre karakter, skrywers of in periodes (Tenney 1985: 130).

Die literêre karakter van die eerste vyf boeke van die Nuwe Testament is histories van aard. Die Evangelies van Matteus, Markus, Lukas en Johannes verskaf verskillende perspektiewe oor die lewe en werke van Jesus Christus en dan word oorbeweeg na die boek Handelinge. Hoewel dit in die vorm van briewe geskryf, is baie Nuwe-Testamentiese boeke leerstellig (Romeine, 1 & 2 Korintiërs, Galasiërs, Efesiërs, Filippense, Kolossense, 1 & 2 Tessalonisense, Hebreërs, Jakobus, 1 & 2 Petrus, 1 Johannes en Judas), ʼn paar boeke is persoonlik (1 & 2 Timótheüs, Titus, Filemon, 2 en 3 Johannes) terwyl die boek Openbaring profeties is (die boek beskryf ditself vyf keer as profeties).

Dit is duidelik dat baie van die historiese boeke ook profesieë bevat en baie briewe is persoonlik, so hierdie onderskeidings is nie absoluut nie. Nog ʼn manier om die literêre karakter van die boeke van die Nuwe Testament te beskou is om te sê dit is histories (die Evangelies en Handelinge), daar is briewe en daar is ʼn profetiese boek (Openbaring). Wat die briewe betref het ons die briewe van Paulus, meer Joodse briewe (Hebreërs, Jakobus, 1 Petrus) en algemene briewe (2 Petrus, die 3 briewe van Johannes en ook Judas). Paulus se briewe kan beskryf word as die reis-briewe (Galasiërs, 1 & 2 Tessalonisense, 1 & 2 Korintiërs, Romeine), gevangenis-briewe (Efesiërs, Filippense, Kolossense, Filemon) en pastorale briewe (1 & 2 Timótheüs, Titus).

Die Nuwe Testament kan ook geklassifiseer word volgens skrywers. Elke Nuwe-Testamentiese boek is geïnspireer deur die Heilige Gees. Die menslike skrywers moes ʼn apostel wees of moes ʼn apostel se goedkeuring of bevestiging gehad het. Ons glo die menslike skrywers was Matteus, Markus, Lukas, Johannes, Paulus, die skrywer van Hebreërs, Jakobus, Petrus en Judas. Die beroepe van hierdie manne sluit in ʼn tollenaar, ʼn dokter, ʼn tent-maker en ook vissermanne.

Wie het die meeste verse in die Nuwe Testament geskryf? Bock (1994:87; eie vertaling) verskaf hierdie interessante syfers: ‘Van die 7 947 verse in die Nuwe Testament, beslaan Lukas-Handelinge 2 157 verse, of 27,1%. Daarenteen bevat die briewe van Paulus 2 032 verse en die geskrifte van Johannes bevat 1 407 verse’.

Fruchtenbaum (2005:Inleiding) is van mening dat vyf boeke van die Nuwe Testament (Hebreërs, Jakobus, 1 & 2 Petrus, Judas) primêr aan Joodse gelowiges gerig is om twee groot kwessies aan te spreek wat die Messiaanse Joodse gemeenskap in die gesig gestaar het, naamlik vervolging (Hebreërs, Jakobus, 1 Petrus) sowel as valse leringe (2 Petrus en Judas).

Soos wat ons deur die Nuwe Testament beweeg, vertrou ons dat u opnuut God se Woord sal ontdek. Mag ons nie net kennis opbou en so as ’t ware hoorders van die Woord bly nie, maar mag ons ook daders van die Woord wees (vgl. Jakobus 1:22; 2 Petrus 1:3-11). Die belangrikste is dat ons toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus (2 Petrus 3:19).

———————————

Bronne:

Bock, D.L., 1994, ‘A theology of Luke-Acts’, in R.B. Zuck (ed.), A Biblical theology of the New Testament, pp. 87-166, Moody Publishers, Chicago.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, The Messianic Jewish epistles, Ariel Ministries, Tustin.

Tenney, M.C., 1985, New Testament Survey, revised edition, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']