Openbaring

Die titel van die laaste boek in die Bybel word dadelik bekendgestel: ‘Die openbaring van Jesus Christus’ (1:1). God die Vader het vir Jesus Christus geopenbaar om aan sy diensknegte te toon ‘wat gou moet gebeur’ (1:1). Christus het toe hierdie openbaring gesimboliseer en gekommunikeer deur sy engel na sy dienskneg te stuur (1:1). Laasgenoemde dienskneg is die apostel Johannes (1:1, 4, 9; 22:8), soos bevestig deur baie vroeë kerkleiers (Justinus die Martelaar, Ireneaus, Papias, Klemens van Alexandrië, Tertullianus, Hippolitus, Originus en Metodius).

Skrywer en datum

Ter wille van die woord van God en om die getuienis van Jesus Christus was die apostel Johannes na die eiland Patmos verban deur die Romeinse keiser (1:9). Ireneaus, ʼn leier in een van die sewe kerke (vgl. Openbaring 2-3), het geskryf dat Johannes hierdie gesig ontvang het ‘nie ʼn baie lang tyd gelede nie, maar omtrent in ons eie dag, naby die einde van Domitianus se heerskappy’ (Tenney 1985:384, eie vertaling). Die apostel Johannes het Openbaring in 95 n.C. geskryf.

Genre: profesie

Baie beskou Openbaring primêr as apokaliptiese literatuur, maar die genre van Openbaring is profesie. Vyf keer word die aard of genre van Openbaring spesifiek geidentifiseer as ‘die woorde van die profesie’ (1:3; 22:7, 10, 18, 19). By apokaliptiese literatuur is die ‘werklike skrywer nie bekend nie, maar in die geval van Openbaring weet ons wie die skrywer is — Johannes. Openbaring bevat ook ʼn brief-gedeelte (hfst 2-3), iets wat apokaliptiese literatuur nie het nie’ (Vlach 2012:242).

Is daar geen verband tussen Openbaring en ander Joodse apokaliptiese literatuur van 300 v.C. tot 100 n.C nie? Vlach (2012:242, eie vertaling) sê die antwoord ‘hang af van wat mens met apokalipties bedoel. As jy apokalipties identifiseer as goddelike openbaring oor die toekoms in die vorm van gesigte en simbole aan ʼn profeet onder goddelike inspirasie, dan ja, dan is Openbaring apokalipties. So ook Ou-Testamentiese profetiese boeke soos Daniël, Esegiël en Sagaria. Maar as jy Johannes sien as iemand wat die genre naboots van ander Joodse apokaliptiese skrywers van sy tyd wat nie geïnspireer is nie, dan is daar groot probleme’.

Die grammaties-historiese metode (ook genoem die letterlike metode, welke metode beslis ook figuurlike en simboliese taalgebruik akkommodeer) word gebruik om die Bybel te interpreteer met gebruikmaking van die normale grammatiese reëls van taal en die feite van die geskiedenis om die betekenis van ʼn teks te bepaal. Hierdie metode word toegepas op die Bybel se profetiese dele, verhalende dele, wettiese kodes, ensovoorts. Openbaring behoort net soos enige ander teks in die Bybel geïnterpreteer te word. Profesie het nie ʼn spesiale (geestelike, eintlik mistiese) hermeneutiek nodig nie (Constable 2017:3).

‘ʼn Mens mag wonder hoe ʼn boek soos Openbaring, wat simbole en gesigte bevat, letterlik vertolk kan word. Dit is nie so moeilik om te verstaan as ʼn mens in ag neem dat die simbole en gesigte die middele is om die boodskap van die profeet te kommunikeer, maar hierdie gesigte en simbole het ʼn letterlike betekenis tensy anders in die teks aangedui. Die gesigte en simbole verskaf nie gronde om die teks op ʼn nie-letterlike manier te interpreteer nie. Dit moet vertolk word soos wat ʼn mens die res van die Bybel sou interpreteer’ (Thomas 1992:35, eie vertaling). ‘Sommige van die besonderhede van hierdie profesie [Openbaring] word in die vorm van simbole gegee, maar agter hierdie simbole is werklikhede’ (Vlach 2012:243, eie vertaling). Openbaring bevat ‘baie simbole, maar die boek self asook ander boeke van die Bybel help ons om die simbole te interpreteer’ (Constable 2017:4, eie vertaling).

Inhoud en struktuur

Openbaring is ‘eintlik ʼn baie eenvoudige boek. Dit kom op die volgende neer: Jesus wen!’ (Constable 2017:8, eie vertaling). Hoe ontsluier Openbaring die persoon, mag en program van Jesus Christus? Volgens Fruchtenbaum (2004:10-11; vgl. Tenney 1985:385) lê ‘die waarde van die boek van Openbaring nie daarin dat dit baie nuwe inligting bevat nie, maar eerder dat dit profesieë wat oor die Ou Testament verspreid lê in ʼn chronologiese orde plaas sodat die volgorde van gebeure bepaal kan word’. Openbaring 1:19 bevat ʼn basiese oorsig van die hele boek: ‘Skryf die dinge op wat jy gesien het, die wat is, sowel as die wat gaan gebeur”. Met inagname van hierdie strukturele wenke kan die volgende uiteensetting vir Openbaring voor: Die dinge wat jy gesien het (1:1-20), Die dinge wat is (2:1-3:22) en Die dinge wat gaan gebeur (4:1-22:21).

Tensy spyte van ʼn groot verskeidenheid van interpretasies, behoort almal saam te stem dat Openbaring oor Jesus Christus gaan. Openbaring 1:7 verwoord die tema van die boek: ‘Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!’ Dit is goed om van Jesus Christus se titels in Openbaring uit te lig: ‘Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde!’ (1:5); ‘Ek is die Alpha en die Oméga’ (1:8); ‘Ek is die laaste en die eerste’ (1:17). Jesus Christus is ‘Die Woord van God’ (19:13), ‘Die koning van die konings en die Here van die here’ (19:16), ‘die begin en die einde’ (22:13).

Slot van 2017

Toe ons in 2017 met hierdie oorsig oor die boeke van die Bybel begin het, het ons vertrou dat u opnuut God se Woord sal ontdek, nie net om kennis op te bou nie maar om ook daders van die Woord wees (vgl. Jakobus 1:22; 2 Petrus 1:3-11). Die belangrikste is dat ons toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus (2 Petrus 3:19). Noudat ons klaar is met hierdie oorsig oor die Bybel, sê ons: ‘Kyk, Hy kom met die wolke!’” (Openbaring 1:7; vgl. 22:17, 20).

————————-

Bronne:

Constable, T.L., 2017, Notes on Revelation, 2017 edition, Sonic Light.

Fruchtenbaum, A.G., 2004, The Footsteps of the Messiah, Ariel Ministries, Tustin.

Tenney, M.C., 1985, New Testament Survey, revised edition, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Thomas, R.L., 1992, Revelation 1-7: An Exegetical Commentary, Moody Press, Chicago.

Vlach, M.J., 2012, ‘The kingdom of God and the millennium’, The Master’s Seminary Journal 23(2):225-247.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']