Premillennialisme in die voor-Niceense tydperk

Die belangrikste rede waarom premillennialisme (ook genoem: chiliasme) geglo moet word is omdat die Bybel dit leer. Vandag is die fokus op die eerste 230 jaar nádat die boek Openbaring geskryf is, d.w.s. tot vóór 325 n.C. Wat het bekende gelowiges wat in 95 n.C. tot 325 n.C. geleef het oor die millennium geglo? Waarom is dit belangrik om dit te weet?

Redes om kennis te neem

Vlach (2012:251-252) verskaf twee redes waarom ons kennis moet neem hoe vroeë Kerk-gelowiges die millennium beskou het.

Eerstens, vir omtrent 230 jaar ná die apostel Johannes die boek Openbaring in ongeveer 95/96 n.C. geskryf het, was die oorwegende konsensus in die Kerk dat die millennium op aarde en in die toekoms opgerig gaan word (vgl. Open 20:1-6). Vroeë gelowiges in die Kerk-tydperk het geglo dat wanneer die Here Jesus Christus terugkeer aarde toe, gaan Hy die Messiaanse koninkryk op aarde oprig en dan vanaf die troon van Dawid in Jerusalem oor Israel en al die nasies regeer vir ‘n duisend jaar lank.

Tweedens, dié dissipels wat eerstehandse kontak met die apostel Johannes gehad het, het ʼn baie goeie begrip gehad van wat die apostel met die millennium bedoel het. Wat was hulle begrip? Hulle was ongetwyfeld premillennialiste (ook genoem: chiliaste).

Vroeë Kerk-gelowiges en die millennium

Wat het bekende gelowiges in die vroeë Kerk oor die duisend-jarige vrederyk geglo?

Papias (60–130 n.C.) was ʼn ouderling in Hieropolis en het, volgens beide Eusebius en Irenaeus (130–202 n.C.), eerstehandse kennis van die apostels gehad en hulle leringe gevolg. Volgens Erdmann (2005:107; eie vertaling) het Papias ‘die chiliastiese tradisie verteenwoordig’.

Irenaeus (ongeveer 115–202 n.C.) is bekend vir twee van sy werke wat behoue gebly het, naamlik “Against Heresies” (in vyf boeke) en ook “Proof of the Apostolic Preaching”. Irenaeus het by Polukarpos en Papias lering ontvang — en laasgenoemde twee het op hul beurt weer kontak met die apostel Johannes gehad (Crutchfield 1996:181; Vlach 2012:252). Irenaeus het sterk vir premillennialisme geveg (Vlach 2012:252; Crutchfield 1996:181).

Crutchfield (1996:255-259) en House (2012:273) lys bekende gelowiges wat in die voor-Niceense tydperk (omtrent die Kerktydperk vóór 325 n.C.) geleef het en wat chiliaste was:

  • In die eerste eeu ná Christus was Klemens van Rome, die onbekende skrywer van die “Didache”, Polikarpus van Smirna en ook Ignatius van Antiogië bekende chiliaste gewees.
  • Wat van gelowiges wat in die tweede eeu gebore is en wat chiliaste was? Behalwe vir Irenaeus wat reeds genoem is, was daar ook Justinus die Martelaar (100-165 n.C.), Hippolytes van Rome en Tertullianus (150-225 n.C.).
  • In die derde eeu ná Christus was die volgende bekende Christene chiliaste gewees: Cyprian (200-258 n.C.), Commodian (200-275 n.C.), Victorinus (oorl. 304 n.C.), Methodius (oorl. 311 n.C.) en Lactantius (240-320 n.C.).

Wat met hierdie geskiedenis betoog word is nie dat elke gelowige in die jare 95 n.C—325 n.C. ʼn chilias was nie, maar dat die oorgrote meerderheid of konsensus posisie aangaande die eindtye in daardie tyd premillennialisties was (Vlach 2012:253). Aantygings dat chiliasme ʼn “nuwe” lering sou wees, iets wat eers onlangs in die Skrif ontdek is en daarom onder verdenking geplaas behoort te word, is van alle waarheid ontbloot. Die historiese feite staaf glad nie hierdie aantyging nie, trouens dit argumenteer vír chiliasme.

Twee aanhalings

Prof. J.I. Marais, leraar by die kweekskool in Stellenbosch, was ʼn chilias. In Junie 1917 het Marais ʼn voordrag in Kaapstad oor Christus se weerkoms gelewer, getiteld “Maranatha of Utopia”. ʼn Opsomming van hierdie voordrag verskyn in die “Gereformeerde Maandblad” van September 1917. Marais verwerp ʼn mensgemaakte Utopia waar die wêreld beter word deur ʼn strewe na vryheid, broederskap en gelykheid en betoog vervolgens dat a-millennialisme aan die Kerk onbekend was vóór die jare 1600. Marais skryf:

Duidelijk is het, dat die wederkoms van Christus voor die duizend jarig Ryk die gangbare meening was in de Kerk de eeuwen deur.

Philip Schaff (aangehaal in Vlach 2012:251; eie vertaling), ʼn bekende kerkgeskiedkundige en nie ʼn vriend óf vyand van chiliasme nie, merk die volgende op:

Die mees opvallende punt in die eskatologie van die voor-Niceense tydperk is die prominente chiliasme, of millennialisme, dit is die geloof dat daar ʼn sigbare koninkryksregering van Christus in heerlikheid op aarde saam met die opgestane heiliges vir ʼn duisend jaar sal wees voor die algemene opstanding en oordeel. Hierdie lering was nie in enige belydenis van die kerk vergestalt nie, maar dit was die wyd-gehuldigde mening van leraars wat hulself onderskei het, soos Barnabas, Papias, Justinus die Martelaar, Irenaeus, Tertullianus, Methodius, en Lactantius.

Lering wat versaak is en versaak word

Wat het veroorsaak dat die Kerk die lering aangaande die komende Messiaanse koninkryk op aarde begin versaak het? Drie redes word verskaf (daar is meer):

Eerstens, toe Konstantyn (272-337 n.C.) in 324 n.C. die Roomse keiser geword het, het hy die ontsettende vervolging van die Kerk beëindig en toe die staat en kerk verenig. Konstantyn het oornag volgelinge van verskeie heidense afgodsgelowe in die Romeinse Ryk met die kerk laat ‘saamsmelt’. Om nou te argumenteer dat ʼn letterlike, aardse Messiaanse koninkryk gaan kom waar Jesus Christus die Koning van konings gaan wees —júís nie die keiser nie — was nie juis ʼn polities korrekte lering nie (vgl. Ryrie 2005:22).

Tweedens, ná Konstantyn die keiser geword het, het die allegoriese interpretasies van die skool van Aleksandrië meer en meer veld gewen en chiliasme is erg aangeval (Ryrie 2005:22-23; House 2012:278-281).

Derdens, omdat die Kerk toenemend die Joodse perspektief oor die Skrif begin verloor het, spesifiek die Ou-Testamentiese lering oor die Messiaanse koninkryk, het sy haar leerstellige eenheid en suiwerheid ingeboet (House 2012:271-272; Fruchtenbaum 2005:7-8).

Slotopmerkings

Dit is nie hoe die Kerk in die geskiedenis sekere leringe geïnterpreteer het wat bepaal of iets waar is al dan nie. Die waarheid van ʼn lering word deur die Skrif bepaal. Nogtans, weet dat die vroeë Kerk oorwegend en ongetwyfeld chiliasties was. Ná sy opstanding het die Here Jesus Christus met sy apostels oor die dinge van die koninkryk van God gespreek (Hand 1:3). Gelowiges wat kontak met die twaalf apostels gehad het, of veral met die apostel Johannes wat die boek Openbaring geskryf het, het oorwegend premillennialistiese sieninge gehuldig. Gesien vanuit ʼn Kerk-historiese perspektief, spesifiek die voor-Niceense tydperk, kan onomwonde gesê word dat die dominante siening oor die eindtyd in daardie tye premillennialisties (of chiliasties) was (vgl. House 2012:271).

Bronne

Crutchfield, L.V., 1996, ‘Irenaeus’, in M. Couch (red.), Dictionary of Premillennial Theology, pp. 181-182, Kregel Publications, Grand Rapids.

Crutchfield, L.V., 1996, ‘Millennial Views of the Church Fathers’, in M. Couch (red.), Dictionary of Premillennial Theology, pp. 255-259, Kregel Publications, Grand Rapids.

Erdmann, M., 2005, The Millennial Controversy in the Early Church, Wipf and Stock, Eugene.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, ‘Die Kerk en die Jode’, Ariel Ministries, vertaal deur FaithEquip. Beskikbaar by: https://faithequip.co.za/dissipelskapkursus/die-kerk-en-die-jode/

House, H.W., 2012, ‘Premillennialism in the Ante-Nicene Church’, Bibliotheca Sacra 169(675), 271-282.

Ryrie, C.C., 2005, The Basis of the Premillennial Faith, ECS Ministries, Dubuque.

Vlach, M., 2012, ‘The Kingdom of God and the Millennium’, The Master’s Seminary Journal 23(2), 225-254. Beskikbaar by: www.tms.edu/m/msj23m.pdf

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']