Profetiese vervulling van die Ou Testament in die Nuwe Testament Deel 1

Op watter verskillende maniere word die Ou Testament in die Nuwe Testament profeties vervul? Hierdie vraag is allermins droog, abstrak of bloot akademies van aard, want dit het ʼn baie belangrike invloed op die leer van die eindtye (eskatologie).

Volgens Cooper (1958:174, 209–215; vgl. ook Rydelnik 2010:95–111) word vier soorte profetiese vervullings van Ou-Testamentiese skrifgedeeltes in die Nuwe Testament aangetref. Hierdie vier soorte vervulling is:

  1. Direkte vervulling;
  2. Tipologiese vervulling;
  3. Toepassings- of analogiese vervulling; en
  4. Opsommende vervulling.

Fruchtenbaum (2016:12–13) sê dat Nuwe-Testamentiese skrywers die Ou Testament aangehaal het op dieselfde viervuldige wyse as wat die rabbi’s van daardie tyd dit gedoen het, naamlik pshat (direkte vervulling), remez (tipologiese vervulling), drash (analogiese vervulling) en sod (opsommende vervulling). Fruchtenbaum (2016:10–44) gee verskeie rabbynse voorbeelde vir elkeen van hierdie vier maniere van vervulling van die Ou Testament in die Nuwe Testament. Al het hierdie rabbi’s soms nie-letterlike toepassings gemaak, het hulle nooit die letterlike betekenis van die Skrif of die goddelike inspirasie daarvan ontken nie (ibid:11).

Omdat al vier soorte profetiese vervulling in Matteus 2 voorkom, word die verskillende soorte profetiese vervulling van die Ou Testament in die Nuwe Testament vervolgens aan die hand van Matteus 2 geïllustreer. In ʼn volgende artikel (Deel 2) bespreek ons hierdie verskillende soorte profetiese vervullings verder.

Direkte vervulling

Matteus 2:5–6 bevat die letterlike vervulling van ʼn direkte profesie. Nie net profeteer Miga 5:1 dat die Christus te Betlehem, Efrata, gebore sal word nie, maar ‘sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid’ (1933/1953-vertaling) – ʼn duidelike bewys van die ewigheid en dus die goddelikheid van Christus. ‘n Direkte profesie is direk vervul.

Cooper (1958:215–216) identifiseer vier soorte direkte profesieë oor Christus, naamlik profesieë oor sy eerste koms (bv. Deut 18:15–19; Ps 16:8–11; Jes 7:14), profesieë oor sy tweede koms (bv. Ps 2:8–10; Sag 12:10; Matt 23:39), profesieë wat Jesus se eerste en tweede koms inmekaarvleg (bv. Gen 49:10; Jes 9:5–6; Sag 9:9) en profesieë wat die Messias se hele loopbaan uitbeeld (bv. Ps 110; Jes 42:1–4; 61:1–3; 65:1–25).

Die kategorie van letterlike vervulling van ʼn direkte profesie (pshat) is relatief eenvoudig, veral as die meeste (of al) die referente van ʼn Ou-Testamentiese profesie reeds bekend is. Nie alle direkte profesieë is egter so eenvoudig nie. Sommige direkte Ou-Testamentiese profesieë se referent(e) is nie bekend nie, maar nogtans is die betekenis van daardie Ou-Testamentiese skrifgedeelte genoegsaam bepaalbaar (Feinberg, P.D. 1988:123).

Die letterlike vervulling van direkte profesieë oor byvoorbeeld Christus se tweede koms en oor sy hele loopbaan moet beslis gebeur en uitkom, anders kan dit impliseer – met respek gesê, ter wille van die argument – dat Jesaja of Sagaria byvoorbeeld as vals profete bestempel kan word, wat hulle beslis nie is nie.

Tipologiese vervulling

Waar Hosea 11:1 ʼn geskiedkundige gebeurtenis beskryf toe ʼn jong volk, Israel, deur God uit Egipte geroep is (‘uit Egipte het Ek my seun geroep’), is Matteus 2:15 se vervullingsaanhaling eweneens ʼn bewys dat God die Kindjie wat na die land Egipte gaan, sal bewaar en laat terugkeer (‘uit Egipte het Ek my Seun geroep’). Sonder twyfel verwys Hosea 11:1 ook terug na Eksodus 4:22–23, waar die volk Israel beskryf word as God se eersgebore seun wat uit Egipte moet trek. Israel is die nasie-seun van God wat uit Egipte geroep is, terwyl Christus die individuele Seun van God is wat uit Egipte geroep is (Fruchtenbaum 2016:21). Die goddelik-bepaalde tipe- of antitipe-verhouding is duidelik, want Israel sowel as Jesus is ‘my seun’ wat deur God bewaar en uit Egipte na die land geroep is.

Is Matteus 2:15 se vervulling tipologies, of is dit bloot ʼn toepassing of analogie? Omdat Hosea 11:1 ʼn historiese gebeurtenis beskryf en nie ʼn profesie nie, is Ladd (1977:21–23) van mening dat Matteus die Ou Testament in die lig van Christus herinterpreteer om só ʼn sogenaamde ‘dieper betekenis’ te vind. Rydelnik (2010:101–102) toon egter oortuigend aan dat die volgende goddelik-bepaalde tipe- of antitipe-verhouding in Numeri 23:18–24 en 24:7–9 tot stand gebring word. Wat God vir Israel doen, sal Hy ook vir die toekomstige Koning van Israel doen. Soos God vir Israel uit Egipte geroep het, so sal God die toekomstige Koning van Israel ook uit Egipte roep. Waarom haal Matteus dan vir Hosea aan en nie net Numeri 24:8 nie? Matteus wou nie net Israel of die Koning van Israel se uittog uit Egipte beklemtoon nie, maar ook nasionale Israel en Christus se verhouding as seun en Seun van die Vader (Rydelnik 2010:103–104). Die volgende tabel toon duidelik dat ʼn tipe- of antitipe-verhouding (remez) in die Pentateug vasgestel is:

Israel as ʼn tipe van die toekomstige Koning van Israel

Die tipologie van Bileam se profesieë

Israel se ervaring in die verlede is ʼn voorafskaduwing van die Koning se toekomstige ervaring
Israel (Numeri 23:18–24)Koning van Israel (Numeri 24:7–9)
God bring hulle uit Egipte uit.God bring Hom uit Egipte uit.
God is vir hulle soos die horings van ʼn buffel.God is vir Hom soos die horings van ʼn buffel.
Israel is soos ʼn leeu.Die Koning is soos ʼn leeu.

Bron: Rydelnik (2010:103)

Daar is geen grond om te beweer dat Matteus die Ou Testament ontken, verander, herinterpreteer of buite konteks gebruik het nie. Juis die teendeel is waar.

Toepassings- of analogiese vervulling

Wanneer Herodes al die seuntjies van twee jaar en jonger in Betlehem en die omstreke laat ombring, gebruik Matteus 2:17 die uitdrukking ‘toe is vervul’ en haal dan uit Jeremia 31:15 aan. Is Matteus se aanhaling van die Ou Testament ‘kreatief’ maar ‘ontwykend’ soos wat France (2007:88) beweer? Met die Babiloniese inval is Judese jongmanne gevange geneem en by Rama byeengebring voordat hulle deur Nebukadnesar as ballinge na Babel weggevoer is (ibid:87). Dit was natuurlik nie Ragel wat haar kinders beween het nie (haar liggaam is nie uit die dood opgewek nie), maar Ragel dien as ʼn simbool van Joodse moederskap (Fruchtenbaum 2016:24–25). Wat letterlik in die tyd van die Babiloniese ballingskap gebeur het, is dat ʼn rouklag en groot gekerm opgegaan het, want Joodse moeders het oor hulle seuns geween wat weggevoer is.

Die vervulling van Jeremia 31:15 waarna Matteus 2:17–18 verwys, is een van toepassing of analogie (drash). ʼn Soortgelyke situasie het ontstaan en word deur Matteus gebruik: Joodse moeders ween oor seuntjies wat nie meer daar is nie, en daarom word ʼn toepassing of analogie gemaak. Van ʼn direkte profesie is hier nie sprake nie, want die referente verskil: Rama teenoor Betlehem, die Babiloniërs teenoor Herodes, jong seuns of mans teenoor seuntjies onder twee jaar. ʼn Tipologiese vervulling is dit ook nie, want daar word nie aan die reëls vir tipologiese vervulling (bv. ʼn goddelik-bepaalde tipe- of antitipe-verhouding, voorafskaduwing, eskalasie) voldoen nie. Wat Matteus doen, is om iets in een situasie (Jer 31:15) met iets soortgelyks in ʼn ander situasie (Matt 2:16–18) in verband te bring, naamlik dat Joodse moeders weer huil oor seun(tjie)s wat nie meer daar is nie. Dit is dus ʼn toepassings- of analogiese vervulling.

Toe Joodse moeders tydens die Tweede Wêreldoorlog gesien het hoe hulle seuns op treine na gaskamers toe weggeneem word, het Ragel weer gehuil? Rydelnik (2010:107) sê tereg dat die oorgaan vanaf eksegese tot bybelse beginsels en dan tot hedendaagse toepassings iets is wat byna intuïtief gebeur. Wanneer Matteus (en ander Nuwe-Testamentiese skrywers) onder inspirasie sulke toepassings of analogieë uitwys, is daar weereens geen sprake daarvan dat die Ou Testament buite konteks, kreatief of enigmaties gebruik is nie. Juis die teendeel is waar.

In die derde kategorie van vervulling van die Ou Testament in die Nuwe Testament ontstaan die debatte oor midrasj, sensus plenior en references plenior. Die midrasj se doel was nie om Skrifgedeeltes buite hulle literêre kontekste te gebruik of om histories-anachronisties daarmee te werk te gaan nie; inteendeel, die doel van die midrasj vir Joodse rabbi’s vóór 70 n.C. was juis om die Skrif in konteks te verstaan en dan relevant en toepaslik vir hulle kontemporêre luisteraars te maak. Die Nuwe Testament het addisionele referente (references plenior) tot die Ou-Testamentiese Skrifgedeeltes bygevoeg om toepassings- of analogiese vervullings in die Nuwe Testament teweeg te bring. Dit verander nog steeds nie die betekenis van die Ou-Testamentiese teks nie.

Opsommende vervulling

Nêrens in die Ou Testament sê enige profeet eksplisiet dat Jesus ʼn Nasarener genoem sou word nie. Tog staan in Matteus 2:23 dat die profete dit gesê het. ʼn Leidraad na die betekenis hiervan is die verwysing na profete (in die meervoud) ‘wat gesê het’. ʼn Oorhoofse en algemene tema in die profesie word hier aangeroer, naamlik dat Christus ʼn man van smarte sou wees, een wat misverstaan en verwerp sou word (vgl. Jes 53:3; Joh 1:46; France 2007:91–95). Matteus som dus ʼn saak op waaroor al die Ou-Testamentiese profete saam getuig het. Die vierde soort vervulling van die Ou Testament in die Nuwe Testament is dus opsommende vervulling (sod), want die geïnspireerde teks van die Nuwe Testament getuig opsommenderwys wat die profete gesamentlik oor iets of iemand aangekondig het (Fruchtenbaum 2016:38–40). Hierdie soort Nuwe-Testamentiese vervulling kom minder gereeld voor (bv. Matt 26:56; Hand 3:18–24; Rom 1:2) en dit wil voorkom asof dit uitsluitlik Christologies van aard is.

In die volgende artikel bespreek ons die profetiese vervulling van die Ou Testament in die Nuwe Testament verder.

————————-

Bron:

Hierdie artikel is ʼn uittreksel uit: Scholtz, J.J., 2016, ‘Vooronderstellings wat die eskatologie beïnvloed’, In die Skriflig 50(1), a2170.

Bronne waarna in die artikel verwys word, kan in die artikel by In die Skriflig gevind word.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']