Profetiese vervulling van die Ou Testament in die Nuwe Testament Deel 2

In ons vorige artikel is vier soorte profetiese vervulling van die Ou Testament in die Nuwe Testament uitgelig deur te kyk na Matteus 2 — wat al vier soorte vervulling bevat. Met inagneming van die vorige artikel, gaan ons vandag verder om die saak van vervulling verder te bespreek. Dit is belangrik, want dit het ʼn groot impak op sieninge oor die eindtye.

Soos wat ons in die vorige artikel gesien het, Matteus 2 se voorbeelde van die vier soorte profetiese vervulling van die Ou Testament in die Nuwe Testament kan ontsyfer word en deur hedendaagse eksegete van die Bybel nagevolg word. Wanneer profetiese vervullings in die res van die Nuwe Testament aangetref word, kan die leser hierdie vier kategorieë van vervulling gebruik om die teks reg te verstaan.

Daar is glad nie rede om te glo dat die outeurs van die Nuwe Testament die Ou Testament buite konteks of kreatief gebruik het nie, of dat hulle die betekenis van die Ou Testament verander of herinterpreteer nie (Fruchtenbaum 2016:43; Rydelnik 2010:111). Die hermeneutiese beginsel van normale, letterlike interpretasie (grammaties-historiese metode) word nie in die Nuwe Testament opgehef nie; inteendeel, dit word bevestig. Daar is reëls vir die interpretasie van tipes en analogieë, maar dit funksioneer binne die hermeneutiese beginsel van die letterlike interpretasie (die grammaties-historiese metode), en daarom kan die allegorisering of vergeesteliking van Skrifgedeeltes op grond van die bestaan van tipes en analogieë nie geregverdig word nie (Feinberg, P.D. 1988:123; Malan 2014:14–16).

Wanneer tipologiese, toepassings- of opsommende vervullings van die Ou Testament in die Nuwe Testament plaasvind, beteken dit noodwendig dat alle direkte profesieë nou wegval of in bogenoemde tipologiese toepassings- of opsommende kategorieë van vervulling verander word? Nee, beslis nie. Daar moet ten minste toegegee word dat direkte Ou-Testamentiese profesieë oor Christus se wederkoms vervul sal word. Maar wat dan van die direkte, onvoorwaardelike en steeds-onvervulde nie-Christologiese verbondsbeloftes of profesieë in die Ou Testament? Sal God dit direk vervul aan die mens(e) vir wie Hy dit belowe het? Wat sodanige profesieë betref, kan onomwonde ‘ja’ geantwoord word, want God kan nie lieg nie. Hy sal doen wat Hy belowe het aan diegene vir wie Hy dit belowe het, selfs al het Hy só ʼn belofte of profesie net een keer gemaak (vgl. Feinberg, J.S. 1988:76–77). Ek stem saam met Turner (1985):

If NT reinterpretation reverses, cancels, or seriously modifies OT promises to Israel, one wonders how to define the word ‘progressive’. God’s faithfulness to his promises to Israel must also be explained. (p. 282)

Gestel net vir argumentsonthalwe dat Israel is ʼn Ou-Testamentiese tipe vir die Nuwe-Testamentiese antitipe, naamlik die Kerk. Sou dit impliseer dat onvoorwaardelike en steeds onvervulde Ou-Testamentiese beloftes en profesieë aangaande Israel eksplisiet of implisiet deur die Kerk oorgeneem en getransendeer is? Die antwoord is ʼnee’. Soms word ʼn Ou-Testamentiese tipe deur die Nuwe-Testamentiese antitipe beëindig. Ou-Testamentiese seremoniële wette en instellings aangaande die Levitiese priesterorde ingevolge die Wet van Moses word byvoorbeeld eksplisiet in die Nuwe Testament tot ʼn einde gebring. Is dit egter die geval met alle tipe-antitipe-verhoudings? Die onvoorwaardelikheid van sekere beloftes aan Israel kan nie eens implisiet deur die Nuwe Testament van Israel weggeneem word nie. J.S. Feinberg (1988:76) merk tereg op: ‘[U]nconditional promises are not shadows, nor are the peoples to whom they are given’. Trouens, ‘if the NT antitype cancels the meaning of the OT type, the NT must tell us so’ (J.S. Feinberg 1988:79). Turner (1985:282) beaam dit tereg: ‘Genuine typology and analogy between OT and NT should not be viewed as destructive to the literal fulfillment of the OT promises to Israel…’

Dieselfde soort redenasie kan vir analogiese vervullings van die Ou Testament in die Nuwe Testament gebruik word. Indien die Nuwe Testament ʼn toepassing maak en ʼn nuwe referent tot ʼn Ou-Testamentiese belofte of profesie byvoeg, kanselleer dit noodwendig die Ou-Testamentiese referent? Die antwoord is weereens ‘nee’. Wanneer Petrus byvoorbeeld op Pinksterdag sê: ‘[D]it is wat deur die profeet Joël gespreek is’ (Hand 2:16), watter soort vervulling van Joël 2:28–32 is hier ter sprake? Dit is nie ʼn direkte, tipologiese of opsommende vervulling nie, maar wel ʼn toepassings- of analogiese vervulling. Joël 2:28–32 sê dat daar groot kosmologiese veranderings sal plaasvind en dat daar geprofeteer, gedroom en gesigte gesien sal word. Handelinge 2 getuig egter nie van kosmologiese veranderings nie en noem ook die spreek in bekende tale, waaroor Joël 2 niks sê nie. Bowendien is die reëls van tipologie nie nagekom nie en is dit ook nie ʼn opsommende vervulling nie. Die analogie of ooreenkoms is dat albei Skrifgedeeltes van ʼn uitgieting of uitstorting van die Heilige Gees getuig (vgl. Feinberg, P.D. 1988:125–127). Wanneer die Kerk op die Pinksterfees in Handelinge 2 gebore is en in geestelike seëninge in Christus deel, beteken dit dat die direkte profesie van Joël 2:28–32 nie aan die einde van die bedeling aan Israel vervul sal word nie? Nee, inteendeel, dit sal direk vervul word soos God belowe het.

Wat van ʼn opsommende vervulling? Sommige dink dat daar ʼn ‘realiteitskuif’ plaasvind wanneer daar vanaf die Ou Testament na die Nuwe Testament beweeg word, aangesien profetiese vervulling soms ‘bo die grense van die werklikheid uitgaan’ (Heyns 1963:27). Het die karakter van die koninkryk dan nie eerder geestelik en hemels as aards of polities geword nie (Waltke 1988:268, 270–271)? En wanneer Christus ons vrede is en Jood asook nie-Jood in Homself tot een nuwe mens skep (Ef 2:11–16), hoe kan Israel dan nog ʼn toekoms as ʼn nasie hê (Hoekema 1979:199–200)?

Blaising (2015:91–93) som die nie-dispensasionele posisie soos volg op: Ou-Testamentiese beloftes wat aan Israel gemaak is, word in Christus, die Kerk of in die nuwe skepping vervul sodat die realiteitskuif geestelik en Christologies weg van Israel na Christus toe plaasvind; weg van die materiële, die aardse en die etniese na ʼn hemelse, geestelike en nie-etniese realiteit, oftewel na ʼn ander soort Israel – een waar die land, die mense en die nasie getransendeer word.

Daar is beslis in Christus ʼn geestelike eenheid in die Kerk tussen gelowige Jode en gelowige nie-Jode. Wat regverdiging, heiligmaking of uiteindelike verheerliking betref, is daar hoegenaamd geen bevoordeling van ʼn Jood bo ʼn nie-Jood, of andersom nie. Die onderliggende vooronderstelling van die nie-dispensasionele posisie – gebaseer op die idee van één geloofs- en verbondsvolk onder die genadeverbond waar baie verskille deur kontinuïteit opgehef moet word – is dat die geestelike betekenis enige ander soort betekenis uitskakel of kanselleer (vgl. J.S. Feinberg 1988:71–73). Is dit egter waar?

Selfs binne plaaslike kerke is daar funksionele verskille. Sommige persone is leiers en ander nie (Heb 13:17); sommige het hierdie gawe en ander het weer daardie gawe (1 Kor 12:28–30). Selfs al is almal een in Christus, beteken dit dat alle funksionele verskille tussen Jood en nie-Jood, slaaf en vryman of man en vrou opgehef is (Gal 3:28)? Nee, dit is nie so nie. Die feit dat Jode en nie-Jode in ʼn geestelike sin kinders van Abraham is, maak ook nie van nie-Jode nou skielik Jode of deel van die volk Israel nie (vgl. Saucy 1993:50). Fruchtenbaum (1989:76, 702) vra ʼn geldige vraag: As jy glo jy is ʼn kind van Abraham, maak dit outomaties van jou ook ʼn kind van Jakob (wie se naam na Israel verander is)? Anders gestel: As almal wat aan Christus behoort, kinders van Abraham is, wil dit sê dat al Abraham se kinders aan Christus behoort (vgl. Rom 4:11–12; Gal 3:25–29)? Ook opsommende vervulling kanselleer of verander nie direkte, onvoorwaardelike en steeds onvervulde Ou-Testamentiese beloftes of profesieë nie.

Ná aanleiding van die bespreking in hierdie artikel, word die volgende opsomming gemaak:

  • Wat ook al die verhouding tussen die twee testamente is, die betekenis van Ou-Testamentiese Skrifgedeeltes moet gevind word deur die toepassing van die beginsel van normale, letterlike interpretasie (grammaties-historiese metode). Die betekenis daarvan moet nie primêr in die Nuwe Testament gesoek word nie (Vlach 2012:24). Die Nuwe Testament herinterpreteer, verander of kanselleer nie die betekenis van Ou-Testamentiese Skrifgedeeltes nie.
  • As die Ou Testament in die Nuwe Testament vervul word, kan die vervulling as (1) direkte, (2) tipologiese, (3) toepassings- of analogiese, of as (4) opsommende vervulling geklassifiseer word.
    • Alle Ou-Testamentiese beloftes of profesieë wat onvoorwaardelik aan sekere persone of sekere groepe mense gegee is en wat steeds in die Nuwe-Testamentiese era onvervul bly, sal direk vervul word vir diegene aan wie dit belowe is. Tipologiese, analogiese of opsommende vervulling kan nie onvoorwaardelike beloftes of profesieë wat aan Israel gemaak is, elimineer nie.
    • God se Nuwe-Testamentiese openbaring maak bykomende toepassings en voeg referente by (references plenior), maar dit verander steeds nie die betekenis van die Ou-Testamentiese Skrifgedeelte in sy oorspronklike konteks nie. ’n Nuwe-Testamentiese antitipe verander of kanselleer nie die betekenis van ’n Ou-Testamentiese tipe nie, tensy die Nuwe Testament dit eksplisiet aandui (J.S. Feinberg 1988:79).
  • Israel en die Kerk is onderskeibaar; die Kerk is nie die ʼnuwe’, ‘ware’ of ‘geestelike’ Israel nie.
  • Al is daar sedert Handelinge 2 in Christus ’n geestelike eenheid tussen Joodse en nie-Joodse gelowiges in die Kerk, bly daar verskillende betekenisse vir ’n term soos ‘kinders van Abraham’, aangesien een betekenis (bv. die geestelike) nie die ander betekenisse (biologies, etnies, nasionaal, ens.) kanselleer nie (Vlach 2012:34–35).

Die vervulling van die Ou Testament in die Nuwe Testament is ʼn ontsettende belangrike aspek vir die leer oor die eindtye.

————————-

Bron:

Hierdie artikel is ʼn uittreksel uit: Scholtz, J.J., 2016, ‘Vooronderstellings wat die eskatologie beïnvloed’, In die Skriflig 50(1), a2170.

Bronne waarna in die artikel verwys word, kan in die artikel by In die Skriflig gevind word.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']