Regerings in ʼn gevalle wêreld

Marxisme/Leninisme is springlewendig, maar waar dit ook al geïmplementeer word tuimel dit uiteindelik inmekaar en sterf. Hierdie ideologie is springlewendig in Suid-Afrika al tuimel Marxisme/Leninisme in Venezuela, al het dit klaar gesterf in Oos-Duitsland, Kuba, ensovoorts. Hoe moet Marxisme/Leninisme beskryf word? Wat is die teologiese fondamente (of gebrek daaraan) van hierdie wêreldbeskouing? Wat is hierdie ideologie se fatale foute? Wat sê die Bybel oor regerings in ʼn gevalle wêreld?

ʼn Beskrywing van Marxisme/Leninisme

Marxisme/Leninisme begin nie met “In die begin het God” nie, maar eerder met ʼn kreet van, “Daar is geen God nie”. Die hoëpriesters van hierdie wêreldbeskouing, Karl Marx en Friedrich Engels, was volslae ateïste. Vir hulle is daar geen werklikheid buite die materiële nie. As sodanig is alles ateïsties, materialisties en ewolusionêr. Vladimir Lenin (1978, 15:402; eie vertaling), een van die grootste dissipels van Marx en Engels, het geskryf dat die ‘filosofiese basis van Marxisme, soos Marx en Engels herhaaldelik verklaar het … is ʼn materialisme wat absoluut ateïsties en vyandig teenoor alle vorme van godsdiens is’. Marxisme/Leninisme is dus nie net ʼn ekonomiese en politiese teorie nie, maar dit is eerstens ʼn ateïstiese, materialistiese en sosialistiese ideologie.

As hierdie materiële wêreld al is wat daar is, hoe dink Marx en Engels het hierdie materie in die geskiedenis op die aarde rondbeweeg? Hulle sien die geskiedenis as vier tydperke van klasse-stryd tussen onderdrukker en onderdrukte. Hierdie vermeende tydperke sluit in: (1) Primitiewe en Gemeenskaplike; (2) Slaaf; (3) Feodaal; en (4) Kapitalisties. In hulle Kommunistiese Manifes sê Marx en Engels dat die vyfde tydperk ʼn sosialisties-kommunistiese fase gaan wees waar die onreg van alle vorige fases reggestel sal word — en dít sal een of ander Utopia wees. In sy toespraak op 22 Julie 2018 het mnr. Ace Magashule, Sekretaris-Generaal van die ANC, hierdie denke al te goed opgesom…

A communist party is the vanguard and the most advanced detachment led by the most advanced sections of our society. It is the political leader of the struggle of the working class guided by the scientific revolutionary theory of Marxism Leninism. Its supreme goal is to achieve the highest form of human society, which is communism. A system which is about the creation of a classless society, a communist society based on the foundations of equality.

Hoe kan hierdie sogenaamde ‘highest form of human society’ bereik word? Die werkersklas van die wêreld (die proletariaat, die onderdruktes) moet saamspan om die regerende klas (die onderdrukkers, die bourgeoisie, die kapitaliste) omver te gooi. Sou dit gebeur, vind daar ʼn beduidende klemverskuiwing vanaf die ekonomiese ná die politiese plaas, aangesien die ekonomiese stelsel deur politiese rewolusie ‘getransformeer’ moet word. Die ekonomiese mag is dan gesetel in die politiese elite wat in beheer van die staat kom (sonder twyfel gelei deur die ‘most advanced sections of society’, aldus Magashule).

Wat is die resep om hierdie kommunistiese Utopia te bereik? Die Kommunistiese Manifes van Marx en Engels (1967:96) stel dit baie duidelik: die afskaffing van private eiendom. Nie net moet die huidige middelklas totaal en al van hulle eiendom vervreem word nie, maar boonop moet dit onmoontlik gemaak word om private eiendom te mag verkry (Marx & Engels 1967:99). As die doel is om ʼn klaslose, kommunistiese samelewing te bereik, dan is die afskaffing van eiendomsreg eintlik net die begin. God-gegewe instellings soos die huwelik, familie en nasies moet ook deur die Marxiste-Leniniste ‘herdefinieer’ en ‘getransformeer’ word. Byvoorbeeld, Noebel (2006:269; eie vertaling) sê dat in die ‘nuwe [Marxisties-Leninistiese] sosiale orde voor-huwelikse en buite-egtelike seks, asook egbreuk, ophou om dieselfde betekenisse te hê, want binne die konteks van hierdie gemeenskap is daar geen privaat eiendom en almal behoort aan almal’. Selfs die sorg, opvoeding en onderwys van kinders word nie as die verantwoordelikheid van ouers beskou nie, maar as ʼn openbare saak, die verantwoordelikheid van die hele gemeenskap.

Die Kommunistiese Manifes identifiseer tien eienskappe van die sogenaamde Utopiese samelewing. Terwyl ek Cone (2016:194) hieronder gebruik om hierdie tien eienskappe op te som, voeg ek kommentaar van ʼn Suid-Afrikaanse geur [in hakies] by:

  1. Afskaffing van grond vir openbare doeleindes [Onteiening sonder vergoeding].
  2. ʼn Swaar progressiewe en gegradeerde inkomstebelasting [Nooit in Suid-Afrika nie?!].
  3. Inbeslagneming van eiendom van immigrante en rebelle [‘Xenofobie’].
  4. Sentralisering van krediet via ʼn nasionale bank [Malema wenslys].
  5. Vrye onderwys vir alle kinders in openbare skole [en universiteite: Fees Must Fall].
  6. Besigheidsektore deur die staat beheer en gereguleer [Mynbouhandves, NHI].
  7. Afskaffing van erfreg.
  8. Gelyke aanspreeklikheid dat almal moet werk.
  9. Kombinering van landbou en vervaardiging; eliminering van dorps- en provinsiale grense.
  10. Sentralisering van kommunikasie- en vervoerstelsels.

Neem nommer een op die lys. God sê jy mag nie steel nie, maar ateïste beweer daar is geen God nie, so hoe regverdig of rasionaliseer hulle dan diefstal? Noebel (2006:147) som die moraliteit van die onderdruktes (proletariaat) goed op: ‘The ethical belief that whatever advances the proletariat and the cause of communism is morally good and whatever hinders the proletariat or communism is morally evil’. In die Marxisties-Leninistiese wêreldbeskouing het moraliteit dus niks vas of absoluut nie. Wat ook al die saak van kommunisme bevorder, dít word as moreel goed beskou. Hierdie morele buigsaamheid (eintlik morele ruggraatloosheid) word goed deur Magashule (2018) verwoord: ‘The [South African] constitution can never be cast in stone, it must be a flexible instrument to serve the needs and advancement of the people’. Wie definieer Marxisme se morele kodes? Die klaslose samelewing, dié wat hulleself as die ‘onderdruktes’ beskou, die proletariaat. (En moenie waag om hierteen te twiet nie).

Hoe manifesteer bogenoemde in die wêreld (lees: Suid-Afrika)? Reeds in 1981 het Jawitsch (aangehaal deur Noebel 2006:304-305) aangevoer dat die volledige ‘success in the masses’ struggle for their democratic rights and liberties can only be achieved by overcoming [white?] monopoly capital’s economic and political domination and establishing a state authority that expresses the interests of the working people’. Die ANC in Suid-Afrika het die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) jaarliks bevestig, waarin verskeie belange uitgespreek word. Onlangs is Suid-Afrika ernstig gewaarsku om die afgrond te vermy, aldus Cronjé (2018):

NDR theory was based on Lenin’s theory of imperialism, which claimed that the wealth of the colonial powers arose solely from their oppression and exploitation of the colonised. From this foundation, Lenin argued that the purpose of anti-colonial revolutions must always be to dispossess the coloniser – and then embrace communism – failing which the colonised could never be free. … white/capitalist prosperity is [viewed as remaining] solely the result of the oppression and exploitation of the black majority, and indeed prolonged that poverty – and that the coloniser, despite his integration, would have to be dispossessed if the colonised were ever to be free. The ANC has annually recommitted to the NDR, right up to this year.

Wat is Marxistiese/Leninistiese eskatologie, hoe lyk dit uiteindelik in Utopia? Nádat alle klasverskille uitgewis is en ná Fase 4 van die wêreldgeskiedenis (kapitalisme) verwoes is, voorspel die hoëpriesters van hierdie ideologie dat die staat self sal verdwyn. Uiteindelik, in Utopia, moet almal bloot vertrou dat die politiese elite hulself van die toneel sal verwyder. Ironies genoeg, tot dan is hierdie politiese elite allesbehalwe klasloos, hulle is trouens ongetwyfeld dié klas bo alle ander. Wanneer presies het Stalin, Lenin en ʼn oorvloed ander Marxisties-Leninistiese diktators beplan om hulself van die toneel te verwyder? Bogenoemde is egter net een van ʼn swetterjoel fatale foute van hierdie ideologie genaamd Marxisme/Leninisme.

Fatale foute van Marxisme /Leninisme

In Maart 2018 het die voormalige Sekretaris-Generaal van die ANC, mnr. Gwede Mantashe, in die konteks van ʼn gesprek oor onteiening sonder vergoeding, die volgende gesê: ‘There is a man in Queenstown, he is a big farmer. Every farm that comes to the market, he buys it. It cannot be fair. When we talk of expropriation without compensation, those are the first candidates because he is not needing land, he’s greedy. We must deal with greed’ (see Daniels 2018).

Of bogenoemde inderdaad ʼn geval van gierige hebsug is al dan nie, word nie nou in detail bespreek nie. (Miskien is die boer ongelooflik produktief met die hulpbronne onder sy beskikking; miskien kan hy sy besigheid se vaste koste oor ʼn groter bewerkte grondgebied versprei, ens.). Kom ons aanvaar argumentsonthalwe dat hebsug hier inderdaad ter sprake is. Geldgierigheid is inderdaad sonde (1 Tim 6:10), maar God het dit duisende jare gelede gesê, lank vóórdat Marx en Engels gebore is. Die vraag is eintlik of dit hoegenaamd die taak van ʼn regering is om geldgierigheid te probeer beheer? Gestel gierigheid is ʼn probleem vir regerings, wat dan nou van afguns, diefstal, moord, jaloesie, valse getuienisse, skindertaal, ens? Die eerste fatale fout van Marxisme/Leninisme is dat dit die probleem heeltemal verkeerd diagnoseer. Cone (2016:195, 197) slaan die spyker op die kop:

Communism sets out to free the human condition from the greed that so entangles us and that ultimately facilitates our own enslavement. Communism is most ambitious in its diagnosis of the human condition (greed, oppression) and in its prescription for redeeming the human condition (the abolition of all private property, and the dissolution of every societal force promulgated by the existence of capital). In communism, morality (albeit entirely redefined) is legislated to the utmost. … [Marx and Engels] misdiagnose a spiritual problem as an economic one. No amount of legislation can resolve the evil of the human heart. Law doesn’t remedy the problem; rather law makes the problem evident (e.g. Rom 2:14-15; Gal 3:24). Law serves an important purpose — both in a spiritual sense and in a socio-political one, but it cannot make men righteous. Law cannot impart the spiritual life necessary to transform one from depraved enemy of God to child of God. Law simply points us to Christ — to show us how gravely we need His gift of life, in Him, and through faith in Him.

Voortspruitend uit bogenoemde is waarskynlik die mees fundamentele fatale fout. Volgens Psalms 14:2 en 53:2 sê die dwaas in sy hart dat daar geen God is nie. Daardie ateïstiese Marxiste en Leniniste wat ʼn probleem met hierdie stelling het, kan dit gerus met God opneem.

Soos vroeër aangedui, God het sekere instellings soos die huwelik, familie en nasies geskep. ʼn Utopiese kommunistiese staat is lynreg in stryd met God se orde.

Die onvoorwaardelike verbond wat God met Noag gesluit het, is vandag steeds geldig. Ingevolge hierdie verbond moet moordenaars die doodstraf kry. Hieruit kan sekerlik afgelei word dat die mens ten minste die reg op lewe het en die reg om hierdie lewe in vryheid te mag leef. In sy Second Treatise on Government skryf John Locke dat die reg op lewe noodwendig ook die reg op private eiendom insluit. Locke gaan egter verder en voer aan dat mense nie net die reg op lewe het nie, en dus private eiendom, maar ook die reg om eiendom wat wettiglik verkry is, te behou. Cone (2016:187) beklemtoon die beginsel van universaliteit, naamlik dat ʼn basiese mensereg, soos lewe, ewe belangrik moet wees en nie op die regte van ander mag inbreuk maak nie. Die rol van ʼn regering is dan om hierdie basiese regte (lewe en vryheid) te beskerm teen buitelandse en binnelandse bedreigings. Hierdie beskerming van regte is egter glad nie dieselfde as om (nuwe) regte te voorsien nie.

Sou ʼn regering meer basiese regte begin skep of uitdeel, soos ʼn reg op indiensneming, of ʼn reg op mediese sorg, dan vra Cone (2016:189) redelikerwys of iemand anders die reg sal hê om níé iemand in diens te neem níé, of die reg om níé mediese sorg te verskaf níé. Verder moet gevra word: waar kom hierdie nuwe menseregte vandaan, van God af of van een of ander regering? As ʼn regering steeds meer regte kan uitdeel, dan kan hulle natuurlik dit ook beperk, en daarna dit ook beheer (Cone 2016:189). Die volgende opmerkings van Cone (2016:190) is relevant, veral vir Suid-Afrikaners:

The issue is that an unbounded government is not at all consistent with a constitutional one. When government takes on the role of God (able to grant inalienable rights), one government ceases to exist and another begins. In short, a government mandating social justice — by taxation or other means — has stepped outside of its well-defined parameters, and has moved towards despotism, even if doing so on well-intentioned grounds.

Baie meer fatale foute van Marxisme/Leninisme kan uitgelig word, maar slegs ʼn paar word kortliks genoem. Om wins te maak is nie per se sonde nie. Die prys wat iemand bereid is om te betaal word nie nét deur die koste van materiaal en arbeid bepaal nie (kontra Marx). Gevolglik is wins nie noodwendig die gevolg van uitbuiting van arbeiders nie. Vrye-mark stelsels wat kapitalisme onderlê bevat inderdaad onsekerhede, ʼn bietjie chaos en allerhande verskillende uitkomste, maar ten minste het indiwidue die vryheid om te kan handel. In vergelyking met die paar elite-sentrale beplanners wat na die pype van kameraad Vladimir dans, is die vrye-markstelsel nog altyd baie beter om skaars hulpbronne te benut. In teenstelling met Marx en Engels se misdiagnose van die geskiedenis, mense het nie van Wes-Duitsland oor die muur na Oos-Duitsland gevlug nie; Amerikaners haas hulle nie na Venezuela toe nie, ensovoorts. Wat van lande soos Rusland, Kuba en Venezuela wat getrou die Marxistiese-Leninistiese dogmas geïmplementeer het — hoe werk dit vir hulle uit? Et tu, Suid-Afrika?

Regerings in ʼn gevalle wêreld

Wat die vaders van die Verenigde State van Amerika (VSA) so merkwaardig maak, is dat hulle begin het met die Bybelse beginsel dat mense ná die sondeval ʼn gevalle natuur het. Vir hierdie rede het die Amerikaanse vaders ʼn regeringstruktuur ontwerp met talle wigte en teenwigte om sodoende diégene met wetgewende, regsprekende en uitvoerende gesag in toom te hou — en net so ook die regering self. James Madison, waarskynlik die hoofargitek van die VSA se konstitusie, het in Federalist No. 51 geskryf:

But what is government but the greatest of all reflections on human nature? If men were angels, no government would be necessary. If angels were to govern men, neither external nor internal controls on government would be necessary. In framing a government which is to be administered by men over men, the great difficulty lies in this: you must first enable the government to control the governed; and in the next place oblige it to control itself.

Volgens Woods (2018:E-Book Loc 1444 van 3018) verdeel die Amerikaanse regeringstelsel mag en skep terselftertyd wigte en teenwigte om elke tak van die regering nie net te beperk nie maar ook te verseker dat geen regeringstak beheer oor alles kan kry nie. Antonin Scalia (1936-2016), voormalige regter van die VSA se hoogste hof, verduidelik die uniekheid van die VSA se konstitusie:

Every tin horn dictator in the world today, every president for life, has a Bill of Rights…That’s not what makes us free; if it did, you would rather live in Zimbabwe. But you wouldn’t want to live in most countries in the world that have a Bill of Rights. What has made us free is our Constitution. Think of the word “constitution”; it means “structure”. That’s why America’s framers debated, not the Bill of Rights, during the Constitutional Convention of 1787 in Philadelphia…but rather the structure of federal government. The genius of the American constitutional system is the dispersal of power. Once power is centralized in one person, or one part [of government], a Bill of Rights is just words on paper. A constitution is about setting structure; it is not about writing the preferences of special interest groups.

As ʼn konstitusie inderdaad oor die opstel van struktuur gaan en juis níé oor die voorkeure van spesiale belangegroepe nie (kontra Magashule), dan kan mens net jou kop skud oor die opmerkings wat die Britse eerste minister, Me. Theresa May, onlangs in Suid-Afrika gemaak het. Sy ondersteun Suid-Afrika se ‘grondhervorming’ as synde dit skynbaar ‘wettig, deursigtig en volgens demokratiese prosesse’ sou plaasvind. Kaf, bog en onsin. Eerstens, ten tyde van hierdie skrywe is die onteiening van eiendom sonder vergoeding onwettig in Suid-Afrika. Die konstitusie is nog nie verander om na die pype van spesiale belangegroepe te dans nie. Tweedens, of iemand nou jou eiendom deursigtig of ondeursigtig steel, dit is nog steeds diefstal. Of iemand jou eiendom met ʼn glimlag of met ʼn stywe Britse bo-lip steel, en of hulle dit gewelddadig of via ʼn landgryp steel, dit verander niks aan die saak nie. Dit bly diefstal. Derdens, iets wat ‘demokraties is, is nie noodwendig reg nie, want getalle bepaal nie die waarheid van ʼn saak nie. Trouens, Christus het aan sy dissipels gesê om by die nou poort in te gaan — een implikasie is dat die meerderheid beslis nie altyd reg is nie. Verder, as die vorige president van Suid-Afrika, mnr. Zuma, geglo moet word, het minderhede in ʼn demokrasie minder regte as die meerderheid. Foster (2012) berig dat mnr. Zuma die volgende gesê het: ‘You have more rights because you’re a majority; you have less rights because you’re a minority. That’s how democracy works’. Dit is nogals ʼn nuwe beginsel in die reg — en tog is dit nie minder verkeerd as bogenoemde uitlatings van me. Theresa May nie.

Toe Julius Caesar in 49 v.C. die Rubicon-rivier oorgesteek het, het hierdie gebeurtenis uiteindelik daartoe gelei dat die Caesers almal diktators vir die res van hulle lewens geword het. Dit het die opkoms van die imperialistiese era van die Caesars in Rome ingelui. Suid-Afrika is nou letterlik by die afgrond, op die punt om die Rubicon oor te steek. Dit is goed om Cone (2016:190) se waarskuwing te herhaal, naamlik dat wanneer ʼn regering die rol van God inneem en begin om basiese regte uit te deel soos dit hulle pas, dan eindig een regering, ʼn ander begin en die skuif na despotisme is in sig. In hierdie verband is Cronjé se (2018) analise doodreg:

What South Africa’s farmers face today is therefore not about poverty, or public pressure, or even land itself. They have been swept up in a far deeper political and ideological conflict, the battle of ideas, over whether South Africa will survive as a modern, free, and open society or whether it will sink into a socialist and later communist morass of poverty, oppression, and state control. It is a battle for the survival of the Judeo-Christian ethic in southern Africa. And what happens to farmers is very much the litmus test of who will win that battle – meaning, and given what is at stake for the whole country, that in many respects all South Africans are commercial farmers today.

Slotopmerkings

Marxisme/Leninisme is springlewendig, maar waar dit ook al geïmplementeer word tuimel dit uiteindelik inmekaar — en sterf. Die Bybel ontbloot die ateïstiese vooronderstellings van Marxisme/Leninisme. Deur God nie eens te erken nie, kan ateïste nie akkuraat onderskei wat regtig in die geskiedenis gebeur het nie. Marxisme/Leninisme kan ook nie die sonde-probleem wat mense het akkuraat onderskei nie. Ons het almal afgewyk, ontaard en niemand doen goed nie: ‘in Adam’ het ons almal ʼn gevalle menslike natuur. Die beginsel van kennis en van wysheid is die vrees van die HERE. Begin met die HERE se Woord en ontwikkel ʼn regeringstruktuur wat mag versprei oor verskeie regeringstakke van die regering — moet júís nie mag konsolideer in die hande van ʼn paar elite politiese kaders nie. Regerings behoort beperk te wees, hul rol is om basiese mense-regte van binnelandse en buitelandse bedreigings te beskerm, maar weer eens moet regerings nie dink hulle is een of ander ‘god’ wat meer en meer regte kan uitdeel nie.

Die wêreld spoed voort na die Dag van die HERE. Dié dag sal eerstens insluit ʼn 7-jaar tydperk van ongeëwenaarde dood en vernietiging. Gedurende hierdie Verdrukkingstydperk sal die Antichris as ʼn absolute despoot oor die wêreld heers. Só ʼn wêreldorde vereis ʼn vlak van beheer wat trans-nasionaal en/of globaal moet wees. Hoe kan hierdie Sataniese agenda bereik word? Deur vandag reeds die basiese boustene van nasies aan te val: Vertrap fisiese landsgrense (of stel hulle bloot oop?), dun nasionale tale uit, verwater nasionale regerings, verbrysel nasionale kulture en vernietig selfs ook geldeenhede. Goddelike instellings soos die huwelik en familie word ook aangeval. Hierdie tendense is aan die gang, dit behoort teëgestaan te word — en plek-plek sal dit inderdaad weerstaan word — maar die Bybel is duidelik hoe dit aan die einde van hierdie bedeling gaan lyk. Hoe sal hierdie ʼnasionale leemtes’ gevul word? Deur ʼn ‘globale kultuur’ daar te stel, deur trans-nasionale stelsels op te rig en om ʼn wêreldwye godsdienstige stelsel te bevorder. Aan die einde van hierdie bedeling, teen die tyd dat die Verdrukkingstydperk begin, sal trans-nasionalisme en globalisme die bo-toon voer.

Die Dag van die HERE bevat egter nie net ʼn Verdrukkingstydperk nie, maar ook seën. Onmiddellik ná die Verdrukkingstydperk sal die Here Jesus Christus terugkeer om die Messiaanse koninkryk op aarde op te rig. Die regering van die Messiaanse koninkryk sal monargies wees, omdat alle funksies van regering (en aanbidding) in die volmaakte God-mens gesentreer sal word, die Here Jesus Christus: ‘Want die HERE is ons Regter. die HERE is ons Aanvoerder; die HERE is ons Koning; Hy sal ons verlos (Jes 33:22). Die Messias sal nie net oordeel tussen die nasies nie, maar uit Sion sal die wet uitgaan en Hy sal as Koning op die troon van Dawid regeer oor sy koninkryk.

Dit beteken nie dat die Koning alles self gaan doen nie (alhoewel Hy volkome kan, want Hy is almagtig). Christus gaan sy mag om te heers met gelowiges deel. Die Here Jesus Christus bly egter die alwyse en goeie hoof van die hele Messiaanse regering. Hy sal nie net vrede verseker nie, maar ook heiligheid, moraliteit, skoonheid, geregtigheid, genade, teerheid en waarheid. Diegene wat die evangelie van Christus geglo het, wat uit water en Gees gebore is, sal hierdie koninkryk binnekom (Joh 3:3, 5). Ek kan nie wag vir daardie dag nie.

Bronne

Cone, C., 2016, Applied Biblical Worldview: Essays on Christian Ethics, Exegetica Publishing, Fort Worth.

Cronje, F., 7 August 2018, ‘Avoiding the Abyss’, besigtig op 1 September 2018 by www.politicsweb.co.za/opinion/escaping-the-abyss

Daniels, N., 27 March 2018, ‘Mantashe: Land expropriation will deal with greedy farmers first’, Jacaranda FM, besigtig op 1 September 2018 by www.jacarandafm.com/news/news/mantashe-land-expropriation-will-deal-greedy-farmers-first/

FaithEquip, 2018, ‘The Government in the Messianic Kingdom’, besigtig op 1 September by https://faithequip.co.za/government-in-the-messianic-kingdom

Foster, G., 2012, Zuma says: ‘As Minority You Have Less Rights’, SA Promo Magazine, besigtig op 1 September 2018 by www.sapromo.com/zuma-says-as-minority-you-have-less-rights/881

Lenin, V.I., 1978, Complete Collected Works, 45 vols, Progress Publishers, Moscow.

Magashule, A., 22 July 2018, Closing plenary session of the 13th Provincial Conference of the ANC Gauteng Province, besigtig op 1 September 2018 by www.anc.org.za/content/political-input-secretary-general-anc-cde-ace-magashule-during-occasion-closing-plenary

Marx, K., & Engels, F., 1967, The Communist Manifesto, Penguin Books, New York.

Noebel, D.A., 2006, Understanding the Times: The Collision of Today’s Competing Worldviews (2nd Revised Edition), Summit Press, Manitou Springs.

Woods, A., 2018, Ever Reforming: Dispensational Theology and the Completion of the Protestant Reformation, Dispensational Publishing House, Taos. (e-Book edition)

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']