Regverdigmaking en heiligmaking

Wat leer die Bybel ons oor regverdigmaking en heiligmaking? Wat beteken hierdie woorde en waarom is dit belangrik dat gelowiges die begrippe moet ken? Redding het drie fasette — regverdigmaking, heiligmaking en verheerliking — maar vandag bespreek ons net die eerste twee fasette.

. . .

Die betekenis van regverdigmaking

“Regverdigmaking” is ʼn regsterm. Dit het betrekking op ʼn juridiese beslissing soos in ʼn hofuitspraak: die beskuldigde is óf skuldig óf word onskuldig (regverdig) verklaar. Die hemelse hof verklaar ʼn mens skuldig of regverdig. Regverdigmaking is die daad van God waardeur Hy die sondaar regverdig verklaar op grond van die volmaakte geregtigheid van Jesus Christus. Regverdigmaking beteken nie “om regverdig te wees” of “regverdig te maak” nie, maar dit beteken “om regverdig te verklaar”. Dit is ʼn juridiese daad en ʼn beslissende uitspraak. Dit is egter ook ʼn wetgewende daad, op grond van Jesus Christus se gehoorsaamheid en geregtigheid wat aan die gelowige toegereken word sodat die gelowige regverdig verklaar kan word (vgl. Romeine 4:25; 5:18). Die geregtigheid van Christus word aan ons toegereken die oomblik wanneer ons Christus vertrou vir redding.

Die middel tot regverdigmaking

ʼn Betroubare en onpartydige regter moet die skuldiges veroordeel en die regverdiges regverdig verklaar. Maar hoe kan God die goddeloses regverdig verklaar (vgl. Romeine 3:26)? Dit is moontlik omdat Christus se geregtigheid aan die gelowige toegereken word en daarom is regverdigmaking op ʼn regverdige basis. Die middel tot regverdigmaking is geloof (Romeine 3:21-22). Geloof is nie die gronde vir regverdigmaking nie, maar regverdigmaking is altyd ‘deur’ geloof of ‘uit’ geloof (Handelinge 13:38-40; Romeine 3:26-30; 5:1; 10:10). God se wet is geregverdig (verantwoord) omdat Christus se geregtigheid aan die gelowige toegereken is en die sondaar sodoende vrygespreek is.

Die grondslag van regverdigmaking

Die grondslag van regverdigmaking is drievoudig. Een, dit is gegrond op God se genade soos sigbaar gemaak in die volmaakte lewe van Jesus Christus in sy gehoorsaamheid en offerdood (Génesis 15:6; Romeine 3:24-26; 5:18-21; Titus 3:5-7). Twee, regverdigmaking is deur bloed (Romeine 5:9). Drie, die regverdige dade en geregtigheid van Jesus word aan die gelowige toegereken (1 Korinthiërs 1:30; 2 Korinthiërs 5:21). Negatief gesien, niemand sal ooit geregverdig word op grond van sy of haar werke nie (vgl. Romeine 3:28; 4:5-6; Galásiërs 2:16).

Die fasette van regverdigmaking

Die gelowige word regverdig gemaak deur God (Romeine 3:26), deur geloof (Romeine 3:28; 4:5; 5:1), deur God se genade (Romeine 3:24), deur die Gees (1 Korinthiërs 6:11), en in Christus (2 Korinthiërs 5:21). Nog ʼn faset van regverdigmaking is die gelowige se werke, nooit as ʼn middel tot regverdigmaking nie, maar as bewys dat die gelowige regverdig verklaar is (Jakobus 2:21, 24-25).

Die elemente van regverdigmaking

Deur regverdigmaking word straf vir sonde teruggetrek (Jesaja 53:5-8; Handelinge 13:38-39), die gelowige word in God se guns herstel (Galásiërs 2:16; 3:26), Christus se geregtigheid word aan die gelowige toegereken (1 Korinthiërs 1:30), en al die gelowige se sondes word vergewe (Psalm 103:12; Hebreërs 10:14).

Die resultate van regverdigmaking

Sewe resultate van regverdigmaking kan genoem word. Die gelowige het vrede by God (Romeine 5:1), staan nou in God se genade (Romeine 4:6), daar is nou geen veroordeling vir hulle wat in Christus Jesus is nie (Romeine 8:1), die gelowige word ʼn erfgenaam van God (Titus 3:7), die gelowige is regverdig verklaar, is gered van God se algemene en spesifieke toorn, en het die waarborg van uiteindelike verheerliking (Romeine 8:30; Galásiërs 5:5).

Die betekenis van heiligmaking

Die tweede faset van regverdigmaking is heiligmaking, wat beteken “om afgesonder te word” of “om eenkant gesit te word”. In ʼn geestelike sin beteken heiligmaking om “vir God afgesonder te word”. God sien gelowiges as volkome geheilig in Christus (Handelinge 20:32; Romeine 6:1-10; 1 Korinthiërs 1:2). Dit is ons posisionele heiliging in Christus. Ons lei egter nie altyd geheiligde lewens nie. Daarom is toenemende heiligmaking die proses waardeur God ons meer heilig maak en meer omvorm tot die beeld van Jesus Christus, die Seun van God. Terwyl regverdigmaking geskied op die oomblik wanneer ʼn mens ʼn gelowige in Christus word, is toenemende heiligmaking ʼn proses wat sal voortduur totdat ons óf liggaamlik sterf óf weggeruk word. Volmaaktheid in hierdie lewe is nie ʼn Bybelse leerstelling nie.

Die fasette van heiligmaking

Die gelowige is in Christus geheilig (1 Korinthiërs 1:2, 30), dit is die gelowige se posisie. Die gelowige word verder geheilig deur die Woord van God (Johannes 17:17), deur bloed (Hebreërs 13:12), deur die liggaam van Jesus Christus wat deur God berei is (Hebreërs 10:5) en aan die kruis geoffer is (Hebreërs 10:10), en deur geloof (Handelinge 26:18). Die gelowige word gered deur geloof, geregverdig deur geloof en ook geheilig deur geloof.

Die dryfvere van heiligmaking

Die kragtige, doeltreffende dryfveer van ons heiligmaking is die Drie-enige God. Elke Persoon van die Drie-eenheid is betrokke by ons heiligmaking, naamlik die Vader (Johannes 17:18-19; 1 Thessalonicense 5:23), die Seun (Efésiërs 5:25-26; Titus 2:13-14) en die Heilige Gees (Romeine 15:16; 1 Petrus 1:2). Die dryfveer wat ons tot heiligmaking dring, is die goeie wil van God (1 Thessalonicense 4:3) wat die gelowiges dring tot (verdere) heiligmaking. Die instrumentele dryfveer van heiligmaking is die Woord van God (Johannes 17:17).

Die noodsaaklikheid vir heiligmaking

Hoekom is dit nodig dat ons heilig gemaak moet word? Elke sonde in die gelowige is ʼn weerspreking van God se heiligheid. Heiligmaking omvorm dus die gelowige tot God se geregtigheid. Verder, waar daar sonde is, is daar konflik (vgl. Romeine 7:15-25). Die oogmerk van heiligmaking is om die gelowige oorwinning in hierdie konflik te gee. Die doel van heiligmaking is om die gelowige te weerhou van ʼn sondige lewe, hoewel gelowiges, totdat ons in die hemel is, altyd sonde in ons sal hê. Gelowiges kan vry wees van die mag van sonde (Romeine 6:1-14), moenie wêrelds wees nie (Romeine 6:22; 12:1-2), en moet geestelik groei. Die hoofdoel van toenemende heiligmaking is om te groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus (2 Petrus 3:18).

———————————

As jy belangstel om meer oor regverdigmaking en heiligmaking te lees, oorweeg gerus om die volledige artikel, Regverdigmaking en Heiligmaking deur dr. Arnold Fruchtenbaum te lees.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']