Rigters

Die boek Rigters handel nie oor die “goeie ou dae” in Israel nie. Inteendeel, dit beskryf die verval van Israel deur baie siklusse van verdrukking en (tydelike) verlossing in die tyd van die rigters (Rigters 3:7-16:31). Die God van Israel, egter, is getrou om sy beloftes te volvoer, hetsy dit is om Israel te seën op grond van die Abrahamitiese, Land en Mosaïese verbonde of om straf op grond van die Mosaïese verbond te bring. Israel het beweeg deur siklusse van sonde en God se toorn (2:11-14), verdrukking en knegskap onder ander volke (2:14-15), gevolg deur bekering en tydelike verlossing deur ʼn rigter (2:15b-16), totdat die volk weer eens in verdere sonde geval en daardeur die siklus herhaal het (2:17-23). Die boek Rigters begin op ʼn positiewe noot, maar dit eindig met ʼn gedeelte wat ʼn mens amper nie oor jou hart kry om te lees nie (19:1-21-25).

. . .

Die doel en hooftemas van Rigters

Twee herhalende refreine maak dit duidelik hoekom die boek Rigters geskryf is: “En die kinders van Israel het gedoen / het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE” (2:11; 3:7, 12; 4:1; 6:1; 10:6; 13:1) en ook: “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë” (17:6; 21:25; sien ook 6:1; 18:1; 19:1). Die eerste doel was dus om die tydperk van Israel se geskiedenis tussen Josua en die monargie te beskryf (McMath 2014:354). Ten spyte van die feit dat God die rigters bemagtig het om Israel van sy vyande te verlos (byvoorbeeld: 3:9, 20-22; 4:14-15; 7:15-22; 9:22-25), toon die geskiedenis dat dit nie lank geduur het voordat Israel weer afvallig geraak het nie, “agter ander gode aan gehoereer” het en ongehoorsaam was aan die gebooie van Yahweh (vgl. 2:16-17). Hierdie geskiedenis toon ook ‘die verloop van Israel se verbondsverhouding met God waar gehoorsaamheid aan die Wet gelei het tot seën en vrede, terwyl ongehoorsaamheid gelei het tot swaarkry en verdrukking’ (Rooker 2011:292). Die tweede doel van die boek Rigters is daarom nie net om uit te wys dat Israel ʼn koning nodig gehad het nie, maar meer spesifiek om die toekomstige aansprake van die huis van Dawid te ondersteun teenoor die aansprake van die huis van Saul (Fruchtenbaum 2007:22; vgl. Rooker 2011:292). In die boek Rigters word Gíbea, die toekomstige woonplek van die stam van Benjamin en Saul, in ʼn negatiewe lig geskets, terwyl Betlehem, die toekomstige woonplek van Dawid, positief uitgebeeld word (Fruchtenbaum 2007:22).

Die skrywer en datum van Rigters

Die menslike skrywer van die boek Rigters is onbekend. Die Talmoed sê dat Rigters en Rut deur Samuel geskryf is, maar dit kan nie met sekerheid gesê word nie (McMath 2014:353). ʼn Mens kan ook nie te dogmaties wees omtrent die datum wanneer die boek geskryf is nie, hoewel interne leidrade baie help. Een, Rigters is geskryf voordat daar ʼn koning in Israel was (17:6; 19:1; 21:25). Twee, volgens Rigters 1:21 het die Jebusiete nog in Jerusalem gewoon, dus in ʼn tyd voordat Dawid die stad in 1004 vC verower het (vgl. 2 Samuel 5:6-10). Drie, in Rigters 1:29 was Geser in Kanaänitiese hande, maar in omtrent 970 vC is die stad deur Farao aan Salomo gegee (1 Konings 9:16). Vier, dit blyk duidelik dat die Heilige Gees die menslike skrywer geïnspireer het om Rigters te skryf ná die gebeure wat daarin beskryf word (vgl. 1:11, 23; 3:1-2; 19:10; 20:27-28). As Rigters dus geskryf is ná die tyd van die Rigters en as die rigter Simson in 1051 vC gesterf het, moes Rigters iewers tussen 1051 vC en 1004 vC geskryf gewees het. Tabel 1 help om ʼn begrip te vorm van die historiese tydlyn vanaf die Uittog uit Egipte tot met die bou van Salomo se Tempel.

Tabel 1: Chronologie van Leiers van Israel vanaf Uittog tot met Salomo se Tempel

Tydperk van Israel se geskiedenis/RegeerderAantal jare
Vanaf die Uittog en die Woestynomswerwings40
Die Verowering van die Land7
Van die Verdeling van die Land tot die onderwerping deur Kusan10
Die verdrukking deur Kusan8
Ótniël en rus40
Verdrukking deur Moab18
Ehud en rus80
Verdrukking deur Jabin20
Barak en rus40
Verdrukking deur Midian7
Gídeon en rus40
Die regering van Abiméleg3
Tola23
Jaïr22
Die twee kante van die Jordaanrivier
Die Westekant (Filistyne) Die Oostekant
Verlies van die ark, Simson se optrede & Samuel Verdrukking deur Ammoniete; Jefta
Oorwinning oor Filistyne; Samuel regeer Ebsan, Elon, Abdon
59
Die regering van Saul (40 jaar maar minus 20 jaar wat reeds hierbo ingesluit is)20
Dawid in Hebron7
Dawid in Jerusalem33
Salomo totdat die Tempel begin is3
Totale aantal jare (vergelyk met 1 Konings 6:1)480

Bron: Fruchtenbaum (2007:17).

Die Rigters

Die titel van die boek in Hebreeus, Grieks en Latyn verwys almal na ‘rigters’ (Engels: judges). Vir Afrikaans- en Engelssprekendes kan die term ‘rigters’ (vgl. ‘regters’; Engels: judges) ietwat misleidend wees, want in Israel was hierdie rigters staatkundige, militêre en godsdienstige leiers (Fruchtenbaum 2007:5). Dit kan inderwaarheid meer toepaslik wees om hierdie rigters primêr te sien as militêre leiers wat deur God opgerig is om Israel van sy vyande te verlos (Rigters 2:16). God het in daardie tyd twaalf mans en een vrou opgerig om Israel as rigters te lei. Soos wat Fruchtenbaum (2007:7) in Tabel 2 aantoon, bevryding van Israel onder sekere van die rigters is wel opgeteken, maar dit geld nie vir almal nie.

Tabel 2: Die Rigters van Israel in die Land: Tussen Josua en Koning Saul

NommerRigters/LeiersDatums vCNotasVerlosser?
1Ótniël1373-1334Ja
2Ehud1316-1237Ja
3Samgar1265-1252Hy val binne die tydperk van Ehud.Ja
4&5Barak & Debóra1237-1198Gelyktydig.Ja
6Gídeon1198-1151Ja
Abiméleg1151-1149Selfaangestel oor ʼn stam. Nie ʼn rigter nie.NVT
7Tola1149-1126Nee
8Jaïr1126-1105Nee
Eli1107-1067Nie in die boek Rigters ingesluit nie.NVT
9Jefta1087-1081Ja
10Ebsan1081-1075Nee
11Elon1075-1065Nee
12Simson1069-1049Ja
Samuel1067-1020Oorvleuel met die tydperk van Simson.
Nie in die boek Rigters ingesluit nie.
NVT
13Abdon1065-1058Hy val binne die tydperk van Samuel.Nee

Bron: Fruchtenbaum (2007:7)

Die struktuur van Rigters

Dit is nie te moeilik nie om Rigters se struktuur te identifiseer nie, want dit volg ʼn tipiese inleidende afdeling (wat uit twee kleiner dele (1:1-3:6) saamgestel is), gevolg deur die hoofgedeelte van die boek (3:7-16:31) voor ʼn epiloog (wat ook uit twee kleiner dele (17:1-21:25) saamgestel is). Die dikwels herhaalde refrein van “En die kinders van Israel het gedoen / het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE” (2:11; 3:7, 12; 4:1; 6:1; 10:6; 13:1; vgl. ook 19:1) help ons om die struktuur te identifiseer. Deur die werk van Dorsey (1999:114, 119) en Rooker (2011:293) te gebruik, kan die boek Rigters soos volg ingedeel word:

A Israel se heilige oorlog teen die Kanaäniete 1:1-2:5
B Israel se sikliese, afgodiese verval oor geslagte heen 2:6-3:6
    C Ótniël 3:7-11
      D Ehud & Samgar 3:12-31
        E Debóra & Barak 4:1-5:31
          F Keerpunt: Gídeon 6:1-8:32
          Gídeon se optrede teen afgodsdiens by Ofra 6:1-32
            Gídeon veg teen Midianiete 6:33-7:25
            Gídeon veg teen Israeliete 8:1-21
          Gídeon verval in afgodsdiens by Ofra 8:22-32
        E’ Abiméleg, Tola & Jaïr 8:33-10:5
     D’ Jefta, Ebsan & Elon 10:6-12:15
    C’ Simson 13:1-16:31
B Israel se afgodiese opstand by Dan 17:1-18:31
A Israel se (onheilige) burgeroorlog teen Benjamin 19:1-21:25

Gevolgtrekking

Dit is maklik om die splinter in iemand anders se oog raak te sien, maar kyk na die balk wat in jou eie oog is (Matthéüs 7:3). Israel het militêr en geestelik geworstel omdat hulle nie die heilige oorlog teen die Kanaäniete afgehandel het nie en ook nie die God van Israel in geloof en gehoorsaamheid gedien het nie. Daarteenoor skyn God se verbondstrou helder regdeur die boek Rigters. Israel se verval wys wat gebeur as mense doen wat verkeerd is in die oë van die HERE omdat hulle doen wat reg is in mense se eie oë. Terwyl ons sien hoe die wêreld donkerder word, skyn die profetiese woord al hoe helderder totdat die dag sal breek en die môrester in ons harte verrys, want dit is nie net Israel wat Hom nodig het nie, maar al die volke het inderdaad die Koning van die konings en die HERE van die Here meer as broodnodig.

———————————

Bronne geraadpleeg:

Constable, T.L., 2016, Notes on Judges.

Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A Commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.

Fruchtenbaum, A.G., 2007, The Books of Judges and Ruth, Ariel Ministries, San Antonio.

McMath, J., 2014, ‘Judges’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 353-389, Moody Publishers, Chicago.

Rooker, M.F., 2011, ‘The Book of Judges’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 288-299, B&H Publishing Group, Nashville.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']