Romeine

Na Paulus se derde sendingreis wou hy na Rome en dan na Spanje gaan (Handelinge 19:22; 20:3-6; vgl. Romeine 15:19, 24). Volgens die tradisionele siening het Paulus die brief aan die Romeine in Korinte geskryf in 56-57 n.C. (Bailey & Constable 1999:249), maar ʼn minderheidsiening voer aan dit is in Filippi geskryf (Taylor 1948:14). Sonder twyfel is Fébé gevra om die brief aan die heiliges in Rome te neem (16:1-2). Anders as die Korintiërs-briewe wat talle foute van die Korintiërs aanspreek en regstel, is Romeine daarenteen ʼn sistematiese lering oor die evangelie van God (vgl. 1:1; cf. Tenney 1985:305). Met die Romeine-brief wou Paulus die Christene in Rome geestelik versterk en ook die weg baan vir sy beoogde besoek aan hulle (Romeine 1:10-13; 15:14-16, 22-24; Bailey & Constable 1999:250).

Die gehoor

Die gelowiges in Rome het Jode soos Aquila, Andronícus, Júnias en Heródion ingesluit (Handelinge 18:2; Romeine 16:5, 7, 11). Maar hierdie brief is net soveel aan Jode (2:17) as aan nie-Jode (11:13; vgl 1:5, 13) geskryf, want die evangelie van Christus is eerste vir die Jood en ook vir die Griek (1:16). Baie nie-Joodse gelowiges in die hoofstad van ʼn heidense koninkryk (Rome) word dus ook deur die apostel vir die heidene genoem (Romeine 16).

Tema

Die tema van Romeine is die evangelie van God, want in hierdie evangelie word die geregtigheid van God aan die mens geopenbaar. ‘Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ʼn krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe’ (1:16-17; OAV). Paulus verduidelik in Romeine wat Judas wou doen, naamlik om oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe (Judas 3; Witmer 1983:437), ʼn saligheid wat ʼn verlede tydsaspek het (regverdigmaking), ʼn huidige tydsaspek (progressiewe heiligmaking) en ook ʼn toekomstige tydsaspek het (verheerliking). Witmer (1983:437) sê tereg dat God verheerlik word as Paulus jubelend uitoep: ‘O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë!’ (11:33). Die goeie nuus is dat die regverdige God ook die Een is wat die persoon wat in Jesus glo regverdig verklaar (3:26).

Die geregtigheid van God is die geregtigheid wat God self besit. Nadat die tema van Romeine verklaar is (1:16-17), toon Paulus die mens se universele behoefte van hierdie geregtigheid. Heidene (1:18-2:16) sowel as die Jode (2:17-3:8) is skuldig voor ʼn regverdige God, ʼn feit wat weereens in Romeine 3:9-20 beklemtoon word: daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie een nie; almal is onder die sonde. Hoe kan ons dan, Jood of Griek, God se geregtigheid verkry? Die geregtigheid van God word alleen ontvang deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo (3:21-22).

Net soos wat die mens se behoefte na geregtigheid universeel is, so is God se voorsiening van geregtigheid dit ook (3:21-26). ʼn Mens word geregverdig in genade deur geloof in Jesus Christus. ‘Regverdigmaking is ʼn forensiese (wettiese) term wat beteken om vry te spreek en om regverdig te verklaar. God, die Regter, sien die geregverdigde sondaar in Christus (in terme van sy verhouding tot sy Seun) in wie die Vader ʼn welbehae het’ (Bailey & Constable 1999:261; eie vertaling). Sodra die gelowige só geregverdig is, moet hy of sy groei in heiligmaking (6:1-8:17) en sal uiteindelik verheerlik word om gelykvormig aan die beeld van God se Seun te wees (8:18-39).

God se geregtigheid teenoor Israel

Romeine 8 eindig op ʼn hoogtepunt deur te sê dat niks ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. Aangesien Israel gedeeltelik en tydelik verhard is, beteken dit dat die Kerk vir Israel vervang het of die “ware (of ‘geestelike’) Israel” geword het? As jy “ja” sê, hoe kan jy dan seker wees niks kan jou skei van die liefde van die Messias as hierdie belofte skynbaar nie vir Israel gewerk het nie?

Paulus verdedig die geregtigheid van God in Sy verhouding met Israel in Romeine 9-11. Baie Jode het ʼn ywer vir God, maar sonder kennis, omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid deur die wet van Moses probeer oprig (vgl. 10:2-3). Hulle het nagelaat om te buig voor die Messias deur wie God se geregtigheid toegereken word aan almal wat glo (10:4-13). Aangesien ‘hierdie geslag’ in Israel as ʼn kollektiewe groep vir Christus met sy eerste koms verwerp het (Fruchtenbaum 1989:617), het God die nasie Israel verwerp? Nee, stellig nie! (11:1). En weer ʼn keer: Nee, stellig nie! (11:11). God behou steeds vir Hom ʼn oorblyfsel van Joodse gelowiges in die Messias (11:5). Israel as ʼn nasie is gedeeltelik verhard, welke gedeeltelike verharding ook nie permanent is nie, maar ‘totdat die volheid van heidene ingegaan het’ (11:25). God sal steeds al die onvoorwaardelike en steeds-onvervulde beloftes wat Hy aan Israel gemaak het vervul (Scholtz 2016:5). Een hiervan is dat elke Jood wat aan die einde van die Verdrukking steeds fisies lewe, tot geloof in Christus kom en so sal die hele Israel gered word (11:26-27). Tydens die millennium sal Christus oor Israel en al die nasies op aarde heers, met Israel as die hoof-nasie (Scholtz 2017:1-12).

Struktuur

Hierdie uiteensetting kan vir Romeine voorgestel word: Inleiding (1:1-17); Die behoefte aan God se geregtigheid (1:18-3:20); Regverdigmaking: Die toerekening van God se geregtigheid (3:21-5:21); Heiligmaking: die toepassing van God se geregtigheid (6:1-8:17); Verheerliking: Die gelykvormigheid aan die beeld van die Seun (8:18-8:39); Regverdiging: God se geregtigheid in sy verhouding met Israel (9:1-11:36); Toepassing: God se geregtigheid aan die werk (12:1-15:13); Slot (15:14-16:27).

Slot

Elkeen van ons het ʼn dringende behoefte aan God se geregtigheid. Ons het God se krag nodig om gered te kan word. Jy kan God op sy Woord vat, want ‘ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ʼn krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe’ (1:16-17). Aan God al die eer (11:33-36).

————————-

Bronne:

Bailey, M.L. & Constable, T.L., 1999, Nelson’s New Testament survey, Thomas Nelson, Nashville.

Fruchtenbaum, A.G., 1989, Israelology: The missing link in Systematic Theology, Ariel Ministries, Tustin.

Scholtz, J.J., 2016, ‘Vooronderstellings wat die eskatologie beïnvloed’, In die Skriflig 50(1), a2170.

Scholtz, J.J., 2017, ‘Israelologie: ’n Bybels-teologiese perspektief oor Israel se verlede, hede en toekoms’, In die Skriflig 51(1), a2231.

Taylor, T.M. 1948, ‘The place and origin of Romans’, Journal of Biblical Literature 67(4), 281-295.

Tenney, M.C., 1985, New Testament Survey, revised edition, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Witmer, J.A., 1983, ‘Romans’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, pp 435-503, David C Cook, Colorado Springs.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']