
Rut
Die boek Rut is ʼn literêre meesterstuk. Dit is ook goed so, want omdat Rut direk ná die boek Rigters geplaas word – soos dit die geval is in die Septuaginta en in die meeste hedendaagse Bybels – bied dit ʼn verfrissende en vertroostende alternatief vir die neerdrukkende einde van Rigters. In die Hebreeuse Bybel, egter, is Rut nie deel van die Wet of van die Profete nie, maar eerder van die Geskrifte (Ketuvim), spesifiek die Megilloth (boekrolle) wat op vyf heilige geleenthede gedurende die jaar gelees word. Die historiese gebeure wat in Rut beskryf word, het in die tyd plaasgevind toe die Rigters regeer het (Rut 1:1), maar presies wanneer dit gebeur het kan nie met sekerheid gesê word nie. Elke keer egter, wanneer Rut aangetref word, is die heldin van die verhaal haar naam waardig, want dit beteken ‘verfrissing’, ‘vertroosting’ of ‘vriendskap’.
Tabel 1: Die Megilloth en die spesiale dae wanneer dit gelees word
Boek | In die Sinagoge gelees op |
---|---|
Die Hooglied van Salomo | (Joodse) Paasfees |
Rut | Fees van Weke of Pinksterfees (Shavuot). |
Klaagliedere | 9de dag van Av (rouklaag oor die val van Jerusalem) |
Prediker | Loofhuttefees of Fees van die Tabernakels (Sukkot) |
Ester | Feeste van Lotgevalle (Purim) |
Die doel van Rut
Die belangrikste rede hoekom Rut geskryf is, is waarskynlik om Dawid se aanspraak op die troon te verdedig teen die aansprake van die huis van Saul – ten spyte daarvan dat Dawid weens die feit van sy Moabitiese oumagrootjie ook nie-Joodse bloed in sy are gehad het (Luter & Davis 1995:16). Dit kan ook verklaar hoekom Rut moontlik geskryf is net voor of kort nadat Dawid koning van Juda geword het, in omtrent 1011-1000 vC. ʼn Tweede rede is om ʼn positiewe gevallestudie binne die genealogie van Dawid aan te bied ten opsigte van die omvang van geloof se werking en toepassing, uitgebrei na gelowiges buite die Joodse ras (Wechsler 2014:391). God se genade sluit dus die heidene in. Drie, Rut is geskryf om te wys dat God in tye van afvalligheid in die dae van die Rigters, steeds ʼn oorblyfsel in Israel behoue laat bly het wat gelowig opgetree het en aan die HERE gehoorsaam was (Fruchtenbaum 2007:279). Vier, volgens die NET Bybel (aangehaal deur Constable 2016:3), kan Rut eweveel handel oor redding as oor God se hand van voorsiening agter die skerms: ‘God gee om vir mense soos Naómi en Rut; Hy is hul bondgenoot in hierdie wanordelike wêreld. Mense soos Rut en Boas wat opofferende liefde toon en daardeur sy instrumente word om die hulpeloses te help, word ryklik deur Hom beloon. God se belonings vir diegene wat ander opofferend liefhet, oortref soms hul wildste drome en strek verder as hul leeftyd.’ Nog twee redes hoekom Rut geskryf is, het te doen met die konsepte van die losser en die swaershuwelik, soos onder bespreek.
Losser en swaershuwelik
Onder die Mosaïese Wet het die losser drie verpligtings gehad. Een, as ʼn man homself as slaaf moes verkoop of sy erfdeel (grond) moes verkoop om sy skuld te kon delg, was sy broer (of ʼn ander naby familielid) verplig om die skuld te betaal om die man en/of sy grond vry te koop. Levítikus 25 beskryf die lossingsreg. Twee, die losser moes die wreker van familiebloed wees (Fruchtenbaum 2007:276). Drie, Deuteronómium 25:5-10 bepaal dat, as ʼn getroude man sou sterf sonder om ʼn seun te hê, sy broer (as naaste losser), ʼn swaershuwelik met die oorlede broer se weduwee moes sluit onder die verpligting om vir haar ʼn seun te verwek wat die oorledene se naam en erfdeel sou voortdra. Die boek Rut verbeeld hierdie konsepte en wette in die praktyk. Wanneer Boas Naómi se grond koop, trou hy met Rut om ʼn nasaat te verwek vir die oorledene. Boas het in werklikheid meer gedoen, want hy het die tipe geword van die volmaakte antitipe. In sy mensheid het die Here Jesus Christus, die Losser-Verlosser, nie net hierdie aarde vrygekoop van enige aansprake wat Satan met die sondeval daarop kon verkry het nie, maar Jesus het ook vir ons sondes betaal, en daardeur ʼn bruid verkry. Tabel 2 toon die vereistes waaraan ʼn losser moes voldoen en vergelyk dit met wat Christus gedoen het.
Tabel 2: Die vereistes vir die Losser en die Messias se kwalifikasies
Vereiste | Verwysing in Rut | Hoe Jesus gekwalifiseer het | Verwsying in die Bybel |
---|---|---|---|
Moet ʼn naby losser wees en ʼn bloedfamilielid. | 2:1; 3:20 | Jesus het, met sy menswording, ʼn naby familielid geword van die mensdom in die algemeen en op grond van sy geboorte deur Miriam (Maria), ʼn naby familielid geword van die Joodse volk in die besonder. | Joh 1:14; Fil 2:1-11; Heb 2:12-18 |
Moet gewillig wees om die prys te betaal. | 2:8; 3:11 | Jesus was gewillig. | Matt 20:28; Joh 3:16; 10:11, 17-28 |
Moet in staat wees om dit te doen. | 2:1 | Jesus was daartoe in staat. | Heb 7:25 |
Moet self vry wees. | Jesus was self vry. | 2 Kor 5:21 | |
Moet die prys van verlossing besit. | 2:1 | Jesus het die prys van verlossing besit: onskuldige mensebloed. | Jes 53:5; Joh 1:29; 1 Pet 1:18-19, 24 |
Bron: Fruchtenbaum (2007:279).
Vergelykings van Rut met Spreuke 31 en met Ester
Sonder om in besonderhede in te gaan, bring ons in Tabelle 3 en 4 ʼn paar interessante vergelykings na vore tussen Rut en die deugsame vrou in Spreuke 31 asook tussen Rut en Ester.
Tabel 3: ʼn Vergelyking van die Deugsame Vrou en Rut
Die Deugsame Vrou in Spreuke 31 | Rut |
---|---|
Staan baie vroeg op 31:15. | Staan vroeg op om te begin werk 2:7. |
Werk met ywerige opmerksaamheid 31:27. | Werk hard en fluks 2:7, 17. |
Deugsame vrou word nie afgeskrik deur moeilike take nie, maar sy omgord haarself met krag 31:17. | Rut doen dit ook 2:17-18. |
Gee aandag aan haar huishouding se behoeftes 31:15. | Rut voorsien vir Naómi 2:14, 18. |
Onderrig goedheid (voorbeeldige gedrag) 31:26. | Rut voorbeeld van goedheid 1:8; 3:10. |
Deugsame vrou word deur haar man geprys 31:28. | Rut deur haar toekomstige man geprys 3:10. |
Geprys in die poorte van die stad 31:31. | Geprys in die poort van die stad 3:11. |
Spreuke 31 beskryf ʼn deugsame vrou. | Rut is ʼn deugsame vrou 3:11. |
Bron: Wechsler (2014:392).
Tabel 4: ʼn Vergelyking van Rut en Ester
RUT | ESTER |
---|---|
ʼn Vrou uit die heidene | ʼn Joodse vrou |
Woon tussen die Jode | Woon tussen die heidene |
Trou met ʼn Jood (Boas) in die koninklike geslagslyn | Trou met ʼn heiden (Ahasvéros, of Xerxes) wat heers oor ʼn ryk |
Albei verhale gekenmerk deur geloof en seëning | |
Benadruk die soewereiniteit van God; God se Naam word genoem. | Benadruk die voorsienigheid van God; God se Naam word nie genoem nie. |
Bron: Fruchtenbaum (2007:270).
Die struktuur van Rut
Die boek Rut bevat verskeie verhalende eenhede of episodes, elkeen opgebou deur afwisseling van situasie (toneel), tyd, karakters, verloop van handeling en onderwerp. Verskillende moontlike strukture vir die boek Rut is geïdentifiseer (vgl. Luter & Davis 1995:21; Dorsey 1999:121-128), maar die mees oortuigende voorstel blyk dié vanLuter en Rigsby (1996:15-28) te wees:
A Leeggemaak: Gesin/huis/voorsiening (verlies van man en twee seuns) 1:1-5
B Weduwees sonder hoop keer terug na Betlehem 1:6-22
C Omgewing: Oesland. Onderwerp: onmiddellike voorsiening 2:1-23
Sentrale fokus: 2:18-23 en 3:1-5 Wisselwerking
C’ Omgewing: Oesland. Onderwerp: langtermyn voorsiening 3:1-18
B’ Hoopvolle weduwees versorg in die poort van Betlehem 4:1-12
A’ Gevul: Gesin/huis/voorsiening (Rut, beter as 7 seuns, en Obed) 4:13-17
Epiloog: Stamboom van die stam van Peres 4:18-22
Wat buitengewoon voorkom ten opsigte van die struktuur van Rut is dat elkeen van bogenoemde sewe elemente van die struktuur (A, B, C, C’, B’ en A’) in sigself as ʼn chiasme gestruktureer kan word. Byvoorbeeld, Luter en Davis (1995:30) identifiseer die volgende chiasme vir “A” in bogenoemde struktuur:
A Hongersnood in Betlehem: Ontbering 1:1a
B Kort verblyf in Moab beplan deur Naómi se gesin 1:1b
C Name van Naómi se gesin wat Moab ingaan 1:2
D Naómi word ʼn weduwee (met twee seuns) 1:3
C’ Name van Naómi se Moabitiese skoondogters 1:4a
B’ Lang verblyf in Moab en dood van Naómi se seuns 1:4b-5a
A Sterfgevalle in Moab: Droefgeestigheid 1:5b
Die volgende tabel van Luter en Rigsby (1996:21) toon aan hoe voortreflik die boek Rut gestruktureer is:
Tabel 5: Die wisselwerking tussen Rut 2 en 3
Rut 2:1-23 | Ooreenkomste/Verskille | Rut 3:1-18 |
---|---|---|
Naómi, Rut en Boas | HOOFKARAKTERS | Naómi, Rut en Boas |
Begin van gars-oes | TYD/SEISOEN | Einde van gars-oes |
Boas se land/oes gars | HOOFTONEEL/-AKTIWITEIT | Dorsvloer/beskerming van gars |
God lei Rut se ‘geluk’ | VOORUIT-EINDE PERSPEKTIEF | Naómi beplan Rut se strategie |
Rut aanwesig, Boas arriveer | AANVANKLIKE WISSELWERKING | Boas aanwesig, Rut arriveer |
Vra om are op te tel (Deut 24:19) | RUT SE VRAE | Vra om te trou (Deut 25:5-10) |
Hy stem in | BOAS SE ANTWOORD | Hy stem in |
Alles aan hom gerapporteer | BOAS SE KENNIS VAN RUT | Van al die mense in die stad |
Geen klaarblyklike losser/voorsiener | KOMENDE VRAAG | Nader losser/voorsiener |
Haar fisiese behoefte | BOAS SE BESKERMING VIR RUT | Haar goeie reputasie |
Werk die hele dag | TYDSDUUR VAN TONEEL | Wag die hele nag |
Boas: Vermoënde man (2:1) | BESKRYWING VAN KARAKTER | Rut: deugsame vrou (3:11)) |
ʼn Efa gars | WAT RUT HUIS TOE NEEM VIR NAÓMI | Ses mate gars |
Naómi se vraag | VERBAND TEN OPSIGTE VAN FINALE MINI-TONEEL | Naómi se vraag |
Naómi se wysheid | AFSKEIDSGEDAGTE | Naómi se wysheid |
Bron: Luter en Rigsby (1996:21).
Gevolgtrekking
Die boek Rut is een van die heel mooiste en belangrikste kortverhale wat ooit geskryf is. Die Duitse digter Goethe het dit genoem, ‘die allerpragtigste voltooide werk op klein skaal wat ooit geskryf is’; die literêre kritikus Alexander Schroder het geskryf, ‘geen digter in die wêreld het ooit ʼn mooier kortverhaal geskryf nie’; en die vooraanstaande argeoloog W. F. Albright het geskryf dat ‘die fyn kwaliteit van Rut se verhaal orals ongeëwenaar bly: Rut se lojaliteit teenoor haar skoonma, die toneel tussen haar en Boas in hoofstuk 3, en die finale episode met Naómi (4:14-17) is juwele in wêreldliteratuur’ (almal aangehaal deur Constable 2016:4-5). Hierdie pragtige kortverhaal van Rut wys egter ook duidelik vooruit na die Losser-Verlosser wat aan die kruis nie net die wêreld gekoop of verlos het nie, maar die Seun van Dawid, die Seun van Abraham, het ook met sy bloed aan die kruis vir elke mens persoonlike verlossing gekoop. Daar is geen groter of belangriker liefdesverhaal as dit nie.
———————————
Bronne geraadpleeg:
Constable, T.L., 2016, Notes on Ruth, 2016 edition.
Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A Commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.
Fruchtenbaum, A.G., 2007, The Books of Judges and Ruth, Ariel Ministries, San Antonio.
Luter, A.B. & Davis, B.C, 1995, Ruth & Esther: God Behind the Seen, Baker Book House, Grand Rapids.
Luter, A.B. & Rigsby, R.O., 1996, ‘An adjusted symmetrical structuring of Ruth’, Journal of the Evangelical Theological Society 39(1), 15-28.
Wechsler, M.G., 2014, ‘Ruth’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 391-398, Moody Publishers, Chicago.
Volg ons op sosiale media:
Deel met ander:
[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']