Satanologie (Deel 1)

Is Satan ʼn persoonlike wese of net ʼn ‘uitstraling’ of ʼn bose mag? Waar kom Satan vandaan? Veroorsaak Satan elke sonde en stoornis in iemand se lewe? Hierdie en ander vrae word in hierdie reeks van drie artikels oor wat die Bybel omtrent Satan leer, bespreek. Die reeks is ʼn gedeeltelike opsomming van ʼn artikel deur dr. Arnold Fruchtenbaum van Ariel Bedieninge wat deur FaithEquip in Afrikaans vertaal is: Satanologie: Die leer van Satan.

Wat die Bybel leer

Die Bybel leer ondubbelsinnig dat Satan bestaan. Satan word in 7 Ou-Testamentiese boeke en in 19 Nuwe-Testamentiese boeke vermeld. Jesus het 25 keer na Satan verwys (sien byvoorbeeld Matthéüs 4:10; Markus 3:26; Lukas 13:16; Johannes 12:31) en het duidelik onderrig dat Satan bestaan. Satan word deur elke Nuwe-Testamentiese skrywer vermeld. Satan is nie net ʼn uitstraling of ʼn denkbeeldige, simboliese karakter nie. Die Bybel leer sonder enige twyfel dat Satan bestaan.

‘n Persoonlike wese

Nie slegs bestaan Satan nie, maar die Bybel toon aan dat hy ʼn werklike, persoonlike wese is. Satan het al drie kenmerkende eienskappe van persoonlikheid: intellek, emosie en wil. Dat Satan intellek het, word gesien in Job 1-2, waar hy met God redeneer. In Matthéüs 4:6 haal Satan die Bybel aan, wat intellek toon. In 2 Korinthiërs 11:3 word Satan beskryf as listig, wat ʼn funksie van intellek is. Wat emosies betref, word Satan uitgebeeld as verwaand en vervul met woede – albei tekens van emosie (1 Timótheüs 3:6; Openbaring 12:12, 17). Wat sy wil betref, het Satan vyf keer ‘Ek wil’ gesê (of dit geïmpliseer) in Jesaja 14:13-14. Daar bestaan geen twyfel dat Satan ʼn persoonlike wese is nie.

Die Bybel gebruik ook persoonlike voornaamwoorde om na Satan te verwys. Die Griekse taal beskryf sekere objekte as onsydig (nie manlik nie en ook nie vroulik nie). As Satan net ʼn ‘ding’ of ʼn ‘uitstraling’ was, sou die onsydige vorm in die Griekse taal van die Nuwe Testament gebruik gewees het. Daar word egter altyd na Satan verwys in manlike voornaamwoorde soos ‘hy’, ‘syne’ of ‘hom’, en nooit as ʼn ‘dit’ nie.

Verdere bewyse dat Satan ʼn werklike persoonlike wese is, is dat hy optree soos ʼn persoon, nie soos een of ander ‘ding’ of ʼn uitstraling nie. Byvoorbeeld, dinge of uitstralings doen nie sonde nie, maar die Bybel sê dat die duiwel van die begin af sondig (1 Johannes 3:8). In Sagaría 3:1 tree Satan op as ʼn geregtelike aanklaer. Johannes 8:44 leer dat Satan begeer, lieg en moor. Dit is die dade van ʼn werklike persoon. Verder word Satan, as ʼn persoon, moreel verantwoordelik gehou vir sy dade. Onsydige dinge word nie in die ewigdurende vuur gegooi nie (Matthéüs 25:41), maar persone wel.

Die Bybel is baie duidelik daaromtrent dat Satan bestaan en dat hy ʼn werklike persoonlike wese is. Wanneer godsdienstige groepe die teenoorgestelde leer en sê dat Satan nie werklik bestaan nie of dat hy net ʼn ding is, ʼn uitstraling, of een of ander bose mag (en dit word inderdaad in Suid-Afrika geleer), moet ʼn mens nie hierdie vals leerstellings glo nie, maar vashou aan wat die Bybel leer en dit verdedig. Die Skrif kan nie gebreek of ongeldig verklaar word nie (vgl. Johannes 10:35).

‘n Geskape wese

Satan het nie van ewigheid af bestaan nie; hy is ʼn geskape wese. God het Satan geskape sonder enige tekortkoming. Inderdaad was Satan, toe hy geskape is, die volle somtotaal van wysheid en volmaakte skoonheid, wat beteken dat Satan die heel wysste en mooiste van alle geskape wesens was (Eségiël 28:11-15).

Satan is as ʼn gérub geskape en het selfs die gesalfde gérub, of aartsgérub geword. Dit beteken dat hy oor die ander gérubs geheers het. Satan was bedek met edelgesteentes en was in bevel van die aanbidding van God in die hemel (Eségiël 28:11-15).

Ter beklemtoning net weer, God het Satan sonder enige tekortkoming geskape. Toe God die hemelwesens (wat Satan insluit) geskape het, is hulle heilig geskape maar met die mag van vrye keuse (vgl. Markus 8:38; Judas 6). Dit beteken dat hulle keuses kon uitoefen wat strydig met hul aard en natuur is. As hul keuse ooreenkomstig God se wil heilig was, is hierdie hemelwesens in hul heiligheid bevestig. Dit is wat twee derdes van die hemelwesens gedoen het. Omdat hulle in hul heiligheid bevestig is, het hierdie heilige en uitverkore hemelwesens nie meer die mag van vrye keuse nie – met ander woorde, hulle kan nie meer sondig nie.

Soos dit egter gebeur het, het Satan en ʼn derde van al die hemelwesens gekies om ʼn onheilige keuse uit te oefen (vgl. Openbaring 12:4).

In die volgende artikel sal ons Satan se val bespreek, sy verskillende wonings, bestemmings, en ook sy aard en natuur.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']