Sieninge oor die Messiaanse koninkryk

Twee sieninge oor Christus se Messiaanse koninkryk domineer die teologiese wêreld. Die eerste siening sê dat Christus die Messiaanse koninkryk “alreeds” tydens sy eerste koms opgerig het, maar dat hierdie koninkryk eers tot volle verwesenliking gebring sal word met Christus se weerkoms. Dit is die “Alreeds-maar-nog-nie” siening. Die tweede siening sê dat Christus nie die Messiaanse koninkryk tydens sy eerste koms opgerig het nie, maar sal dit doen tydens sy weerkoms na die aarde toe. Dit is die “Nee, nog nie” siening. Hierdie sieninge beïnvloed teologie in die algemeen en lering oor die koninkryk in die besonder.

Nie-chiliastiese “Alreeds-maar-nog-nie”

Verbondsteoloë en Nuwe verbondsteoloë wat nie chiliasties is nie — met ander woorde wat nie dink dat Jesus ná sy weerkoms na die aarde vir ʼn 1000 jaar gaan regeer vóór die ewige bestel aanbreek nie — glo dat die Messiaanse koninkryk “alreeds” tydens Christus se eerste koms begin het. Vir hulle beteken die “nog-nie” gedeelte dat Christus tydens sy weerkoms alle mense sal oordeel en dan sal die ewige bestel aanbreek, dit is die nuwe hemel en die nuwe aarde. Volgens hierdie groep is daar net een fase van die Messiaanse koninkryk vóórdat die ewige bestel aanbreek — en dit vind vandag plaas, tussen die twee komste van Christus. Vir hierdie groep is die Kerk tot ʼn baie groot mate die koninkryk, of ʼn verwesenliking daarvan, terwyl Israel min tot geen rol in die toekoms gaan speel nie.

Chiliastiese “Alreeds-maar-nog-nie”

Daar is verbondsteoloë en nuwe verbondsteoloë wat chiliasties (of premillenniaal) is en wat ook die “Alreeds-maar-nog-nie” siening huldig. Vir hulle is die Messiaanse koninkryk ook “alreeds” opgerig, terwyl die “nog-nie” gedeelte na die koninkryk in die millennium verwys. Christus sal dan die koninkryk in die 1000-jaar tot volle verwesenliking bring. Volgens hierdie groep is daar dus twee fases van die Messiaanse koninkryk voordat die ewige bestel aanbreek: gedurende die Inter-Advent Periode en in die toekoms in die millennium. Vir hierdie groep is die Kerk in albei fases ʼn manifestasie van die koninkryk. Israel het steeds min tot geen rol in die toekoms te speel nie. Progressiewe dispensasionaliste val ook in hierdie spesifieke “Alreeds-maar-nog-nie” groep, maar hulle sien wel ʼn rol en plek vir Israel in die millennium.

“Nee, nog nie”

Tradisionele dispensasionaliste sê dat Christus tydens sy eerste koms die koninkryk vir Israel aangebied het. Christus het met woord en wonderdaad bewys Hy is die gesalfde (Messias) en die koninkryk kon vir Israel opgerig geword het mits Israel die Koning van die Jode aanvaar het. Onder die (mis)leiding van die godsdienstige leiers van daardie spesifieke generasie Jode is Christus egter verwerp. Die gevolg is dat die koninkryk nie tydens Christus se eerste koms opgerig is nie. Hy sal dit egter met sy tweede koms na die aarde toe oprig en dan vir ʼn 1000-jaar regeer voor die aanbreek van die ewige bestel. Die Kerk is dus nie die koninkryk nie; gelowiges wat gedurende die Inter-Advent Periode leef is seuns en dogters van die koninkryk in dié sin dat hulle die koninkryk sal beërwe wanneer Christus dit tydens sy weerkoms aarde toe sal vestig. Volgens hierdie dispensasionaliste gaan daar dus net een fase van die koninkryk wees voor die ewige bestel aanbreek. In die millennium sal Christus as Koning regeer, die Kerk sal as sy vrou saam met Hom regeer, en Israel sal as hoof-nasie ʼn belangrike rol speel.

Teologiese verskille

Wat die Messiaanse koninkryk betref, wat is die grootste teologiese verskille tussen die “Alreeds-maar-nog-nie” en die “Nee, nog-nie” sieninge? Ek dink die kernsake sluit in:

  1. Die “Alreeds-maar-nog-nie” siening glo dat Christus nou in die hemel op die Dawidiese troon sit en reeds oor die aarde as die Dawidiese koning heers. Die “Nee, nog nie” siening glo dat Christus nou op die Vader se troon in die hemel sit, nie reeds op die Dawidiese troon nie, en dat Christus eers in die millennium op die Dawidiese troon sal sit en dan as Koning oor die aarde sal heers. Wat die Kerk gedurende die Inter-Advent Periode betref, Christus is die Hoof van die Kerk en funksioneer tans as Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek, maar Hy oefen nie op hierdie stadium alreeds sy gesag as Dawidiese koning uit nie. Die kernsaak is wanneer Christus watter aspekte van die Dawidiese verbond (gaan) vervul.
  2. Nie-chiliaste wat die “Alreeds-maar-nog-nie” siening huldig verstaan die koninkryk as slegs geestelik-in-die-hart. Die “Nee, nog nie” siening sê dat om in die koninkryk in te gaan het inderdaad ʼn geestelike voorvereiste, dit is geestelike weergeboorte, maar die Bybel skets nie die koninkryk as iets wat nét geestelik is nie. Die Messiaanse koninkryk op aarde gaan ook politiese, sosiale, ekonomiese en ander aspekte bevat. Die kernsaak is wat die Bybel oor die aard van die Messiaanse koninkryk leer.
  3. Nie-dispensasionaliste sê dat daar min tot geen toekomstige rol vir Israel oorbly. Watter rol daar ook al mag wees, dit sal as deel van die Kerk wees. Dit is die “Alreeds-maar-nog-nie” siening wat alle nie-dispensasionaliste huldig. Alle dispensasionaliste (progressief of tradisioneel) sien wel ʼn rol vir Israel, veral in die millennium. Die kernsaak is die rol en plek van Israel, veral in die toekoms, en of die Kerk nou ook die identiteit van “Israel” het.
  4. Wat hermeneutiek betref, alle voorstanders van die “Alreeds-maar-nog-nie” siening laat tot ʼn mate toe dat die Nuwe Testament die Ou Testament hermeneuties “herinterpreteer”, vergeestelik, transformeer of idealiseer. Die “Nee, nog nie” siening sê dat die Nuwe Testament vanselfsprekend nuwe openbaring gee en soms interpreteer die Nuwe Testament sekere referente wat in die Ou Testament voorkom, maar die Nuwe Testament herinterpreteer, vergeestelik, transformeer of idealiseer nie die Ou Testament nie. Die kernsaak is die verhouding tussen die Ou en Nuwe Testament.
  5. Voorstanders van die “Nee, nog nie” siening sê dat alle onvoorwaardelike en steeds-onvervulde verbondsbeloftes en profesieë letterlik in die geskiedenis vervul moet word, dit is, vóór die ewige bestel aanbreek. Die Nuwe Testament beskryf verskeie soorte “vervulling” van die Ou Testament. Daar is byvoorbeeld die letterlike vervulling van letterlike verbondsbeloftes en profesieë, maar daar is ook tipologiese, analogiese, etiese en opsommende vervullings van die Ou Testament in die Nuwe Testament. Die “Nee nog nie” siening sê die feit dat die Nuwe Testament verskillende soorte “vervullings” aandui, en nie al hierdie vervullings was die letterlike vervulling van profesieë nie, beteken nog steeds nie dat onvoorwaardelike en steeds-onvervulde verbondsbeloftes en profesieë nie letterlik in die geskiedenis (toekoms) vervul sal word nie — dit sal letterlik vervul word soos dit belowe is. Om te dink dat onvoorwaardelike en steeds-onvervulde beloftes nie vervul sal word nie, is op ‘n logiese fout gebaseer. Daar is byvoorbeeld ʼn onvoorwaardelike Ou-Testamentiese profesie dat Christus sal terugkom aarde toe. Almal gee toe dat hierdie profesie letterlik vervul sal word. Indien dan so, waarom dan sal al die ander onvoorwaardelike verbondsbeloftes en profesieë nie ook letterlik vervul word nie? Voorstanders van die “Alreeds-maar-nog-nie” siening dink dat die manier hoe die Nuwe Testament aantoon hoe die Ou Testament vervul word, beteken dat jy kan sê dat sommige onvoorwaardelike en steeds-onvervulde Ou-Testamentiese profesieë nie letterlik vervul hoef te word nie. Die kernsaak gaan dus oor die letterlike vervulling van onvoorwaardelike en steeds-onvervulde profesieë in die Bybel, veral dié in die Ou Testament. Wat hiermee saamgaan is mense se verskillende begrippe van die verbonde wat in die Bybel voorkom — nie verbonde wat eisegeties ingelees word nie — en die wisselwerking tussen hierdie Bybelse verbonde.

Bogenoemde twee sieninge oor die Messiaanse koninkryk kan só opgesom word:

 Nié-chiliastiese verbondsteologie of nuwe verbondsteologiePremillennialistiese verbondsteologie
of nuwe verbondsteologie
Progressiewe dispensasionalisme
Dispensasionalisme
Messiaanse koninkryk ‘alreeds’ begin?JaJaJaNee
“Nog nie” verwys na?Ewige bestelMillennium & ewige bestelMillennium & ewige bestelMillennium & ewige bestel
Fase(s) van koninkryk vóór ewige bestel?1221
Agent(e) in koninkryk op aarde?KerkKerk + KerkKerk + IsraelIsrael (+ Kerk as Christus se vrou)
NT herinterpreer die OT?JaJaJaNee
Christus regeer “alreeds” as Koning op die Dawidiese troon?JaJaJaNee
Sal God alle onvoorwaardelike beloftes/profesieë letterlik vervul?NeeNeeNeeJa

Bronne: Constable (2019:691) en Scholtz (2016:5), beide effens aangepas.

Slotopmerkings

Ek huldig die “Nee, nog nie” siening. Christus het die koninkryk vir Israel tydens sy eerste koms aangebied (vgl. Mat 3:2; 4:17: 10:5-6; 15:24; vgl. Hand 1:6-7). Soos wat Christus vir Nikodemus geleer het, jy kan die Messiaanse koninkryk slegs binnegaan mits jy weergebore is (Joh 3:3-5), maar dié koninkryk gaan nie iewers in die hemel op wolkies rondsweef nie, dit gaan letterlik op die aarde opgerig word (Mat 19:28; 25:31-34; Hand 1:6-7; Op 5:10b). Christus sal die Wetgewer, Regspreker en Koning van die Messiaanse regering wees — en in die koninkryk sal daar ook ekonomiese, sosiale en kulturele aktwiteite wees (en nog meer wat nie nou opgenoem word nie).

Verskeie van Christus se Messiaanse wonderwerke het voorskouinge gewys van hoe die koninkryk gaan lyk. Israel het Christus egter verwerp (vgl. Mat 12:22-45) en die oprigting van die Messiaanse koninkryk is uitgestel totdat ʼn Joodse generasie in die toekoms gaan sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here” (Mat 23:39). God het ʼn plan met die nasies, Israel is die hoof-volk of hoof-nasie — en dié plan van God kan nie deur ongelowige engelwesens of mense gefnuik word nie. God se plan met die nasies sal gedurende die millennium tot verwesenliking gebring word.

Gedurende die Inter-Advent Periode bou Christus sy Kerk, ʼn internasionale liggaam van gelowiges – en hierdie seuns en dogters sal die koninkryk beërwe, dit binnegaan, wanneer Christus terugkeer aarde toe. Christus sit tans op die Vader se troon in die hemel, Hy bou sy Kerk en Hy is as Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek aktief besig.

Christus het tydens sy eerste koms die reg teruggewen wat Adam aan Satan afgestaan het. Christus gaan egter eers op sy Dawidiese troon sit, ʼn troon wat vir die aarde bedoel is, en sy gesag as Koning oor die aarde begin uitoefen, met sy weerkoms (vgl. Mat 19:28; 25:31-34).

God se raadsplan in Christus is van voor die grondlegging van die wêreld deur die soewereine God bepaal; die storielyn van God se raadsplan in Christus verander nie. Daar is geen rede om skielik hermeneutiese veranderinge tussen Maleagi en Matteus in te werk nie. Die Nuwe Testament gee vir geen eksegeet die reg om God se Ou-Testamentiese openbaring te herinterpreteer of te vergeestelik na wat teoloë dink die Ou Testament sê nie. God sê wat Hy bedoel en Hy bedoel wat Hy sê. Ongeag waar dit in die Bybel staan, God sal elke verbondsbelofte en profesie vervul presies soos wat Hy gesê het Hy dit sal doen. Al God se beloftes is “ja” en “amen” in Christus, tot heerlikheid van God (vgl. 2 Kor 1:20).

Bronne

Constable, T.L., 2019, Notes on Mattew, Plano Bible Chapel. Beskikbaar by: https://planobiblechapel.org/tcon/notes/pdf/matthew.pdf

Scholtz, J.J., 2016, ‘Vooronderstellings wat eskatologie beïnvloed’, In die Skriflig 50(1), a2170. Beskikbaar by: https://indieskriflig.org.za/index.php/skriflig/article/view/2170/4086

Scholtz, J.J., 2019, God se raadsplan in Christus, FaithEquip, Amsterdam. Beskikbaar by: https://faithequip.co.za/godseraadsplan/koop-die-boek/

 

Volg ons op sosiale media:

Image(s) used under license from Shutterstock, copyright 2019.