Wat gaan in 2026 gebeur? Mense weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie, maar God weet (vgl. Jes 46:9-11). In die Bybel openbaar God baie inligting oor die toekoms. Gelowiges kan weet wat God oor die eindtye gesê het. By FaithEquip glo ons dat die wegraping van die Kerk enige tyd kan gebeur (miskien selfs vandag), maar ons glo nie dat die 7-jaar Verdrukkingstydperk in 2026 kan begin nie.
Baie mense glo nie dat Christus vir ’n duisend jaar op aarde gaan regeer voordat die ewige bestel gaan aanbreek nie. Openbaring 20 se ses verwysings na “duisend jaar” beteken dan net ‘n “simboliese tyd” wat basies die hele interadventtydperk dek. Gegewe hierdie siening impliseer twee van die drie eskatologiese sienswyses (naamlik amillennialisme en postmillennialisme) onteenseglik dat Christen-martelare tydens die hele simboliese duisend jaar (i.e. die interadventtydperk) vermoor word, ʼn geestelike eerste opstanding ervaar, en tydens die interadventtydperk geestelik saam met Christus regeer. Is dit egter so?