Sewe redes waarom dit goed is om meer oor die koninkryk van God te leer word in hierdie artikel bespreek. Deur kennis te neem van wat die Bybel ons oor die koninkryk van God leer, sal jou lewe prakties verander word. Jou begrip van die hele Bybel gaan verbeter en jou verhouding met die Here sal positief beïnvloed word.
Die Bybel verwys na “hierdie eeu” en die “toekomstige eeu/die eeu wat kom” (vgl. Luk 20:34; Ef 1:21; Heb 6:5). Byvoorbeeld, Jesus sê vir die godsdienstige leiers van Israel tydens die eerste koms dat die lastering teen die Heilige Gees hulle nie vergewe sal word nie, nie in “hierdie eeu nie en ook nie in die toekomende nie” (Mat 12:32). Wat word met “hierdie eeu” bedoel, wanneer het dit begin en hoe gaan dit eindig? Waarna verwys die “toekomstige eeu”?