Sondagjoernaal Lizelle de Bruin gesels met Jaco Scholtz

Die komende Koning en sy Messiaanse koninkryk bied die lering oor die koninkryk van God aan soos wat dit progressief vanaf Genesis tot Openbaring ontvou. Die koninkryk van God is die sentrale tema van die Bybel, van voor die grondlegging van die wêreld af, in die begin, regdeur die geskiedenis, en tot in die ewige bestel. Jesus Christus is nie net die Verlosser nie, maar hy is ook die komende Koning wat suksesvol oor die aarde sal heers tot in alle ewigheid. Die Bybel se meta verhaal vertel hoe die Laaste Adam alles sal herstel wat in Eden verlore gegaan het. Kom ontdek hoe God sy koninkryksplan in Christus tot uitvoering gaan bring in Die komende Koning en sy Messiaanse koninkryk.

Verborgenhede van die koninkryk — of ʼn “verborge koninkryk”?

Omtrent ʼn eeu gelede het die idee in Amerika posgevat dat Matteus 13 nie verborgenhede van die koninkryk beskryf nie, maar eerder ʼn “verborge koninkryk”. Die siening was dat sedert Matteus 13 tot om en by die weerkoms van Christus na die aarde toe, ʼn nuwe soort koninkryk in ʼn “verborge vorm” gekom het, wat dan verder beskryf word met woorde soos die “Christendom”.