Fisiese vervangingsteologie?

Baie mense dink verkeerdelik dat die Kerk nou ʼn geestelike Israel is. Die Kerk neem egter nie Israel se plek in God se raadsplan oor nie; dit is geestelike vervangingsteologie. Wanneer ʼn nie-Jood in Christus glo word hierdie persoon ʼn geestelike kind van Abraham; dit is egter onlogies om te dink dat hierdie persoon ewe skielik nou óók ʼn biologiese afstammeling van Jakob word. Die ware Israel, die Israel van God, is gelowige afstammelinge van Jakob (wie se naam later Israel geword het).

Sommige mense dink verkeerdelik dat tien van Israel se stamme “verlore” is. Verder, party van hulle sou graag die plek van hierdie “verlore” stamme wou oorneem, maar dit is onmoontlik en sou neerkom op ʼn fisiese vervangingsteologie. Afstammelinge van Jakob is Jode; alle ander mense is nie-Jode. Die idee dat sommige stamme van Israel verlore is, is vals — en idees wat hierop voortbou is eweneens vals.