Teen die herinterpretasie van die Ou Testament

Gee die Nuwe Testament vir ʼn Christen die opsie om die Ou Testament te ‘herinterpreteer’? Hierdie belangrike vraag kom in wese neer op die volgende: Sal onvoorwaardelike Ou-Testamentiese en tot-nog-toe onvervulde profesieë letterlik vervul word — of is hierdie beloftes vervul (of sal dit nog vervul word) op ʼn nie-letterlike wyse, hetsy metafories, allegories of geestelik?

Nuwe Testament prioriteit bo die Ou Testament?

Volgens Riddlebarger (2003:37–38) is die Nuwe Testament die finale arbiter oor die Ou Testament, want as Nuwe-Testamentiese skrywers party Ou-Testamentiese profesieë skynbaar vergeestelik en op ʼn nie-letterlike wyse behandel, dan moet ander Ou-Testamentiese profesieë kwansuis ook sodanig behandel word. Hoe sou die Nuwe Testament dit dan doen? Met verwysing na die hantering van Hosea 11:1 in Matteus 2:15, sê Ladd (1977:20–21) dat die Nuwe Testament die Ou-Testamentiese profesieë op ʼn manier interpreteer wat nie deur die Ou-Testamentiese konteks aan die hand gedoen word nie en daarom glo hy dat die Ou Testament deur die Nuwe Testament herinterpreteer moet word in die lig van die Christus-gebeurtenis. Hierdie kan as “Benadering A” beskryf word en dit verleen ongetwyfeld prioriteit aan die Nuwe Testament bo die Ou Testament, en dit het ʼn wesenlike effek op jou begrip oor hoe letterlike, onvoorwaardelike en steeds-onvervulde Ou-Testamentiese profesieë dan wel vervul sal word al dan nie.

ʼn Tweede benadering (noem dit “Benadering B”) beklemtoon, net soos Benadering A, dat die Persoon en werk van Jesus Christus die sentrale fokus van die hele Skrif is. Omdat latere openbaring in die Bybel op die openbaring voortbou wat God reeds voorheen in die Bybel gegee het, hou voorstanders van Benadering B egter vol dat die beginpunt vir die verstaan van die Ou-Testamentiese skrifgedeeltes steeds die toepassing van die beginsel van normale, letterlike interpretasie op sodanige Ou-Testamentiese skrifgedeeltes is. Die betekenis van Ou-Testamentiese tekste word immers nie in die Nuwe Testament gevind nie, maar in die Ou Testament en in dáárdie konteks. Byvoorbeeld, die oorspronklike bedoeling van Jesaja word nie in Openbaring, Hebreërs of in Handelinge gevind nie, maar in Jesaja. ʼn Mens lees die Bybel van begin tot einde, nie andersom nie. Die Nuwe Testament mag lig op die Ou Testament werp, kommentaar lewer, addisionele toepassings maak of referente byvoeg, maar soos Vlach (2012:24) aantoon, die Nuwe Testament verander nie die oorspronklike bedoeling van die Ou-Testamentiese skrywers nie.

Stallard som die twee benaderings tot Bybelse teologie soos volg op:

 Benadering ABenadering B
Stap 1Erken vooronderstellings.Erken vooronderstellings.
Stap 2Formuleer ʼn bybelse teologie van die Nuwe Testament gebaseer op ʼn letterlike interpretasie (grammaties-historiese metode) van die Nuwe Testament.Formuleer ʼn bybelse teologie van die Ou Testament gebaseer op ʼn letterlike interpretasie (grammaties-historiese metode) van die Ou Testament.
Stap 3Formuleer ʼn bybelse teologie van die Ou Testament gebaseer op ʼn Nuwe-Testamentiese begrip van die Ou Testament.Formuleer ʼn bybelse teologie van die Nuwe Testament gebaseer op ʼn letterlike interpretasie (grammaties-historiese metode) van die Nuwe Testament met inagneming van stap 2 se resultate.
Stap 4Lewer ʼn bybelse teologie en daarna ʼn sistematiese teologie deur alle insette te sistematiseer, insluitende stappe 2 en 3.Lewer ʼn bybelse teologie en daarna ʼn sistematiese teologie deur alle insette te sistematiseer, insluitende stappe 2 en 3.

Bron: Stallard (1997:16-18).

Waarom is Benadering B beter? Ten minste sewe redes kan aangebied word:

  1. Om een deel van die Bybel bo ʼn ander te verhef is teenstrydig met die konsep van inspirasie, want alles wat God openbaar het is eweveel gesaghebbend. Meer nog, die openbaring van die Nuwe Testament kan nie die openbaring van die Ou Testament weerspreek nie. As Benadering A egter gevolg word, duik teenstrydighede gereeld op. Byvoorbeeld, as God die Nuwe Verbond aan Jeremia openbaar (31:31-37), sê die HERE spesifiek dat die nageslag van Israel nooit sal ophou om ʼn volk te wees nie. Baie voorstanders van Benadering A hou egter vol dat Israel in die Nuwe Testament vervang is en/of dat Israel geen toekoms het nie. Dit is egter presies die teenoorgestelde van wat God baie duidelik en eksplisiet sê!
  2. Die superstruktuur van die Bybelse teologie weerspieël die ‘revelational foundation from which it has been derived’ (Stallard 1997:19). Benadering B is getrou aan hierdie historiese perspektief en fondasie waarin skriftelike openbaring gegee is, maar benadering A is nie (Stallard 1999:19).
    1. Negatief beskou, indien die interpretasie van die Ou Testament ondergeskik aan die Nuwe Testament gestel word (Benadering A se stappe 2 en 3), is dit duidelik waar die klassieke debat tussen letterlike en allegoriese interpretasies vandaan kom (Stallard 1997:18). Benadering A is die resultaat van die grammaties-historiese hermeneutiek vir die Nuwe Testament, maar dan word daar terugbeweeg word na dit wat Benadering A dink die Ou Testament leer (Saucy 1993:20). Die Ou Testament word dan herinterpreteer of selfs geminimaliseer deur wat kommentators dink die Nuwe Testament oor die Ou Testament sê (Pettegrew 2007:196).
    2. Positief beskou, indien Ou-Testamentiese Bybelse teologie as inset vir Nuwe-Testamentiese Bybelse teologie dien (Benadering B se stappe 2 en 3), kan die Ou Testament steeds konsekwent met behulp van die grammaties-historiese metode geïnterpreteer word. Stallard (1997:18) voer aan dat ʼn mens nie bo jou bronne kan uitstyg nie, en dat Benadering B beter is omdat dit ʼn ware Ou-Testamentiese Bybelse teologie behoue laat bly (stap 2 van Benadering B), dit dan kan dien as basis vir ʼn Nuwe-Testamentiese Bybelse teologie (stap 3) sodat die Bybelse teologie in die sistematiese teologie gebruik kan word (stap 4).
  3. Benadering B behou die Bybelse storielyn, veral wat die lering oor die koninkryk van God betref. Vlach (2017:39) stel dit goed: ‘[T]he NT continues the OT storyline and affirms literal fulfillment of the OT promises and covenants in all their dimensions through two comings of Jesus’.
  4. Net so waarsku J.S. Feinberg (1988:76, 79) dat, tensy die Nuwe Testament dit eksplisiet aandui, progressiewe openbaring nie onvoorwaardelike en steeds onvervulde beloftes of profesieë in die Nuwe-Testamentiese era kan kanselleer of ongedaan maak nie. Wat vir direkte, letterlike profesieë geld, geld ook vir tipes en antitipes. Die beginsel van letterlike interpretasie erken beslis die gebruik van tipe en antitipe, maar dit is ʼn kategoriefout om die grammaties-historiese metode op te hef of met ʼn nuwe hermeneutiese metode, genaamd ‘tipologiese interpretasie’, te vervang.
  5. Indien Benadering A gevolg word, is die kanse kleiner dat Nuwe-Testamentiese verborgenhede reg geïnterpreteer kan word. Dit beteken nie dat Benadering B alles regkry nie. Verder, ek dink dat Benadering B ook die profetiese belangrikheid en tipologiese vervulling van die feeste van die HERE beter waardeer.
  6. Ek dink dat Benadering B lei tot ʼn beter Bybelse begrip van Israelologie, Ekklesiologie en Eskatologie.
  7. In Matteus 5:17 sê Jesus: ‘Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul’. Hierdie verysing na die ‘wet en die profete’ is ʼn verwysing na die hele Ou Testament. Jesus gaan verder en sê dat die hemel en die aarde nie sal verbygaan totdat alles gebeur het nie (vgl. Mat 5:18). In ooreenstemming met Vlach (2017:310), Jesus sê hier dat alle besonderhede en voorspellings wat in die Ou Testament gevind word, tot vervulling gebring moet word. Die volgende aanhaling van Vlach (2017: 311-312) is belangrik:
    1. Some take what could be called an “absorption” or “embodiment” view of fulfillment where the details of OT prophecies are absorbed into Jesus or embodied by Him. Supposedly, the physical, national, and/or land promises of the OT find fulfillment, not by actually being fulfilled literally in history, but by being fulfilled in the person of Jesus who represents the highest ideal of these matters. But this view is not completely accurate. Yes, Jesus is the perfect embodiment of certain OT matters such as the Mosaic Law. Jesus embodied the essence of the Mosaic Law by loving God and others just as the law required (Rom 13:8–10). The Old Testament itself predicted that the Mosaic Law would be replaced by the superior New Covenant (Jer 31:31–34). But the promises and people involved with the covenants of promise are not transcended. These must be fulfilled as stated. Prophecies concerning Israel, land, temple, and other matters in the OT will be fulfilled just as predicted. Jesus himself often refers to specifics of OT prophecy as needing to be fulfilled.

Fruchtenbaum (n.d.:17-18) se opmerking som alles goed op:

[I]t is incorrect to say that the Old Testament should be interpreted by the New Testament because if that is the case, the Old Testament had no meaning and seemed to be irrelevant to the ones to whom it was spoken. On the contrary, the validity of the New Testament is seen by how it conforms to what was already revealed in the Old Testament. The Book of Mormon and other books by cultic groups fail to stand because they contradict the New Testament. By the same token, if the New Testament contradicts the Old Testament, it cannot stand. It is one thing to see fulfillment in the New Testament, but it is quite another to see the New Testament so totally reinterpret the Old Testament that what the Old Testament says carries no meaning at all.

Vervulling in die Nuwe Testament

Kan die Nuwe Testament die betekenis van die Ou Testament weerspreek of dit só herinterpreteer dat dit in wese die oorspronklike bedoeling van die Ou-Testamentiese skrywers kanselleer? Die antwoord is ʼn klinkende ‘Nee’. Waarom volg baie nog steeds Benadering A? Hulle dink omdat die Nuwe Testament voorbeelde van nie-letterlike vervulling bevat, dat dit noodwendig moet beteken dat alle onvoorwaardelike, steeds-onvoltooide profesieë nie letterlik vervul sal word nie. Maar hierdie denke is verkeerd.

Volgens Cooper (1958:174, 209–215; vgl. ook Rydelnik 2010:95–111; Fruchtenbaum 2016:11-44), word vier soorte profetiese vervullings van Ou-Testamentiese skrifgedeeltes in die Nuwe Testament aangetref, naamlik direkte/letterlike vervulling, tipologiese vervulling, toepassings- of analogiese vervulling en opsommende vervulling. Al vier soorte vervulling kom in Matteus 2 voor, en dit word gereeld deur verskeie kommentators gebruik om hulle sienings te staaf.

Daar is geen rede om te glo dat die outeurs van die Nuwe Testament die Ou Testament buite konteks of kreatief gebruik het nie, of dat hulle die betekenis van die Ou Testament verander of herinterpreteer nie (Fruchtenbaum 2016:43; Rydelnik 2010:111). Die hermeneutiese beginsel van normale, letterlike interpretasie (grammaties-historiese metode) word nie in die Nuwe Testament opgehef nie; inteendeel, dit word bevestig (vgl. Chou 2018). Daar is reëls vir die interpretasie van tipes en analogieë, maar dit funksioneer binne die hermeneutiese beginsel van die letterlike interpretasie (die grammaties-historiese metode), en daarom kan die allegorisering of vergeesteliking van Skrifgedeeltes op grond van die bestaan van tipes en analogieë nie geregverdig word nie (Feinberg, P.D. 1988:123).

Wanneer tipologiese, toepassings- of opsommende vervullings van die Ou Testament in die Nuwe Testament plaasvind, beteken dit noodwendig dat alle letterlike profesieë nou wegval of in bogenoemde tipologiese toepassings- of opsommende kategorieë van vervulling verander word? Nee, beslis nie! Daar moet ten minste toegegee word dat letterlike Ou-Testamentiese profesieë oor Christus se wederkoms vervul sal word (Scholtz 2016:7). Hoekom dan nie ander nie? Wat van die letterlike, onvoorwaardelike en steeds-onvervulde nie-Christologiese verbondsbeloftes of profesieë in die Ou Testament? Sal God dit direk vervul aan die mens(e) vir wie Hy dit belowe het? Ja, want God kan nie lieg nie. Hy sal doen wat Hy belowe het aan diegene vir wie Hy dit belowe het, selfs al het Hy só ʼn belofte of profesie net een keer gemaak (vgl. Feinberg, J.S. 1988:76–77). Ek stem saam met Turner (1985:282): ‘If NT reinterpretation reverses, cancels, or seriously modifies OT promises to Israel, one wonders how to define the word ‘progressive’. God’s faithfulness to his promises to Israel must also be explained’.

Slotopmerking

Of dit nou in die Ou of Nuwe Testament gevind word, elke woord in die Bybel is geïnspireer. Omdat God se Naam en eer op die spel is, sal Hy letterlik vervul wat Hy onvoorwaardelik beloof het. As God nog nie letterlik vervul het wat Hy onvoorwaardelik belowe het nie, dan het Hy dit nog nie vervul nie. Maar Hy sal, want God is getrou, betroubaar en waaragtig.

Bronne

Chou, A., 2018, The Hermeneutics of the Biblical Writers: Learning to Interpret Scripture from the Prophets and Apostles, Kregel Publications, Grand Rapids.

Cooper, D.L., 1958, Messiah: His Historical Appearance, Biblical Research Foundation, Los Angeles. (Available at Ariel Ministries.)

Feinberg, J.S., 1988, ‘Systems of Discontinuity’, in J.S. Feinberg (ed.), Continuity and Discontinuity: Perspectives on the Relationship Between the Old and New Testaments, pp. 63–88, Crossway, Wheaton.

Feinberg, P.D., 1988, ‘Hermeneutics of Discontinuity’, in J.S. Feinberg (ed.), Continuity and Discontinuity: Perspectives on the Relationship Between the Old and New Testaments, pp. 109–130, Crossway, Wheaton.

Fruchtenbaum, A.G., 2016, Yeshua: The life of Messiah from a Messianic Jewish Perspective, vol. 1, Ariel Ministries, San Antonio.

Fruchtenbaum. A.G., No Date, ‘Israel’s Right to the Promised Land’, Ariel Ministries, Delivered at Pre-Trib Centre. Available at www.pre-trib.org/pretribfiles/pdfs/Fruchtenbaum-IsraelsRightToPromisedLand.pdf

Ladd, G.E., 1977, ‘Historic Premillennialism’, in R.G. Clouse (ed.), The Meaning of the Millennium: Four Views, pp. 17–40, InterVarsity Academic, Downers Grove.

Pettegrew, L.D., 2007, ‘The New Covenant and New Covenant theology’, The Master’s Seminary Journal 18(1), 181–199.

Riddlebarger, K., 2003, A Case for Amillennialism: Understanding the End Times, Baker Books, Grand Rapids.

Rydelnik, M., 2010, The Messianic Hope: Is the Hebrew Bible Really Messianic? B&H Publishing, Nashville. (NAC studies in Bible & Theology; Series, ed. E.R. Clendenen).

Saucy, R.L., 1993, The Case for Progressive Dispensationalism: The Interface Between Dispensational and Non-Dispensational Theology, Zondervan, Grand Rapids.

Scholtz, J.J., 2016, ‘Vooronderstellings wat die eskatologie beïnvloed’, In die Skriflig 50(1), a2170. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v50i1.2170

Stallard, M., 1997, ‘Literal Interpretation, Theological Method, and the Essence of Dispensationalism’, The Journal of Ministry & Theology, Spring, 5–36.

Turner, D.L., 1985, ‘The continuity of Scripture and eschatology: Key hermeneutical issues’, Grace Theological Journal 6(2), 275–287.

Vlach, M.J., 2012, ‘What is Dispensationalism?’, in J. MacArthur & R. Mayhue (reds.), Christ’s Prophetic Plans: A Futuristic Premillennial Primer, pp. 19–38, Moody Publishers, Chicago.

Vlach, M.J., 2017, He Will Reign Forever: A Biblical Theology of the Kingdom of God, Lampion, Silverton.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']