Teologiese identiteitsroof

Hou ʼn vrou op om ’n vrou te wees as sy ʼn gelowige in Jesus Christus word? Verander die werknemer-werkgewer verhouding net daar en dan as iemand tot geloof kom? As almal wat aan Christus behoort kinders van Abraham is, beteken dit dat al Abraham se kinders aan Christus behoort? Hierdie vrae is belangrik wanneer identiteit en God se beloftes vir sekere mense oorweeg word.

Twee wette van logika

Een wet van logika is die wet van identiteit wat ons leer dat iets is wat dit is: ʼn appel is ʼn appel. ʼn Tweede wet van logika is die wet van nie-teenstrydigheid wat leer dat A nie ook nie-A kan wees op dieselfde tyd en in dieselfde sin nie: ʼn appel is nie ʼn kat nie. As die wette van logika nagekom word — en hoe dan anders: teologie is nie ʼn pseudo-wetenskap nie — dan is dit duidelik dat geen werknemer-werkgewer verhouding skielik verander net omdat ʼn werker tot geloof kom nie (as jy die teendeel wil bewys, probeer dit met jou bestuurder!) en ʼn vrou bly ʼn vrou voor én na haar weergeboorte. Sommige beweer egter dat alle godsdienstige, ekonomiese en geslagsonderskeidings tussen mense in Christus uitgewis word — en hulle haal byvoorbeeld Galasiërs 3:28 aan: ‘Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus’. Maar Paulus het nie gesê dat al bogenoemde onderskeidings tussen mense opgehou het nie, want vanselfsprekend (en logies) is mense steeds Jode of Grieke, slawe of vrymanne, en man of vrou. Wat hierdie teks beklemtoon is dat wat verlossing betref, byvoorbeeld regverdigmaking en heiligmaking, alle gelowiges in Christus dieselfde posisie en toegang tot God het — híérin is daar geen onderskeid in Christus nie. As ʼn Jood ʼn Jood is (sien bogenoemde wet van logika), hoe definieer die Bybel ʼn Jood?

Definisie van ʼn Jood

Is ʼn Jood iemand wat ʼn bepaalde godsdiens of politieke party aanhang en in ʼn sekere geografiese gebied bly, of word ʼn Jood anders in die Bybel gedefinieer (Sibley 2002:25–27)? Elke mens stam sedert die sondvloed biologies van Sem, Gam of Jafet af (Gen 10–11). Abraham, ʼn Semiet, se biologiese kinders is vanselfsprekend die ‘nageslag van Abraham’; derhalwe is Ismael, Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag beslis almal deel van die biologiese nageslag van Abraham (Gen 17:18–22; 25:1–4).

Die onvoorwaardelike verbond wat God met Abraham gesluit het, is egter net met een van Abraham se seuns, naamlik Isak, bevestig (Gen 17:19; 26:1–5). Isak se tweelingseuns, Esau en Jakob, is sonder twyfel ook die biologiese ‘nageslag van Abraham’, maar God bevestig die Abrahamitiese verbond nét met Jakob, wat later ʼn nuwe naam, Israel, kry (Gen 28:13–15; 32:28). Die Abrahamitiese verbond is ook met die nageslag van Jakob, d.w.s. die nasie Israel, bevestig (Gen 50:24; Neh 9:8; Ps 105:8–11).

ʼn Jood is dus ʼn biologiese afstammeling van Abraham, Isak en Jakob (Ger 2004:224–226). Israel is die nasie wat uit Jode bestaan. Volgens Fruchtenbaum (2016:305–309; vgl. ook Ger 2004:224) is etniese en stamverband deur die biologiese lyn van die vader en nie dié van die moeder bepaal nie, op een belangrike uitsondering na: die Messias se Joodsheid en stamverband is deur die moeder oorgedra deur die saad van die vrou — soos geprofeteer voordat daar nog enige menslike afstammelinge was (Gen 3:15; vgl. ook Jes 7:14; Matt 1:23). Fruchtenbaum (1989:170, 748–750) sê voorts die kind van ʼn Joodse vrou en ʼn nie-Joodse man kan kies of hy of sy as ʼn Jood beskou wil word, soos wat Timoteus gedoen het en toe in terme van die Abrahamitiese verbond besny is, maar juis nie die Mosaïese verbond nie (Hand 16:3). In sy behandeling van Romeine 9–11 skryf Blaising (2016:94) dat ‘the term Israel here has not been resignified. Paul is speaking of ethnic Jews, “Israelites”, his “kinsmen according to the flesh”’.

Wie is die nageslag van Abraham?

Indien iemand ʼn biologiese afstammeling van Abraham, Isak en Jakob is, beteken dit dat hierdie Jood outomaties van sy of haar sonde gered is? Nasionaliteit of godsdienstige tradisie red geen Jood (of nie-Jood) van sy of haar sondes nie (Coetzee 1965:130, 137). Israel is ʼn uitverkore nasie (Eks 19:5; Deut 7:6–7) en spesiaal in God se oë (Sag 2:8), maar dit beteken nie dat elke Jood ʼn gelowige is nie. Van altyd af en vir alle mense is verlossing gegrond op God se genade alleen deur geloof in Christus alleen. Die evangelie van Christus is ʼn krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek (Rom 1:16).

Dwarsdeur die Ou Testament sien ons hoe leiers in Israel die Jode aangemoedig het om nie net biologiese afstammelinge van Abraham te wees nie, maar dit ook geestelik te wees, dit is om gered te wees, om besnyde harte te hê. Ons sien dit byvoorbeeld deur Moses (Deut 10:15–16), Elia (1 Kon 19:18) en in die tyd van Maleagi (Mal 3:16). Wat die Nuwe Testament betref, dit gebruik die term Israel meer as 70 keer en elkeen van hierdie tekste verwys steeds na die verbondsvolk Israel (Fruchtenbaum 1989:684–690). Daar bestaan verskillende interpretasies oor enkele van hierdie tekste. In ʼn Skrifgedeelte waar die fokus op Jode val (‘jy dra die naam van Jood en steun op die wet’ – Rom 2:17 en verder soos byv. Rom 3:1–8), onderskei Paulus tussen gelowige en ongelowige Jode in Romeine 2:28–29. Paulus bevestig bloot wat Moses geleer het en wat in die dae van Elia en Maleagi geïllustreer is, naamlik dat slegs ʼn oorblyfsel uit die biologiese nageslag van Jakob (Israel) óók weergebore gelowiges is wie se harte deur die Gees besny is.

Indien alle biologiese Jode nie ook die geestelike nageslag van Abraham is nie, wie of wat is die ware Israel dan? Dit is oor sy mede-Jode – ‘my broers, my stamgenote na die vlees … hulle is Israeliete’ (Rom 9:3–4) – waaroor Paulus die volgende skryf: ‘hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie’ (Rom 9:6). Binne die etniese Israel is daar ʼn kleiner groep Jode wat gelowig is (Coetzee 1965:162–175; Cranfield 1979:473–474). Die ware Israel bestaan net uit gelowige Jode; hulle is die Joodse oorblyfsel ooreenkomstig die verkiesing van genade (1 Kon 19:18; Rom 11:5). Die ‘Israel van God’ in Galasiërs 6:16 verwys na Joodse gelowiges wat leef volgens die reël wat in Galasiërs 6:15 genoem word (Coetzee 1965:224; Vlach 2010:143–145).

Wat dan van nie-Jode? Kan hulle die nageslag van Abraham word? Abraham is die vader van almal wat glo, vir die besnedenes en die onbesnedenes (Rom 4:11–12). Nie-Joodse biologiese afstammelinge van Abraham, byvoorbeeld die nageslag van Ismael en Esau, kan in ʼn geestelike sin ook die nageslag van Abraham word indien hulle in Christus glo, maar dit maak nie van hierdie Ismaeliete of Edomiete skielik Jode nie (Fruchtenbaum 1989:702). Die nageslag van Gam, Jafet, of Sem wat nie biologies van Abraham afstam nie, kan ook in ʼn geestelike sin die nageslag van Abraham word, mits hulle in Christus glo, maar dit maak nie van hierdie nie-Jode skielik Ismaeliete, Edomiete of Jode nie. In sy bespreking oor Romeine 4 en Galasiërs 3–4 het die Suid-Afrikaanse teoloog Coetzee (1965:172–173) meer as 50 jaar gelede die volgende gesê:

Ongetwyfeld word hier gesê dat die gelowiges uit die heidennasies deur die geloof in Christus geestelike kinders, geestelike nageslag van Abraham, is. Hier word inderdaad mense alleen op grond van hulle geloof sonder enige etniese verbintenis kinders en nageslag van Abraham genoem. Maar! Dit is nie vergeesteliking van die Abrahamkindskap van Israel, van die verbond van God met Israel, van die volk Israel, nie!

Ses soorte saad of nageslag van Abraham

Scholtz (2017:6) identifiseer ses soorte saad of nageslag van Abraham:

  1. In die eerste plek is Jesus Christus die unieke saad of nageslag van Abraham (Matt 1:1; Gal 3:16). In sy menslikheid is en bly Jesus ʼn Jood (Matt 1:1–17; Rom 9:5).
  2. Gelowige Joodse afstammelinge van Abraham is biologies én geestelik die nageslag van Abraham (Rom 4:12).
  3. Die ongeloof van baie Jode verander nie die feit dat hulle die biologiese, Joodse nageslag van Abraham bly nie (Luk 16:24; Joh 8:37; Hand 13:26; Rom 4:12; 11:1).
  4. Daar is gelowige, nie-Joodse biologiese afstammelinge van Abraham (vgl. Gal 3:29): hierdie kategorie sluit gelowiges uit die nageslag van Ismael, Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak, Suag en Esau in.
  5. Daar is ongelowige nie-Joodse, biologiese afstammelinge van Abraham. Hierdie nie-Jode is net in ʼn biologiese sin die nageslag van Abraham.
  6. Daar is gelowiges wat geen biologiese verbintenis met Abraham het nie. Hierdie gelowiges is alleen in ʼn geestelike sin die nageslag van Abraham (Rom 4:11; Gal 3:29).

Waarom maak dit saak?

Al bogenoemde is belangrik omdat God sekere onvoorwaardelike beloftes aan Jode gemaak het — en dit is Joodse gelowiges wat uiteindelik in die seëninge van hierdie beloftes sal deelneem wanneer God dit alles vervul. Wat van gelowiges uit die nie-Joodse nasies? Ons neem deel aan die geestelike seëninge van bogenoemde beloftes, soos byvoorbeeld Genesis 12:3, maar ons neem nie die fisiese of nasionale beloftes wat God aan die Jode gemaak het oor nie. Gelowiges uit nie-Joodse nasies vervang nie Jode of Israel in God se plan nie. Om te dink ons doen is niks anders as teologiese identiteitsdiefstal nie. Met verwysing na bogenoemde paragraaf oor die soorte saad of nageslag van Abraham, nommers 4 en 6 vervang of kanselleer nie nommer 2 nie.

Slotopmerkings

Op die vraag, “Wat van die Jode?”, het ʼn prominente vervangingsteoloog, wyle R.C. Sproul (1999:2), geantwoord: “Hier is ons”. Hierdie antwoord is ongetwyfeld onbybels en onlogies. Daar is verskeie referente en betekenisse van ‘die nageslag of saad van Abraham’, maar een referent of betekenis (byvoorbeeld die geestelike) kanselleer nie die ander betekenisse of referente, of die implikasies daarvan nie (Feinberg 1988:71–73; Vlach 2010:3). Die meeste motors ry op vier wiele, maar dit is ʼn logiese fout om te redeneer dat alles wat op vier wiele ry motors is. Net so, nie al Abraham se kinders behoort aan Christus nie. Gelowiges wat géén biologiese verbintenis met Abraham het nie, deel nie of neem nie daardie fisiese of nasionale beloftes oor wat God aan die nageslag van Ismael of Esau gemaak het nie (vgl. Gen 17:20; 27:39–40) — om te dink jy doen mag dalk sekere Arabiere ontstel. Net so wys Fruchtenbaum (1989:702–703) tereg uit dat nie-Joodse gelowiges wat geestelik die nageslag van Abraham is, nie die nageslag van Jakob (Israel) is nie en daarom nie deel in die onvoorwaardelike fisiese of nasionale verbondsbeloftes wat God aan Israel gemaak het nie, en dit ook nie oorneem nie. Nie-Joodse gelowiges deel egter beslis in die geestelike verbondsbeloftes wat God in die Abrahamitiese verbond gemaak het (Gen 12:3; Gal 3:8, 16; Ef 3:6). Die geestelike referent of betekenis van ‘die nageslag of saad van Abraham’ kanselleer, verander of transendeer egter nie ander referente of betekenisse van hierdie begrip nie. ʼn Jood is ʼn biologiese afstammeling van Abraham, Isak en Jakob. Israel is die nasie wat uit Jode bestaan. Slegs ʼn oorblyfsel van Jode is gelowiges — en hierdie Joodse gelowiges is die Israel van God (Gal 6:16).

Erkenning

Die idee vir die titel van hierdie blog kom uit Ariel Ministries se ‘Spring 2018’ tydskrif: Hedrick, G, ‘Guard yourself against identity theft. Who is the Israel of God in Galatians 6:16?’, pp. 16-24, Ariel Ministries. Die artikel is beskikbaar by: www.ariel.org/pdfs/magazine/spring-2018.pdf

————————

Bronne gebruik:

Blaising, C., 2016, ‘Biblical hermeneutics: How are we to interpret the relation between the Tanak and the New Testament on this question?’, in G.R. McDermott (ed.), The New Christian Zionism: Fresh perspectives on Israel and the land, pp. 79–106, InterVarsity, Downers Grove.

Coetzee, J.C., 1965, Volk en Godsvolk in die Nuwe Testament, Pro Rege Press, Potchefstroom.

Cranfield, C.E.B., 1979, A Critical and Exegetical Commentary on the Epistle to the Romans, volume II (ICC), Clarke, Edinburgh.

Feinberg, J.S., 1988, ‘Systems of discontinuity’, in J.S. Feinberg (ed.), Continuity and Discontinuity: Perspectives on the Relationship between the Old and New Testaments, pp. 63–88, Crossway, Wheaton.

Fruchtenbaum, A.G., 1989, Israelology: The Missing Link in Systematic Theology, Ariel Ministries, Tustin.

Fruchtenbaum, A.G., 2016, Yeshua: The Life of Messiah from a Messianic Jewish Perspective, vol. 1, Ariel Ministries, San Antonio.

Ger, S., 2004, The Book of Acts: Witnesses to the World, AMG Publishers, Chattanooga.

Scholtz, J.J., 2017, ‘Israelologie: ʼn Bybels-teologiese perspektief oor Israel se verlede, hede en toekoms’, In die Skriflig 51(1), a2231. https://doi.org/10.4102/ids.v51i1.2231. (ʼn Gedeelte van hierdie artikel is hieruit geneem.)

Sibley, J.R., 2002, ‘Christianity vis–à–vis Judaism’, Southwestern Journal of Theology 44(2), 24–43.

Sproul, R.C., 1999, Table Talk magazine, Spring of 1999, p. 2 (inside cover).

Vlach, M.J., 2010, Has the Church Replaced Israel? A Theological Evaluation, B&H Academic, Nashville.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']