Twee opdragte

 

Is die evangelie van die koninkryk wat Johannes die Doper, Jesus Christus en die twaalf apostels uitsluitlik aan Israel tydens die eerste koms verkondig het presies dieselfde boodskap wat as deel van die groot opdrag verkondig word? Toe Johannes die Doper in die woestyn van Judea op die toneel verskyn het, het hy begin sê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt 3:2). Christus se sending het só begin: ‘Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom”’ (Matt 4:17). Tydens sy eerste koms het die Messias die evangelie van die koninkryk slegs aan Israel verkondig, want soos Hy gesê het: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel” (Matt 15:24). Jesus het die twaalf apostels nie na die heidene of die Samaritane gestuur nie, maar slegs na die verlore skape van die huis van Israel, en hulle moes sê: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt 10:5-7).

Waarop daar in Matteus 9:34 gesinspeel word, word duidelik in Matteus 11 wanneer die meerderheid Israeliete wat in daardie spesifieke tyd geleef het, die Messiasskap van Jesus nie wou aanvaar nie. Jesus is verwerp – selfs stede het geweier om hulle te bekeer ten spyte van die kragtige dade wat daarin plaasgevind het (Matt 11:11-24). Toe die godsdienstige leiers van Israel die onvergeeflike sonde gepleeg het, is daar te ver gegaan en die aanbod aan Israel om die koninkryk op te rig is teruggetrek totdat ‘n toekomstige geslag Jode die vrugte van bekering sou dra (Matt 12:22-32; 21:43). In hierdie konteks vertel Jesus die gelykenisse van Matteus 13 en openbaar Hy aan sy dissipels die geheimenisse van die koninkryk van die hemele (vgl. Matt 13:11). Gegewe Israel se verwerping van die Koning en sy koninkryk, wat gaan tussen die Messias se eerste en tweede koms gebeur?

As die Jode hul Messias aanvaar het, sou Christus steeds aan die kruis gesterf het en die opstanding en hemelvaart ervaar het ter vervulling van baie Ou-Testamentiese profesieë. Die Evangelie van Matteus dui aan hoe die kruis na vore gekom het: ‘Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word’ (Matt 16:21). Dit is die inhoud van die evangelie wat vandag verkondig word (vgl. 1 Kor 15:1-4). In dieselfde Matteus-konteks het Jesus gepraat van ‘n toekomstige tyd wanneer Hy sy Kerk sal bou (Matt 16:18). Ná sy opstanding het Jesus sy dissipels met hierdie woorde beveel: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt 28:18-20).

Die groot opdrag is ‘n universele sending-opdrag (nie net na Israel toe nie). Dit het in Jerusalem begin en toe uitgebrei na Judea, Samaria en tot aan die uiterste van die aarde (vgl. Hand 1:8). In Matteus 10 is die twaalf apostels slegs na die verlore skape van die huis van Israel gestuur, maar in Handelinge 2 dien die twaalf as apostels van (en na) die Kerk. Dit blyk dat die groot opdrag aan die Kerk gegee is, nie aan Israel nie.

As die evangelie van die groot opdrag op Christus se dood, begrafnis en opstanding fokus (vgl. Matt 16:21; 1 Kor 15:1-4), wie sal in die toekoms die evangelie van die koninkryk verkondig en wanneer sal dit plaasvind? Dit is noodsaaklik dat ’n generasie Jode die Seun van Dawid moet aanroep om terug te keer en die koninkryk te vestig (Matt 23:39; vgl. Hos 5:15-6:3). Gedurende die sewe-jaar Verdrukkingstydperk gaan die evangelie van die koninkryk deur Joodse boodskappers verkondig word — hulle wat die Koning van die Jode gaan magtig om dit te doen (vgl. Matt 10; Open 7:1-9).

Daar is twee sending-opdragte. Die eerste opdrag het tydens Christus se eerste koms begin toe die evangelie van die koninkryk verkondig is. Die vestiging van die koninkryk is egter uitgestel toe daardie geslag in Israel die Messias-Koning verwerp het. Sedert Handelinge 2 moet die Kerk die groot opdrag gehoorsaam om dissipels van al die nasies te maak (Matt 28:18-20). Maar die eerste opdrag sal gedurende die sewe-jaar Verdrukkingstydperk hervat word, daardie tyd onmiddellik voor die koms van die Koning in heerlikheid. In daardie tyd sal die evangelie van die koninkryk weer verkondig word, hierdie keer nie net aan die verlore skape van die huis van Israel nie, maar aan al die nasies (vgl. Matt 24:14).

********************************

Foto-erkenning: Adobe 2026

Relevante bronne:

Fazio, J.I., 2015, Two commissions: Two missionary mandates in Matthew’s Gospel, Southern California Seminary Press, El Cajon. 

Scholtz, J.J., 2014, ‘The kingdom of heaven and Matthew 10’, In die Skriflig 48(1), Art. #1782, 8 pages. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v48i1.1782

 

error: Content is protected !!