
Verskille tussen die wegraping en Christus se weerkoms
Is die wegraping en die Here Jesus Christus se weerkoms na die aarde een en dieselfde gebeurtenis of is dit twee verskillende gebeurtenisse? In ons ondersoek na antwoorde op hierdie vraag, wys ons die volgende tien verskille uit tussen die wegraping en Christus se weerkoms na die aarde toe.
Een
Tydens die wegraping sal Kerk-era gelowiges wat ‘in Jesus ontslaap’ het, wat ‘in Christus gesterf het’ (1 Thes 4:14, 16), hul verheerlikte liggame ontvang (1 Kor 15:51-52; 1 Thes 4:13-18). Kort na die weerkoms van die Here Jesus aarde toe sal alle Ou-Testamentiese gelowiges wat vóór Pinkster gesterf het, hul verheerlikte liggame ontvang (vgl. Dan 12:1-3). Hierdie gebeurtenisse is verskillend.
Twee
Kort na die wegraping verskyn Kerk-era gelowiges in die hemel voor Christus se bema-stoel oordeel (1 Kor 3:10-15; Rom 14:10-12); kort na die Koning se weerkoms aarde toe vind verskyn alle mense (gelowig en ongelowig) voor die troon van Dawid in Jerusalem vir die oordeel van die skape en die bokke (Mat 25:31-46). Hierdie oordele is verskillend.
Drie
Slegs Kerk-era gelowiges (gelowiges in Christus van Pinkster in Handelinge 2 tot en met die wegraping) word tydens die wegraping na die Hemel geneem (Joh 14:1-3; 1 Kor 15:51-52; 1 Thes 4:13-18). Tydens Christus se weerkoms aarde toe sal alle mense wat dan op die aarde is daardeur geraak word, gelowiges én ongelowiges.
Vier
Tydens die wegraping kom Christus om Sy bruid weg te voer hemel toe. Met Christus se weerkoms aarde toe kom die Vrou/Bruid van Christus saam met Hom aarde toe.
Vyf
Tydens die wegraping sal net gelowiges Christus sien, maar met Christus se weerkoms aarde toe sal elke oog Hom sien.
Ses
Tydens die wegraping verskyn Christus in die lug, maar met Christus se weerkoms kom Hy aarde toe.
Sewe
Die wegraping kan noual gebeur, maar die weerkoms van Christus aarde toe is aan die einde van ‘n 7-jaar Verdrukkingstydperk, nadat spesifieke gebeure plaasgevind het (Open 6-19).
Agt
Die wegraping kan nou al gebeur, maar die weerkoms van die Here die aarde toe sal nie plaasvind nie totdat die Joodse generasie aan die einde van die Verdrukkingstydperk sê, ‘Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die HERE!’ (Mat 23:39; vgl. Hos 5:15-6:1; Sag 12:10). G’n wonder dat anti-Joodsheid toeneem soos wat die einde van die bedeling naderkom nie.
Nege
Die wegraping is nie in die Ou Testament openbaar nie, maar die weerkoms van Christus na die aarde toe is beslis in die Ou Testament openbaar. Die wegraping is ‘n Nuwe-Testamentiese verborgenheid (1 Kor 15:51-52), maar die weerkoms van Christus na die aarde is nie ‘n verborgenheid nie.
Tien
Na die wegraping is daar nog Verdrukkingstydperk, ‘n tyd van oordeel oor die aarde, maar na Christus se weerkoms aarde toe is daar nog die Messiaanse koninkryk, ‘n tyd van seën oor die aarde.
Slotsom
Dit is duidelik uit bogenoemde tien verskille dat die wegraping en die weerkoms van die Here Jesus Christus na die aarde toe twee verskillende gebeurtenisse is.
———————————
Volg ons op sosiale media:
Deel met ander:
[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']