Verstaan en duidelik gesien …

Op die dag wanneer ongelowiges geoordeel gaan word, sal iemand suksesvol kan argumenteer dat God hom (of haar) moet vryspreek omdat daar nie genoeg bewyse vir die bestaan van God was nie? Net so, indien iemand nooit die evangelie van Christus gehoor het nie, sal hy of sy onskuldig bevind word op dieselfde dag van oordeel? Wat het Harvard, Princeton, Potchefstroom en Stellenbosch universiteite almal gemeen? Hierdie vrae het implikasies vir missiologie, die wetenskap-godsdiens debat, onderwys, ensovoorts.

Romeine 1:18-21

As daar geen of onvoldoende bewyse is vir die bestaan van God, hoe kan God dié wat min of geen kennis van Hom gehad het dan veroordeel? Party mense sê dat daar geen God is nie, terwyl ander daarop aandring dat Christene eers die bestaan van God moet bewys — en dán sal hulle miskien in Jesus Christus glo. Baie Christene het laasgenoemde uitdaging aanvaar en kosmologiese, teleologiese en ander argumente verskaf vir die bestaan van God. Maar Paulus is reeds deur God die Heilige Gees geïnspireer om God se antwoorde op hierdie vrae uit te spel, soos wat Romeine 1:18-21 dit stel: ‘18WANT die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, 19omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. 20Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; 21omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.

In ooreenstemming met Baker (1998:290; eie vertaling), Paulus se argument in Romeine 1:18-20 oor wat die mensdom van God weet, kan soos volg opgesom word: ‘Die waarheid (v. 18), dit is wat oor God geken kan word (v. 19), dit is Sy onsigbare eienskappe (v. 20, nl. dat Hy bestaan en persoonlik, ewig en kragtig is), is “ten volle bekend, duidelik gesien en helder”, want God as die aktiewe agent het dit aan hulle geopenbaar’.

Lewis en Demarest (aangehaal deur Baker 1998:295; eie vertaling) sê daar is vier hoofbevindinge rakende openbaring en die kenbaarheid van God: ‘Eerstens, alle mense verkry ʼn elementêre kennis van God as Skepper. Tweedens, kennis van God as Skepper word verkry deur rasionele refleksie oor dit wat geskep is. Derdens, die sondige hart onderdruk aanhoudend die kennis van God as Skepper wat uit die natuur afgelei kan word. Vierdens, die mens se doelbewuste verwerping van die lig van die kennis van God bevestig die mens se doemwaardigheid voor God se goddelike geregtigheid en oordeel’.

Kennis van God en van Sy bestaan word dus verstaan en duidelik gesien uit God se skepping (vgl. Ps 19:1-7). Ongelowiges gaan veroordeel word omdat hulle ʼn werklike kennis van die God van die Bybel onderdruk het.

Missiologie: Van algemene na spesiale openbaring

Gestel ʼn ongelowige hou op om die algemene waarheid oor God te onderdruk, is dit genoeg om gered te word? Algemene openbaring (van God deur die skepping) is voldoende om te veroordeel, maar onvoldoende om mense tot redding te lei. Geen mens kan die inhoud van die evangelie te wete kom deur die natuur, God se voorsienigheid, Sy bewaring of deur die mens se gewete nie (Hand 17:23; Ef 3:8-9). Algemene openbaring is egter voldoende om te veroordeel (Rom 1:20).

Fruchtenbaum (2005:4) verduidelik dat sommige vra, “Sal ʼn mens wat nog nooit van Jesus gehoor het nie, hel toe gaan?” Party wil antwoord, “Nee, mense wat nog nooit van die Messias gehoor het nie gaan in elk geval hemel toe”. Die logiese gevolgtrekking hierop is dat geen sendeling ooit na hierdie mense gestuur moet word nie. Die gevaarlikste ding om in hierdie geval te doen is om iemand ʼn kennis van die evangelie te gee sodat hy/sy dit kan verwerp, en dan hel toe gaan! As hulle onkunde hulle in die hemel kan kry, behoort niemand teenoor hulle te getuig nie. Die waarheid is egter dat selfs hulle wat nog nooit van Jesus gehoor het nie uiteindelik hel toe kan gaan (Fruchtenbaum 2005:4). Die beginsel van Romeine 1 is dat as ʼn mens leef volgens die lig wat hy/sy het, sal God seker maak dat daardie persoon meer lig kry, totdat die persoon die evangelie hoor (vgl. Mat 13:12; Mark 4:24-25).

Die primêre doel van die Skrif is vir redding (2 Tim 3:15). Die Bybel voorsien wat algemene openbaring nie kan nie: die inhoud van die evangelie. Drie verdere redes waarom spesiale openbaring nodig is, is om die waarhede van algemene openbaring korrek te vertolk of te verklaar; om die mens te voorsien van ʼn openbaring van redding; en om dit wat voorkom as weersprekende elemente in algemene openbaring, te harmoniseer. Algemene openbaring wys byvoorbeeld beide die goedheid en die strengheid van God. Dit is onmoontlik om hierdie waarhede deur middel van algemene openbaring te harmonieer, maar dit is moontlik deur spesiale openbaring.

Wetenskap en godsdiens

God is waarheid (Joh 14:6). Daar is geen teenstrydighede tussen God se algemene openbaring (deur die skepping/natuur) en God se spesiale openbaring (in die Bybel en deur Christus) nie. Gevolglik is daar geen teenstrydigheid tussen wetenskap en wat baie ‘godsdiens’ noem nie. Inteendeel, soos wat verstaan en duidelik gesien kan word in Romeine 1:18-21, wetenskap word die beste gedoen wanneer dit gedoen word om God te verheerlik. In U lig sien ons die lig (vgl. Ps. 36:10; Mark 4:21-23).

Wat het Harvard, Princeton, Potchefstroom en Stellenbosch universiteite almal gemeen? Al hierdie universiteite het as teologiese seminariums begin, maar later uitgebrei om wiskunde, die fisiese wetenskappe, sosiale wetenskappe, ens. in te sluit. Waarom is hier ʼn patroon te bespeur? Weereens, spesiale openbaring (soos bestudeer deur goeie teologie) maak dit moontlik vir gelowiges om die waarhede van algemene openbaring korrek te interpreteer en om oënskynlike teenstrydige elemente van algemene openbaring te harmoniseer.

Ongelukkig is baie hoër onderwys tans nie so baie ‘hoog’ nie, omdat God nie as Skepper (algemene openbaring; vgl. Rom 1:18-21), Verlosser (spesiale openbaring; vgl. Tit 2:13) of as die komende Koning op aarde erken word nie (vgl. Mat 25:31, 34). Die filosofie en wêreldstelsel onder die god van hierdie wêreld (die duiwel) sal altyd God se openbaring en waarhede teenstaan en opponeer. Daar bestaan dus ʼn groot vakuum, en ʼn groot behoefte, vir ware Christelike onderwys.

Slot en toepassing

Alle mense, gelowiges beslis ingesluit, eerbiedig en verheerlik God nie soveel as wat ons behoort nie; alle mense, gelowiges beslis ingesluit, onderdruk die waarheid van God en aanvaar tot ʼn mate dié wat die bose beoefen (Constable 2017:25). Maar God het ʼn uitweg gegee deur Christus Jesus. Ons sluit af met ʼn lang aanhaling van Man (2000:34; eie vertaling) wat opmerk dat ‘God se genade die siklus van verval in mense se lewens kan omdraai, soos beskryf in Romeine 1. Ware aanbidding kan uit die as van valse aanbidding opstaan. Die afwaartse spiraal van menslike dwaasheid kan omskep word in ʼn voortdurende getuienis van die heerlikheid van God. In die lig van die krag van die evangelie om sondaars te transformeer tot aanbiddaars, miskien kan die boodskap van Romeine 1:18-25 op ʼn eerbiedige manier soos volg beskryf word:

Want die genade van God word uit die hemel geopenbaar aan gevalle en sondige mense wat die waarheid van die evangelie aanvaar het, aan diegene wat God na Homself getrek het. Nou is die krag en majesteit van God duidelik deur wat gemaak is, maar Hy het ook Sy liefde, barmhartigheid, deernis en genade geopenbaar deur die verlossingswerk van Jesus Christus, Sy Seun, sodat mense gered kan word. En nou ken en eer hulle Hom as God en dank Hom; hulle gedagtes is vol gedagtes van Hom en hulle harte is gevul met toewyding aan Hom; deur te erken dat hulle dwaas was, het hulle wys geword en beelde en valse voorwerpe van aanbidding vir die glorie van die onverganklike God verruil. Daarom het God hul wedergebore harte met Sy Gees gevul, tot reinheid, sodat hulle hul liggame as lewende en heilige offers aan Hom kan aanbied. Want hulle het ʼn leuen verruil vir die waarheid van God, en nou aanbid en dien hulle die Skepper eerder as die skepsel tot eer van Sy Naam. Amen.

————————

Bronne gebruik:

Baker, B.A., 1998, ‘Romans 1:18-21 and Presuppositional Apologetics’, Bibliotheca Sacra 155(619), 280-298.

Sien gerus ook hierdie onlangse voorlegging van Bruce Baker by:
http://deanbibleministries.org/presentations/message/04-the-knowledge-of-god-the-starting-point-for-apologetics/watch

Constable, T.L., 2017, ‘Notes on Romans’, Sonic Light. Available at: www.soniclight.com/constable/notes/pdf/romans.pdf

Fruchtenbaum, A.G., 2005, ‘Die Bybel se goddelike openbaring’, Ariel Ministries. Beskikbaar in Afrikaans by: https://faithequip.co.za/dissipelskapkursus/die-bybel-en-goddelike-openbaring/

Man, R.E., 2000, ‘False and True Worship in Romans 1:18-25’, Bibliotheca Sacra 157(625), 26-34.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']