Waarom Christus moes sterf

Hoekom moes Christus sterf? Hoe word redding bewerkstellig? Was Christus se dood in die Ou Testament voorspel?

’n Belangrike Skriftuurlike tema is redding deur bloed. Toe Adam en Eva die eerste daad van ongehoorsaamheid gepleeg het, het sonde die menslike sfeer binnegedring en die mensdom het van God geskei geraak. Die manier waardeur die skeiding tussen mens en God oorbrug is, was deur middel van bloed. Ons sien dit onmiddellik ná die sondeval, toe God vir Adam en sy vrou klere van dierevel gemaak het om hul naaktheid, wat nou deur die element van sonde onthul was, te bedek. God se genadige en versoenende handeling om Adam en Eva te bedek met klere het noodwendig die vergieting van bloed vereis (Génesis 3:21). Die grondbetekenis van die Hebreeuse woord vir versoening is ’n “bedekking”.

Toe Abel God in geloof genader het (vgl. Hebreërs 11:6), het hy dit gedoen deur ’n bloedoffer van sy vee (Génesis 4:3-16). Toe Noag ná die vloed die ark verlaat het, het hy God in geloof genader deur bloedoffers (Génesis 8:20). Die patriarge van die Joodse volk, Abraham, Isak en Jakob/Israel, het God ook in geloof genader deur bloed. Soortgelyk bevat die Wet van Moses die reddende element van bloed wat deur die hele Wet met al sy 613 gebooie loop. Volgens Fruchtenbaum (2005:4) word ’n voortreflike opsomming vir die hele Wet gevind in Levítikus 17:11: “Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.” Al sewe Feeste van die HERE het ook die vergieting van bloed vereis.

In Ou-Testamentiese tye moes bloedoffers oor en oor herhaal word om die sondes van ’n individu te bedek. In Israel het net ’n getroue minderheid – wat deur die profete die oorblyfsel genoem is – God en sy Wet genoeg liefgehad om jaar in en jaar uit offers te bring ten spyte van die las wat dit meegebring het. Die feit is dat ’n mens nie vir vergifnis na God kan kom volgens enige manier wat jý verkies nie, maar dat elkeen moet kom volgens die manier wat God Self bepaal het. Daardie manier is deur geloof in God maar deur middel van bloed. Die bloed van diereoffers kon egter slegs ’n tydelike bedekking vir sonde voorsien.

In Jesaja 53:10 het God verklaar dat die Lydende Kneg, die Messias Self, die finale bloedoffer vir sonde sou wees: “Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ’n skuldoffer aangebied het, sal Hy ’n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees.” Die bewoording in Jesaja 53 dui op offerkonsepte uit die Wet van Moses en kan verbind word met Israel se offer op Joom Kippoer (die Groot Versoendag). Die antwoord op die vraag oor hoekom die Messias moes sterf, is dat Christus vir eens en vir altyd die bloedoffer vir sonde voorsien het.

Bogenoemde word deur die Nuwe Testament bevestig. Tydens Christus se eerste koms is Jesus “gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop” (Galásiërs 4:4-5). As ’n Jood het Jesus die hele las van die Wet van Moses op Homself geneem. Soortgelyk aan die beginsel wat in Levítikus 17:11 genoem en die hoop wat in Jesaja 53 uitgespreek word, sê Hebreërs 9:22, “sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.” Aan die kruis het Jesus Christus sy bloed gestort, en nie slegs die Wet van Moses vervul nie, maar ook ’n beter verbond — die Nuwe Verbond — en ’n nuwe, ewige en onveranderlike priesterorde tot stand gebring. Dit is die priesterorde volgens Melgisédek, waarvan Jesus Christus die enigste Hoëpriester is (vgl. Hebreërs 4:14-15; 7:22-27).

Wat word opgemerk wanneer die Levitiese priesterorde volgens die Wet van Moses vergelyk word met die priesterorde van Melgisédek volgens die Nuwe Verbond? Levitiese priesters en Aäronitiese hoëpriesters het gesterf, maar die Hoëpriester volgens die orde van Melgisédek, die Messias, lewe uit hoofde van Christus se opstanding vir ewig. Om hierdie rede sal die priesterorde van Melgisédek vir ewig voortgaan. Levitiese priesters en Aäronitiese hoëpriesters het gesondig en moes daarom eers ’n bloedoffer bring om hul eie sondes te bedek voordat hulle as priesters namens andere offers kon bring. Wat meer is, omdat hierdie Levitiese priesters en Aäronitiese hoëpriesters nie sondeloos was nie maar aanhou sondig het, moes offers gedurende hul lewens by baie geleenthede gebring word. Daarenteen het Christus sy eie sondelose bloed net een maal (Hebreërs 7:27) vergiet as ’n versoening vir ons sondes, en nie alleenlik vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld (1 Johannes 2:2). In die tyd toe die Wet van Moses gegeld het was Jode, selfs nadat diereoffers gebring is, steeds bewus van hul sondes, want die bloed van diere kon hul sondes net bedek, nie wegvat nie. Ná die kruis, egter, veroorsaak geloof in die offer van Jesus Christus dat sonde van die gelowige weggevat word en die gewete van die gelowige word gereinig.

Daar is diegene (veral onder die Jode) wat teen bogenoemde beswaar maak op grond van hul besware teen Jesus se maagdelike geboorte en opstanding. Maar kan God ’n maagdelike geboorte bewerkstellig of iemand uit die dood opwek? Natuurlik kan God dit doen. Soms teken Jode beswaar aan teen Jesus se Messiasskap omdat Hy veronderstel was om vrede te bring. Christus is egter nie tydens sy eerste koms deur ‘hierdie geslag’ in Israel aanvaar nie (vgl. Matthéüs 12:23-45), en daarom het vrede nie toe gekom nie. Vrede sal egter wel kom met Christus se tweede koms wanneer Hy die Messiaanse koninkryk herstel en vestig. Ander besware word in die voorgenoemde artikel van Fruchtenbaum behandel.

Beide die Ou en die Nuwe Testament bevestig dat die manier van redding deur bloed was en dat die permanente bloedoffer Christus Self was. Dit is hoekom die Messias volgens die Ou Testament moes sterf. Dit is hoekom die Messias volgens die Nuwe Testament wel gesterf het. Ons kan God die Vader nie anders nader as deur bloed nie, en die permanente Weg na God is in en deur Jesus Christus, Hy wat sy bloed op die kruis gestort het vir sondaars soos ek en jy (vgl. Johannes 14:6).

Aan Christus al die eer, Hy het reeds groot dinge gedoen, en Hy sal nog groot dinge doen!

——————————-

Hierdie artikel som gedeeltelik ’n artikel van dr. Arnold Fruchtenbaum oor dié onderwerp op. Lees gerus die volledige artikel.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']