Wat die Bybel leer oor sonde (Deel 1)

Hamartiologie is die Bybelse leer oor sonde. In hierdie artikel wys ons hoe die Bybel sonde beskryf en hoe dit gedefinieer kan word. Ons bespreek ook waar sonde vandaan kom, wat die gevolge van sonde is en wat die geneesmiddel daarvoor is. Hierdie artikel is die eerste van drie oor hamartiologie.

Hoe beskryf die Bybel sonde?

Talle Hebreeuse woorde word in die Ou Testament gebruik om sonde te beskryf, waarvan die mees algemene een die woord chata is. Dit beteken om die doelwit mis te loop, wat impliseer dat die verkeerde doelwit bereik word. Daar is ook die woorde pasha (wat beteken: rebellie of opstand, oortreding, sonde en oortree; vgl. 1 Konings 12:19; Jesaja 1:2), maal (oortree, oortreding, valsheid of leuenagtigheid of bedrog), avon (verdorwenheid, verkeerd, krom of onbegaanbaar, boosheid; vgl. Jesaja 21:3), aven (ydelheid, onregverdig, ongeregtigheid, smart; vgl. Amos 5:5), rasha (goddeloosheid, boosheid; vgl. Jesaja 57:20-21), ra (boos of boosheid, onheil of rampspoed, nood of benoudheid, teenspoed of ongeluk), amal (afmattende arbeid, moeisame arbeid, moeite of swaarkry, kwelling of kommer), aval (boosheid, onregverdig, goddeloos; vgl. Maleági 2:6), avar (oortreding; vgl. Josua 6:7; 8:1), en die woord asheim (skuld, oortree; vgl. Levítikus 4:13-14, 22-23).

Watter woorde word in die Nuwe Testament gebruik?

In die Nuwe Testament word sewe woorde gebruik om sonde te beskryf. Die eerste en primêre Griekse woord is hamartia (vgl. Romeine 3:23) wat ook, soos die Hebreeuse woord chata, beteken om die doelwit mis te loop en dikwels vertaal word as sonde. Ander woorde wat gebruik word, is parabasis (wat beteken: oortreding), adikia (ongeregtigheid), asebeia (goddeloosheid; vgl. 1 Timótheüs 1:9), anomia (wetteloosheid; vgl. 1 Johannes 3:4), poneiria (verdorwenheid – wat dui op hebsug), en epithumia (begeerte of begeerlikheid).

Wat is die wesenlike aard van sonde?

Sonde is ʼn spesifieke soort boosheid; dit is nie vaag nie (Matthéüs 10:32-33; 12:30; Jakobus 2:10). Sonde is ʼn gebrek aan ooreenstemming met, of ʼn oortreding van, die wet van God. Sonde is ʼn beginsel of ʼn ingesteldheid, sowel as ʼn handeling (Matthéüs 15:19). Sonde is selfsug, dit is wetteloosheid, en sonde veroorsaak skuld en besoedeling. Sonde se oorsprong is in die mens se hart, wat die intellek, emosie en wil beïnvloed en dan deur die liggaam uitdrukking vind (Spreuke 4:23; Jeremia 17:9; Matthéüs 15:19-20). Sonde bestaan nie net uit uiterlike optrede nie.

Sonde as ʼn handeling, veroorsaak skuld; sonde as ʼn beginsel, veroorsaak besoedeling (Jeremia 17:9; Lukas 6:45).

Wat is die gevolge van sonde?

Die mens se verstand word deur sonde verduister (Romeine 1:31; 1 Korinthiërs 2:14), dit bring dwase en onverstandige versinsels voort (Génesis 6:5, 12; Romeine 1:21), en sonde lei ook tot skandelike emosies of hartstogte (Romeine 1:26-27). Sonde veroorsaak ook vuil taal (Efésiërs 4:29), lei tot ʼn besoedelde verstand en gewete (Titus 1:15), asook ʼn verslaafde en ontaarde wil (Romeine 7:18-19).

Hoe kan sonde gedefinieer word?

Volgens Fruchtenbaum (2005:6), wie se werk gedeeltelik in hierdie artikel opgesom word, kan sonde kortliks as volg gedefinieer word: ‘Sonde is enige iets wat teen God se karakter indruis’. ʼn Uitgebreide definisie is: ‘Sonde is enige gebrek aan, of onwilligheid tot, ooreenstemming met die karakter van God, of dit nou ʼn handeling, ʼn ingesteldheid, of ʼn toestand is’.

Waar kom sonde vandaan?

Dit kom nie van God af nie. God kan nie sondig nie. God is nie die skepper van sonde of die skepper van boosheid nie. Die eerste sondaar was Satan wat begeer het om soos God te wees (Jesaja 14:14; Eségiël 28:15). Satan se sonde was hoogmoed (eiewaan). Satan het die keuse gehad om God te gehoorsaam, maar in plaas daarvan het Satan gekies om God ongehoorsaam te wees en het hy sodoende gesondig. ʼn Derde van die hemelwesens het ook vir Satan in sy rebellie teen God gevolg (Openbaring 12:3-4).

Wat die mens betref, het sonde in die tuin in Eden begin met Adam se val (vgl. Romeine 5:12). Die wesenlike daad van sonde was ongehoorsaamheid aan ʼn spesifieke opdrag (Génesis 2:16-17; 3:6) en die aard van daardie sonde was die sonde van die duiwel, naamlik die begeerte om soos God te wees (Génesis 3:5).

Die sondenatuur

Met die uitsondering van Jesus van Násaret, is elke mens skuldig aan sonde. Die Bybel leer dat ons reeds van ons geboorte af sondaars is (Job 14:4; Psalm 51:5; Johannes 3:6) en daarom verkeer alle mans en vrouens (met die uitsondering van Jesus) onder God se oordeel (Johannes 3:3; Efésiërs 2:3). Die gevolg van hierdie universaliteit van sonde is dat mense onderworpe is aan die dood in al sy vorms: liggaamlike dood, geestelike dood, en ewige dood. Tensy die wegraping eerste plaasvind, sal elke mens uiteindelik liggaamlik sterf. Verder word mense geestelik dood gebore, wat beteken dat ons van God geskei is vanweë ons sondenatuur en ons sonde. Tensy ʼn mens weergebore word, sal sodanige skeiding van God tot in ewigheid duur, en dit is ewige (of die tweede) dood.

Die sondenatuur is vanaf Adam en Eva na elkeen van ons oorgedra deur ons ouers, en na hulle deur húl ouers, en so die hele lyn terug tot by Adam (Psalm 51:7; Efésiërs 2:3). Adam en Eva is die enigste twee mense wat sondaars geword het deur te sondig; die res van ons sondig omdat ons sondaars is. Met die uitsondering van Jesus, erf almal die sondenatuur (vgl. Job 15:14; Prediker 7:20; Romeine 6:20), wat beteken dat daar geen goeie dinge is wat ons kan doen om ons vir God aanneemlik te maak nie. Elke menslike voortreflikheid is waardeloos wat redding betref. Elke menslike meriete word verwerp sodat die suiwer, reddende genade van God voltrek kan word oor diegene wat glo. Die betaling (straf) vir sonde is die dood, maar die geskenk van God is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here (Romeine 6:23).

Die nuwe natuur

As iemand in die Here Jesus Christus glo, word hy of sy vernuwe of weergebore. God neem die sonde weg van die mens wat geloof uitgeoefen het in die plaasvervangende dood, begrafnis en opstanding van Christus (vgl. 1 Korinthiërs 15:1-4). Nie alleenlik is daardie gelowige vergewe en sy of haar skuld weggeneem nie, maar die gelowige word ook as geregtig gereken of verklaar. Die dooie gees, waarmee daardie mens gebore is, word lewend gemaak op die oomblik van geloof in die evangelie van Christus, en ontvang ʼn nuwe natuur om God met geregtigheid te dien. Die gelowige het steeds die ou sondige natuur maar nou ook die nuwe natuur in Christus. Die inwonende Heilige Gees word aan die gelowige gegee om oorwinning oor die ou natuur te verkry.

Hoewel ʼn gelowige steeds liggaamlik kan sterf (tensy die wegraping eerste plaasvind), sal hy of sy nie die tweede dood, wat ewige skeiding van God is, ondervind nie. In stede daarvan het gelowiges in Christus gemeenskap met God (vgl. Johannes 17:3).

———————————

In die volgende artikel sal ons fokus op die drie groot toerekenings, sonde in die gelowige se lewe, asook die finale oorwinning oor alle sonde.

Lees gerus die volledige artikel wat handel oor Wat die Bybel oor die sonde leer.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']