Wat die Bybel leer oor sonde (Deel 2)

Wat kan gesê word oor drie groot toerekenings waarna die Bybel verwys? Wat beteken dit wanneer ʼn gelowige as ‘geregtig gereken’ word? Wat is die gevolge en die hulpmiddels as ʼn gelowige sondig? Wanneer sal ons uiteindelik algehele oorwinning oor sonde hê?

Die drie groot toerekenings

Die woord ‘toereken’ beteken ‘om op iemand se rekening te plaas’ of ‘om (iets) aan iemand toe te skryf of toe te reken’. Die Bybel praat van drie groot toerekenings.

Die eerste is Adam se sonde wat aan die mensdom toegereken is (Romeine 5:12-21). Dit is die rede waarom liggaamlike dood deel is van die mens se geskiedenis. Alle mense word beskou as aandadig aan Adam se ongehoorsaamheid en daarom dra die hele mensdom dieselfde skuld (met uitsondering van Jesus). Hierdie oordrag van skuld geskied regstreeks vanaf Adam na elke mens (met uitsondering van Jesus). (Wat die sondenatuur betref, dit erf ons van ons ouers; ons het dus die sondenatuur deur bemiddeling van ons ouers.)

Die tweede toerekening het aan die kruis gebeur. Aan die kruis is die mensdom se sonde aan Jesus Christus toegereken, d.w.s. dit is op sy rekening geplaas. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het God die sondes van die wêreld gevat en dit op Christus geplaas; die mensdom se sonde is op Jesus Christus se rekening toegereken (vgl. 1 Johannes 2:2). Dit is geprofeteer oor Christus in Jesaja 53:1-6 en die vervulling daarvan is opgeteken in 2 Korinthiërs 5:21 en 1 Petrus 2:24-25. Volgens 2 Korinthiërs 5:21a, het God “Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak … .”

Die derde groot toerekening is Christus se geregtigheid wat toegereken word aan die gelowige. Wanneer iemand in die evangelie van Jesus Christus glo, word die geregtigheid van Christus aan hom of haar toegereken. Anders gestel, die geregtigheid van Christus word toegereken op die gelowige se rekening, jy word as ‘geregtig gereken’ (Romeine 3:21-22; 10:4; Filippense 3:8-9). “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (2 Korinthiërs 5:21).

Wat is die gevolge van hierdie toerekenings vir ʼn gelowige?

Liggaamlike dood is die gevolg van die eerste toerekening, om ‘in Adam’ te wees. Noudat ʼn gelowige egter ‘in Christus’ is, sien hy of sy liggaamlike dood as ʼn manier om hierdie wêreld te verlaat en die hemel in te gaan. Wanneer ʼn gelowige sterf, is hy of sy gewaarborg van ʼn toekoms saam met God en ʼn opgestane en verheerlikte liggaam (1 Korinthiërs 15:50-57).

Die gelowige in Christus is nog nie ontslae van die sondige natuur nie, maar ons word die inwonende Heilige Gees gegee om ons te help om die sondige natuur te oorwin. Ongelowiges het nét die sondige natuur omdat hulle net ‘in Adam’ is; gelowiges het nóg hul sondige natuur (oorgeërf van ons ouers) maar ook ʼn nuwe natuur omdat ons ‘in Christus’ is. Daar is dus in die gelowige se lewe ʼn oorlog aan die gang tussen die weergebore natuur en die ou, sondige natuur (Romeine 7:15-25; Galásiërs 5:16-17). Die gelowige hoef nie sondige dade te pleeg nie (Romeine 6:1-8:13; 1 Johannes 1:1-2:2); ons moet die geestelike geveg voer teen die vlees, die duiwel en die wêreld.

Daar is mense wat sê dat gelowiges nie meer sondig nie, maar dit word deur Paulus weerlê in 1 Timótheüs 1:15 waar hy na homself verwys – in die teenwoordige tyd – as ‘die vernaamste’ sondaar. So is ook 1 Johannes 1:8-10 geskryf aan gelowiges wat steeds die sondige natuur het. As ons toegee aan ons sondige natuur en nie aan Christus gehoorsaam is nie, dan sondig ons. En dan? “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9). Let op die voornaamwoord “ons” – die apostel Johannes het homself ingesluit as ʼn sondaar wat sondes moes bely.

Gevolge wanneer gelowiges wel sondig

Wat gebeur egter wanneer ʼn gelowige in Christus persoonlike sondes pleeg? Die eerste gevolg is ʼn verlies van gemeenskap met God (1 Johannes 1:6). Hierdie gemeenskap kan herstel word deur middel van belydenis (1 Johannes 1:9).

ʼn Tweede gevolg is tugtiging, indien ʼn gelowige nie sy of haar sondes bely nie (1 Korinthiërs 11:32; Hebreërs 12:4-11).

ʼn Derde gevolg kan uitsluiting uit die plaaslike kerk wees (vgl. Matthéüs 18; 1 Korinthiërs 5:1-5).

ʼn Vierde gevolg kan liggaamlike dood wees (1 Korinthiërs 5:5; 11:28-32). As ʼn gelowige, selfs ná ʼn tydperk van tugtiging en uitsluiting, weier om sy of haar sonde te bely, kan liggaamlike dood vir so ʼn gelowige volg. Om te voorkom dat iemand in die eerste plek in hierdie afwaartse spiraal inbeweeg, moet ons onsself ondersoek en ons sondes bely, voordat ons gaan slaap en voordat ons deelneem aan die ordinansie van die Nagmaal (Efésiërs 4:26; 1 Korinthiërs 11:27-32).

Watter hulpmiddels is daar om sonde in ons lewens te voorkom?

Om sonde te voorkom, moet ons die Skrif bepeins (Psalm 119:11). Christus tree vir ons in (Johannes 17:15; Romeine 8:34) en die Heilige Gees woon in ons, en so het ons die mag om sonde te weerstaan (Johannes 7:37; Romeine 8:9). Ons moet in die lig van God se Woord wandel (1 Johannes 1:7).

Gelowiges in Christus sal volledige oorwinning oor sonde hê. Heiliges in die Kerkbedeling sal, wanneer ons ons verheerlikte liggame ontvang, geheel en al vry wees van sonde. Ons sal nie meer daartoe in staat wees om te sondig nie. Ek kan nie wag vir daardie dag van Jesus Christus nie.

———————————

In die laaste artikel in hierdie reeks oor hamartiologie, sal ons die onvergeeflike sonde bespreek.

Lees gerus die volledige artikel wat handel oor Wat die Bybel oor die sonde leer.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']