Wat leer die skape-en-bokke oordeel níé?

Wanneer sal die oordeel van Matteus 25:31-46 plaasvind? Wie gaan geoordeel word? As die basis vir hierdie oordeel berus op hoe ‘die geringstes van hierdie broeders van My’ behandel is, leer Mattteus 25:31-46 dat redding op grond van werke is? Verskaf Matteus 25:31-46 die basis vir ʼn ‘sosiale evangelie’?

Tydsberekening van hierdie oordeel

Kontekstueel is Matteus 25:31-46 deel van die Olyfberg predikasie (Mat 24-25). Die oordeel van die ‘skape en die bokke’ gaan kort ná die Verdrukkingstydperk geëindig het plaasvind, dit is kort ná Jesus se weerkoms aarde toe (sien Mat 24:29-30). Geen ongelowiges (geen kaf, geen onkruid en geen slegte visse) sal die Messiaanse koninkryk binnegaan wanneer dit aanvanklik deur die Seun van Dawid gevestig word nie (vgl. Mat 3:12; 13:36-43, 47-50).

Wie sal geoordeel word?

Slegs diegene wat die Verdrukkingstydperk fisies oorleef sal voor die Koning verskyn (Mat 25:31, 34). Drie groepe is betrokke, naamlik die skape, die bokke en ‘die geringstes van hierdie broeders van My’ (Mat 25:32-33, 40, 45). Die skape stel gelowiges voor wat die koninkryk met hulle fisiese, sterflike liggame sal binnegaan, terwyl die bokke die ongelowiges voorstel wat toegang tot die Messiaanse koninkryk geweier sal word (Mat 25:34-45). As die basis waarop hierdie oordeel gaan plaasvind die behandeling van ‘die geringstes van hierdie broeders van My’ is, wie is hulle?

‘Die geringstes van hierdie broeders van My’

Die Here Jesus sê dat wat julle vir ‘hierdie geringstes’ gedoen het, so het ‘julle dit aan My gedoen’ (Mat 25:40b). In Matteus 10:40-42 sê die Here eintlik dieselfde: vir soverre dit aan een van hierdie kleintjies gedoen is, is dit aan die Here gedoen. In Matteus 10 is hierdie ‘kleintjies’ dié wat die evangelie van die koninkryk verkondig.

Die ‘evangelie van die koninkryk’ word slegs verkondig wanneer die vestiging van die Messiaanse koninkryk naby is (Mat 3:2; 4:7; 10:7). Gedurende Christus se eerste koms het ‘hierdie geslag’ in Israel egter vir Jesus as die Messias verwerp en gevolglik is die oprigting van die Messiaanse koninkryk uitgestel. Volgens Matteus 23:39 móét ʼn toekomstige generasie Jode vir Jesus as die Messias aanvaar voordat Hy weer sal terugkeer aarde toe (vgl. Hos 5:15-6:3; Sag 12:10).

Die Messiaanse koninkryk sal gevestig word in terme van onvoorwaardelike verbondsbeloftes wat God aan Israel gemaak het. Omdat hierdie beloftes aan Israel behoort, moet die evangelie van die koninkryk deur Joodse boodskappers gedurende die Verdrukkingstydperk verkondig word soos wat hulle deur die komende Koning gemagtig sal wees om dit te doen. Volgens Scholtz (2014:5) mag dit verklaar waarom Matteus 10 so ʼn besonderse Joodse inslag het en ook die rede verskaf waarom die volgende keer wanneer die evangelie van die koninkryk weer verkondig gaan word, dit tydens die Verdrukkingstydperk sal wees (Mat 24:14). Latere openbaring verskaf meer inligting oor die identiteit van hierdie ‘broeders van My’: 144 000 Joodse mans sal die evangelie van die koninkryk verkondig (Open 7:1-8). Vroeër in Matteus het Jesus gesê dat ‘elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder (Mat 12:50), maar die ‘kleintjies’ van Matteus 10:42 en die ‘geringstes van hierdie broers van My’ (Matteus 25:40, 45) moet ten minste hierdie 144 000 Joodse evangeliste insluit wat tydens die Verdrukkingstydperk die evangelie van die koninkryk gaan verkondig.

Toepassing

Daar is ten minste twee redes hoekom mens baie versigtig moet wees om nie Matteus 25:31-46 op alle situasies en vir alle tye toepaslik te maak nie.

Eerstens, niemand word gered deur hulle dade nie, want verlossing is deur God se genade alleen deur geloof in Jesus Christus alleen. Matteus 25:31-46 leer nie dat verlossing deur werke is nie. Jou dade mag wys dat jy gered is, maar dit is nie die basis van jou redding nie. Diegene wat Christus se dissipels tydens die Verdrukkingstydperk goed behandel, veral tydens die Groot Verdrukking wanneer die Antichris oor die aarde sal regeer, sal duidelik hulle geloof in en verbintenis met die Here Jesus Christus wys.

Tweedens, Matteus 25:31-46 kan nie gebruik word om ʼn sosiale evangelie te regverdig nie. ʼn Sosiale evangelie sê dat ʼn Christen verskeie sosiale probleme móét aanspreek (soos armoede, swak voeding, onderwys vir almal) en ekonomiese gelykheid vir almal moet bewerkstellig. Soms word hierdie dinge beklemtoon terwyl die leerstellings van sonde, verlossing en die toekomstige koninkryk van God afgewater word. Tydens die Verdrukkingstydperk sal jy ʼn groot risiko neem en selfs jou lewe mag verloor as jy vir een van hierdie kleintjies net ʼn koue beker water gee. Dit sal egter die gelowige toegereken word asof dit vir die Here Jesus self gedoen is (Mat 10:40; 25:40). Mens kan egter nie onnadenkend Matteus 25:31-46 ekstrapoleer en toepaslik maak op alle situasies en vir alle tye nie. Nie net is die Verdrukkingstydperk uniek nie, maar Jesus sê self dat die Groot Verdrukking die ergste tydperk ooit sal wees (vgl. Mat 24:21). Vanselfsprekend kan mens nie hierdie unieke tydperk en toestande ekstrapoleer en dan normatief maak vir Christene te alle tye en vir alle situasies nie. Niemand sê jy moenie mense in nood help nie. Om egter Matteus 25:31-46 te gebruik as die basis vir ʼn ‘sosiale evangelie’ is nie goeie teologie nie.

Bron

Scholtz, J.J., 2014, ‘The kingdom of heaven and Matthew 10’, In die Skriflig 48(1), Art. #1782.

Volg ons op sosiale media: